“Ek voel wonderlik; so vol dankbaarheid en liefde. Ek het werklik die beste dag van my lewe gehad,” het Irene-Louise (26) ná die troue aan Huisgenoot gesê.

Dit is omtrent ’n groot week vir die blonde sangeres aangesien haar nuwe enkelsnit ook hierdie week vrygestel word. Die oorwurm Is Jy Spyt? is vir haar deur Riana Nel geskryf, en hoewel die liedjie oor ’n gekompliseerde liefdesverhouding gaan, kan Irene-Louise nie gelukkiger wees nie. 

Foto: JC Crafford.

Sy en Nick (36) het Maandag op hul wittebrood na die Pilanesberg in Noordwes vertrek. “Dit het nog nie als ingesink nie, ek weet nie hoe ek so gelukkig geraak het nie. Ek het die beste man gekry, en hy is alles waarvoor ek gebid het,” vertel sy.

Foto: JC Crafford.

Foto: Instagram.

Die frase #YouMeDuPreez het by talle bekendes se foto's van die troue op Instagram verskyn – ’n sinspeling op die Amerikaanse fliek You, Me and Dupree, waarin Owen Wilson en Kate Hudson te sien is.

Bekendes soos Binnelanders se Hykie Berg en die sanger Pieter Koen en sy vrou, Lotie, was op die gastelys. Die aktrises Je-ani Swiegelaar en Anlia van Rensburg en die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het ook die spesiale dag saam met Irene-Louise gevier.

Pieter en Lotie Koen. Foto: Verskaf.
Louis van Wyk en Hykie Berg. Foto: Verskaf.

Leandie du Randt Bosch en Irene-Louise. Foto: Verskaf.

Die aktrise Leandie du Randt Bosch en haar man, die sanger Bouwer Bosch, het ook by die troue gestraal. Leandie, wat al oor die 100 vertonings saam met Irene-Louise gedoen het, sê dit was baie spesiaal om te sien hoe haar drome waar word. “Irene is regtig soos ’n prinses in ’n feëverhaal,” vertel Leandie oor haar vriendin se Disney-tema by die troue.

“Sy inspireer ander mense om hulself te wees, positief te bly en dankbaar te wees.” 

Irene-Louise en haar pa, Louis. Foto: Verskaf.

Irene-Louise se pa, die musiekpromotor Louis van Wyk, sê dit was baie emosioneel om haar kansel toe te vergesel. “My pad wat ek alleen moes stap met albei my kinders was nie maklik nie. Ek het gevoel of ek ’n persoonlike doel bereik het om haar nou te kan los om vorentoe haar lewe te bou,” sê Louis.

Irene-Louise se ma, die gospelsangeres Irene van Wyk, is in 2009 in ’n motorongeluk buite Pretoria oorlede. “Sy het ’n stukkie van haar ma se trourok in haar eie rok ingewerk en ’n foto van haar ma heeldag by haar gehad,” vertel Louis.

Irene-Louise en ’n foto van haar ma, Irene. Foto: Verskaf.

“Ek is baie dankbaar en ’n baie trotse pa. Ek weet sy is nou in goeie hande en ons almal bid vir seën oor die huwelik,” sê hy.

Irene-Louise is in die wolke. “Alles op die dag was natuurlik perfek, maar ek het net weer besef hoe gelukkig ek is en dat ek die regte besluit geneem het,” sê sy.

“Ek sien uit na wat die toekoms inhou, en as die Here ons seën met kinders, sien ek baie uit om te sien wat ’n wonderlike pa Nick sal wees,” vertel Irene-Louise.