Vir klein Joia-Belle (2) is haar pa haar hele wêreld en die belangrikste mens op aarde. 

Geen wonder die Springbokrugbyspeler Franco Mostert se dogtertjie kon nie haar opgewondenheid beteuel toe sy hom op televisie sien nie.

Franco se vrou, Juan-Ri Mostert, sê klein Joia-Belle aanbid die grond waarop haar pa loop. Sy het onlangs dié kostelike video gedeel waarin hul oudste dogtertjie opgewonde na hom roep toe hy as 'n lid van die Springbokspan voorgestel is. 

“Biba, Biba, Yeah, Biba! Jippee! Ons Biba!” hoor jy haar roep in 'n video wat aanhangers se hart laat smelt het. 

Biba is ’n bynaam wat Juan-Ri vir Franco het en wat sy haar eie gemaak het. 

Die Mosterts woon in Engeland waar Franco vir Gloucester speel, maar Juan-Ri is tans in Suid-Afrika om onder meer die jongste lid van hul gesin – klein Jemi-Mílja wat drie maande gelede gebore is – se geboortesertifikaat te laat registreer en by familie te kuier. 

“Dit is ’n droom wat waar geword het,” vertel Juan-Ri kort nadat Franco saam met die res van sy spanmaats in die vliegtuig geklim het om vir die Wêreldbeker na Japan te vlieg.

“Ons was saam op skool en ek het altyd geweet hy gaan eendag vir die Springbokke speel. Ons is baie trots op hom.”

Franco is ’n wonderlike pa, al moet hy uit die aard van sy rugbyloopbaan dikwels reis, vertel Juan-Ri.

“Hy is regtig amazing. Hy doen so baie vir ons en probeer altyd om ons saam te neem as hy êrens ’n oefenkamp het. My een vriendin het eendag iets gesê wat so waar is: Franco kan ’n duisend kilometer ver wees, maar sy hart is altyd by ons.”

Juan-Ri sê sy probeer om die kinders gereeld saam te neem rugbywedstryde toe en dit is dan wanneer 'n mens vir Joia-Belle die hardste sal hoor skree. 

Sodra Jemi-Mílja se geboortesertifikaat gekom het, sal Juan-Ri aansoek doen vir Japannese visums en sal hulle vlieg om Franco te gaan bystaan.

“Ek gaan dit nie misloop nie,” verseker 'n trotse Juan-Ri.