Dit was die vyfde keer in vier jaar dat Elizma Theron moes trek. Maar dié keer was dit die laaste keer.

Toe die sangeres en haar helikoptervlieënierman, Nico (39), verlede jaar die eerste keer in die dubbelverdiepinghuis instap, was dit soos met hul eerste ontmoeting: liefde met die eerste oogopslag. 

“Toe die huis in die mark kom en ons daarna kom kyk, het die huis net met ons gepráát. Ek en Nico het dadelik geweet: Hiér wil ons bly, en hiér gaan ons gelukkig wees,” vertel Elizma (36) oor die huis in ’n veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria, skaars 200 m van die huurhuis waar die paartjie en hul twee kinders, Eli-zé (5) en NJ (3), tot einde November gebly het.

Die gesin het in 2015, voor NJ se geboorte, Hartenbos toe getrek vir Nico se werk. Maar toe hy ’n jaar later ’n pos as verkoopsbestuurder in Johannesburg aanvaar, is hulle in 2016 weer terug Pretoria toe.

Daarna het hulle nog twee keer verhuis op soek na die perfekte woning vir hul gesin voor die gesellige nuwe huis hul hart gesteel het.

Toe die sangeres en haar helikoptervlieënierman, Nico , verlede jaar die eerste keer in die dubbelverdiepinghuis instap, was dit soos met hul eerste ontmoeting: liefde met die eerste oogopslag.

Met die intrapslag maak Elizma verskoning: “Hier’s nog báie werk om te doen!” Sy beduie na die eetkamer waar hul nuwe gesinsfoto’s nog opgehang moet word.

Maar op die oog af is alles hier reeds eksieperfeksie. 

Die huis lyk van buite af soos enige ander, maar hier binne het Elizma en Nico duidelik hul unieke stempel afgedruk – en dit laat ’n mens sprakeloos. 

Die eerste ding wat jou opval, is die reuseglaspaneel in die ruim voorportaal waarop die woorde “Grobbelaar-familie, sedert 2012” – die jaar waarin hulle getroud is – gegraveer is. Water loop teen die glas af tot in ’n poel.

“Daar was nie iets spesifieks wat ons aangetrek het nie,” sê Elizma oor die nuwe huis. “Dit was meer ’n geval van ons al twee wat net gevoel het dís die plek vir ons.”

Die mure, klerekas, pophuis en mat in verskeie skakerings van pienk maak dit Eli-zé se droomkamer. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy sê sy en Nico het net vier mure gekies wat soos húlle gevoel het en wat hulle nou met hul liefde vir mekaar en hul kinders kan vul.

“Voor ons ingetrek het, was dit net ’n huis; nou is dit ’n tuiste waar ons saam kan lag, huil, groei en liefhê.”

Sy kan nie een vertrek uitsonder as haar gunsteling nie, sê Elizma terwyl sy ons rondwys. “Ek is mal oor die hele huis.” 

Die ruim kombuis het reuse­glasvensters wat op die netjiese agtertuin met ’n swembad uitkyk, en die “fliekkamer” is enige fliekvlooi se droom: Dis in ’n tipiese teaterstyl toegerus, met ’n sagte leerbank met vier sitplekke en ’n springmielie- en spookasemmasjien op ’n tafeltjie in die hoek. 

Maar dis veral die twee kinderkamers op die boonste verdieping wat die oog vang. 

Eli-zé het beslis haar mamma se gene geërf! Sy geniet dit agter die mikrofoon op die verhogie in die hoek van haar kamer. Foto: Onkgopotse Koloti

Elizma en Nico het self dié kamers omskep volgens twee verskillende temas wat by hul spruite se persoonlikhede pas en het net ’n maand gehad om die werk af te handel.

Die plan was om alles in die geheim te doen sodat die finale produk vir die kinders ’n verrassing is.

“Omdat die huis so naby aan ons oue is, kon ons wegglip om aan die kamers te werk terwyl hulle gespeel of geslaap het of by die kleuterskool was,” vertel Elizma. 

Die verrassing was duidelik ’n groot sukses, en Eli-zé en NJ draf opgewonde vooruit toe Elizma ons hul kamers gaan wys. “My kamer eerste!” roep Eli-zé.

Dis ’n droomkamer vir ’n meisie: Die mure is pienk geverf met haar naam in wit letters teen die een muur. Daar is ’n pienk pophuis met miniatuurmeubels, en aan die houtraamwerk bo haar bed hang stringe wit en pienk rose. 

“Voor ons ingetrek het, was dit net ’n huis; nou is dit ’n tuiste waar ons saam kan lag, huil, groei en liefhê.”

Maar die grootste lekkerte is die verhogie wat in die een hoek van die vertrek ingerig is, kompleet met ’n klankstelsel en flikkerende ligte. 

Voor die verhoog staan drie stoeltjies in die vorm van skapies. Dit is hiér waar die res van die gesin sit wanneer Eli-zé vir hulle ’n vertoning lewer, verduidelik Elizma.

“Sy hou van enigiets kunstigs wat met sang, dans of toneelspel te doen het. Sy laat my so aan myself dink toe ek haar ouderdom was en met ’n hareborsel as mikrofoon in my hand voor die spieël ge-perform het!”

Dan wil NJ ongeduldig hê ons moet nou na sy kamer ook gaan kyk. 

Dié stel ’n safari-toneel voor. Die vloer is met kunsmatige gras uitgelê en teen die een muur is ’n yslike plakpapierprent van wilde diere. Rye groen blaartakke hang van die plafon af, en in die een hoek staan ’n palmboom en ’n kameelperd wat net-net langer as NJ is. 

NJ se kamer het ’n safari-tema, met ’n reuseplakkaat teen die muur wat die diereryk uitbeeld. Foto: Onkgopotse Koloti

“Hy is ’n buitemens en wilder as die wildtuin!” beskryf Elizma haar jongste. “Ons wou vir elkeen ’n ruimte skep waarin hulle kan rustig voel, hulself kan uitleef – ’n plek waar hulle groot kan droom in ’n omgewing waarvan hulle hou,” vertel sy. “Daardie reaksies, hul gesiggies, dit alles het dit die moeite werd gemaak. Oor en oor!” 

Dit was ’n bedrywige jaar vir haar, sê Elizma oor 2019. Benewens haar optredes en die ure op die pad was daar die herstelwerk aan die huis en die trekkery. 

Terwyl sy in- en uitgepak het, het sy sommer uitgegooi ook.

“ ’n Mens gaar so maklik dinge in jou huis op wat jy eintlik nooit gebruik nie. Ek het hierdie geleentheid sommer gebruik om daarvan ontslae te raak en dit aan liefdadigheidsorganisasies te skenk. Dit is nogal iets bevrydends om so op te ruim en skoon te maak!” 

Die jaar wat voorlê, hou groot opwinding in. Sy het ’n enkelsnit op pad en kan nie wag vir die Krone 7-konserte in Augustus in Kaapstad en Pretoria nie. 

Maar eers geniet sy net die rustige gesinstyd in haar nuwe droomhuis. 

’n Houtbed, plante en ’n sagte kameelperd rond die prentjie af. Foto: Onkgopotse Koloti

“ ’n Huis moet die plek wees waar jy veilig voel. Waar jy rus kom kry. Dís wat ek hier kry,” sê sy en beduie na die huis om haar. 

Die gesin het die Desembervakansie saam hier deurgebring en op Oukersaand en Kersdag saam met familie onder gazebo’s op die gras langs die swembad uitgespan. 

“Familie is vir my nie net belangrik nie...Dis dié belangrikste,” sê sy. 

“My kinders is nog klein; ek kan hulle elke aand toemaak en vir hulle ’n oorvloed drukkies en soentjies gee. Ek en Nico is nog hul helde. Ek waardeer hierdie tyd saam met hulle.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.