Imari het Donderdag die nuus op Instagram gedeel dat sy Dinsdag die lewe geskenk het aan hul tweede kind. Die jongste toevoeging tot die Du Plessis-huishouding heet Zoey. 

Faf en Imari se eersteling, Amélie, is in 2017 gebore. 

 “So . . . Ons het dit toe nooit gemaak vir ons covid-toets Dinsdag nie. 

 “Ons babas is altyd haastig om hul verskyning te maak. Dit was behoorlik ’n gevoel van déjà vu om ’n hospitaaljurk aan te trek terwyl ons op dieselfde tyd vorms onderteken en ek vir 'n operasie voorberei word," skryf Imari. 

 “Welkom in ons wêreld, Zoey du Plessis. Jy vat toe jou pa se nommer 18 as jou dag. Ons is so lief vir jou. Liefde in die tyd van corona,” skryf Imari op Instagram by ’n foto van haar en Faf in die hospitaal.

 Zoey is gebore net ’n maand nadat Imari verklap het sy verwag ’n dogtertjie. 

 Imari se volgelinge het vinnig gereageer met gelukwensings aan die paartjie nadat sy die nuus van hul kleinding se koms aangekondig het. 

 “Baie geluk julle,” het Sue Duminy, wat met Faf se voormalige spanmaat JP Duminy getroud is, laat hoor. 

Die Protea-bouler Tabraiz Shamsi se vrou, Khadija, het geskryf: “Geluk mooie Imari. Dit is wonderlik. Kan nie wag om haar te ontmoet nie.”

 “Mag sy grootword as ’n jong vrou van wysheid, grasie en krag wat haar generasie sal beïnvloed,” het een van Imari se volgelinge gesê. 

 Die amptelike aanhangersklub van die Chennai Super Kings-krieketspan, vir wie Faf in die Indiese Premierliga speel, het ook in die vreugde gedeel en geel hartjies in die kommentaarafdeling gedeel na aanleiding van dié span se geel uitrustings. 

 Die span se Instagram-blad het ook later Imari se foto gedeel. 

 “Geluk aan die ‘fafulous’ ouers,” staan daar grappenderwys by hul inskrywing.  

“Hiermee verwelkom ons Zoey by ons span!” 

Krieket Suid-Afrika het ook die Du Plessis-gesin op Facebook gelukgewens.  

Die beheerliggaam het vroeër aangekondig dat Faf homself onttrek het van die kultuurkamp wat tans deur die Protea-span bygewoon word in Skukuza, Mpumalanga, ter voorbereiding van klein Zoey se geboorte.