Francois (38), wat deesdae ook op die kassie te sien is as 'n beoordelaar op die sangkompetisiereeks The Voice South Africa, het met sy dogter, Alex, se geboorte haar naam op sy bors laat tatoeër. Nou is haar gesig ook deel van haar pa se lyfkuns. 

Die jongste tatoe is byna twee weke gelede aangebring en dit het heelwat al genees, vertel hy. "’n Goeie vriend van Johannesburg was in Kaapstad en ek het die mees onlangse foto van Alex geneem wat ek gedink het oulik is, en dit laat doen,” vertel hy.

Die sanger het omtrent reaksie uitgelok toe hy die eindresultaat van sy "vars ink" in die sosiale media gedeel het. By die kiekie het hy geskryf: "My babe is op my vir altyd!" Die foto het sowat 3 700 likes op Instagram ontvang.

Nog bekendes wat met tatoes of huldeblyke aan hul kleingoed spog, sluit in die sangeres en ma van drie Karlien Van Jaarsveld (33) en die model Candice Boucher. Karlien het verlede jaar 'n tatoe van 'n blom vir haar jongste kind, Die 18 maande oue Elah, gekry. 

Die tatoeëermerk met Elah se naam. Foto: Instagram

Aan haar linkerpols is haar dogtertjie Evah se naam getatoeëer, saam met die datum, 15 Januarie 2015, die dag waarop sy haar weens ’n miskraam verloor het.

View this post on Instagram

Tired.... this weekend... joh! Dankie KAAPSTAD. Dit was lekke ????

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Candice (34), wat 'n jaar oue seuntjie, Wolfe, by haar lewensmaat, die Pasella-aanbieder Paul Rothmann (41) het, spog ook met 'n tatoe van 'n wolf op haar linkerarm. 

"Ek dink dis belangrik om tatoes te kry van goed wat belangrik is aan jou,” vertel Francois. “My dogtertjie gaan vir die res van haar en my lewe deel wees van my. Nou kan ek haar oral saam met my neem,” vertel hy. 

Die Kaapse sanger meen Alex, wat in Maart met haar pa op Huisgenoot se voorblad gepryk het, is heelwat van ‘n ekstrovert, 'n bietjie meer as wat hy is, skerts hy. “Alex is die snaakste. Ek noem haar eintlik die ‘kleuter komediant’,” vertel Francois oor sy kleinding. 

View this post on Instagram

My other valentine ?? #alexlila

A post shared by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Pa en dogter het 'n hegte band en is eintlik lekker "tjommies", vertel Francois. Hy neem die kleinding vir swemlesse en hulle spandeer baie tyd saam, vertel hy. Francois het 'n bedrywige skedule en sy werk as afrigter op The Voice SA is vir hom "cool" verby.

“Ek geniet dit baie. Die beste deel daarvan is om met verskillende Suid-Afrikaanse musikante wat nie aldag oor my pad sal kom nie, te werk.”

Vir Paasnaweek - sy eerste naweek af in 'n ruk - gaan hy wel tyd met sy vrou, Lauren (35), en klein Alex spandeer.

"Ons gaan bietjie uit die suburbs kom en Hermanus toe gaan vir die naweek," sê hy opgewonde.