Klein Georgia Lyn het op 31 Maart haar opwagting gemaak. 

“My hart is uit my bors gehaal en in ’n ander klein mensie geplaas," het Graeme onlangs op Instagram laat hoor by 'n eerste foto van die jongste toevoeging tot hul gesin.

"Welkom by hierdie mal wêreld, Georgia. Ek sal altyd daar probeer wees om jou hand vas te hou, om jou vorentoe te trek, om jou op te hou, maar hopelik nooit terug te hou nie. Hoe gelukkig is ons! Baie dankie aan almal vir al die liefde en boodskappe. Ons dra dit aan haar oor met onophoudelike liefde en soene," skryf Graeme op Instagram. 

“Ek en Lindsey het albei van die naam Georgia gehou. Lyn was my ouma se naam en dis ’n tweede naam wat aan al die vroue aan my kant van die familie gegee is. Jack het weer Lindsey se oupa se tweede naam, Lawrence, gekry,” vertel Graeme aan Huisgenoot oor sy nuwe dogter se name. 

Graeme vertel dit gaan goed met ma en dogter. 

“Linds is 'n bietjie seer ná die operasie, maar mal daaroor om die kleintjie veilig by die huis te hê, en sy vaar goed met voedingstye. Dis asemrowend om te sien hoe maklik sy weer in die 'nuwe mamma'-skoene geklim het."

En die pa koer ook alte liefdevol oor sy nuwe dogtertjie. 

“Georgia is net te kosbaar. Sy is gesond en reeds in ’n goeie voedingsroetine, sy slaap en maak doek vuil, en dit gee ons sulke sarsies van drie ure om te slaap. Sy hou ook daarvan om ons tyd te steel, want sy wil vasgehou word. En sy is so klein; dus maak dit haar net ouliker,” sê Graeme, wat in Kaapstad woon. 

Georgia is een van vele babas wêreldwyd wat onder unieke omstandighede gebore is te midde van die coronavirus-pandemie. 

“Elke dag dat ons by die hospitaal was, het dit gevoel asof die regulasies en voorsorgmaatreëls rondom COVID-19 strenger word. Ons was basies heeltyd in ons kamer en kon ook glad nie vir Georgia uit die kamer neem nie, behalwe om haar te laat weeg. Baie hospitale laat nie meer pa's toe om in die kraamsaal of selfs die hospitaal te wees nie, so ek beskou myself as baie gelukkig om elke oomblik te kon deel,” vertel Graeme. 

“Om tydens lockdown in die hospitaal te moes wees en daarna huis toe te kom na ons voortgesette isolasie was baie anders as toe Jack gebore is. Die grootste verskil is ook natuurlik dat Lindsey se familie uit die Verenigde Koninkryk en my familie nie vir Georgia kan ontmoet nie. Georgia het reeds haar eie identiteit; 'n mens kan beslis die fundamentele vroulike energie voel. En soos enige ouer van twee kinders seker sal kan vertel, om ook vir Jack deur die ervaring te help, is baie anders en 'n bietjie uitdagend. Ons huis lyk soos ’n crèche, maar dis ook baie belonend,” voeg hy by. 

Jack is reeds baie lief vir sy nuwe sussie. 

“Hy is baie sag en liefdevol met haar, en hy ding glad nie mee vir aandag nie, wat nogal vreemd is vir ’n driejarige. Ek is baie trots op hom, want dit maak die aanpassing vir ons makliker en om hulle twee saam te sien is ongetwyfeld een van die wonderlikste en mees emosionele dele van die reis sover,” vertel Graeme oor sy oudste.  

Graeme en Lindsey maak ook reg om kansel toe te gaan. Die paartjie het vroeër vanjaar hul verlowing aangekondig. 

Hulle het mekaar in 2013 ontmoet toe hulle dansmaats in die TV-danskompetisie Strictly Come Dancing was. 

“Ons is sedert die tweede week van die kompetisie ’n paartjie. Ek blameer die rumba,” het Graeme vroeër vanjaar aan Huisgenoot vertel. 

Hulle is van plan om in Junie volgende jaar in die Verenigde Koninkryk te trou aangesien die meeste van Lindsey se familie daar woon. Hulle beplan ook om daarna ’n trouseremonie in Suid-Afrika te hê.