Die paartjie het smoorverlief gelyk toe hulle op 27 Mei saam op die rooitapyt by die Mej. Suid-Afrika-kroningsaand in Times Square in Pretoria opdaag en net oë vir mekaar het.

Die nasionale skoonheidskompetisie vier vanjaar sy 60-jarige bestaan en die kroningsaand was omtrent ’n spog-affêre en ’n modefees.

Die gewese Mej. Wêreld Ro­lene Strauss was een van die skoonheidskompetisie se beoordelaars. Foto: Lubabalo Lesolle.

Nádine was een van die aand se gaskunstenaars.

Sy het Demi Lovato se lied Warrior gesing terwyl amper 40 vroue wat met die jare Mej. Suid-Afrika was op die verhoog gestap het.

Die gewese Mej. Wêreld Anneline Kriel (middel) en gewese Mej. Heelal Margaret Gardiner (regs) bewys skoonheid het niks met ouderdom te doen nie. Die aktrise Brümilda van Rensburg (links) en Anneline is al van hul studentedae af vriendinne en het saam op die rooitapyt gepryk. Foto: Lubabalo Lesolle.

Onder die skoonhede was Rolene Strauss (Mej. Wêreld 2014), Anneline Kriel (nou Bacon; Mej. Wêreld 1974), Penny Coelen-Rey (Mej. Wêreld 1958), Margaret Gardiner (Mej. Heelal 1978) en Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Heelal.

Die heersende Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, het die hele ent uit New York gekom om die glansaand by te woon. Foto: Lubabalo Lesolle.

Die nuutste skoonheid wat haar by dié pragvroue aangesluit het, is die Paarliet Tamaryn Green, wat die aand as die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon is.

Die mooi slimkop is ’n mediese student in haar finale jaar aan die Universiteit van Kaapstad.

Die nuwe Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green (regs), en die naaswenner, Thulisa Keyi. Foto: Lubabalo Lesolle.

Sy sal Suid-Afrika in die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig, terwyl Thulisa Keyi as Mej. Wêreld Suid-Afrika gekroon is en aan die Mej. Wêreld-kompetisie sal deelneem.