Maar anders as hul karakters in dié kykNET-regsdrama is die akteurspaar Cintaine Schutte (31) en Carel Nel (33) in die regte lewe op pad kansel toe.

Die paartjie het Maandag, op 11 September, gedurende ’n romantiese piekniek op Leeukop in Kaapstad verloof geraak.

“Hy het begin met die woorde: ‘Om te dink sewe jaar gelede het ek jou die kys op Paternoster gevra en hier staan ons nou. Ek is baie lief vir jou en ek moes hierdie al lankal gedoen het,’” vertel Cintaine.

“Hy het nog dinge daarna gesê, maar alles het ’n bietjie waserig geraak toe hy op sy knieë sak en ek die pragtige ring sien. Ek het sommer van vreugde begin huil. Hy moes in 'n stadium stop en vra: ’Het jy nou ja gesê?’ want hy kon nie my antwoord deur my trane hoor nie.”

Die verliefde paartjie vier die groot oomblik.
Die akteurspaartjie Carel Nel en Cintaine Schutte pas nadat hulle verloof geword het.

Hulle het heel eerste al hul geliefdes oor die blye nuus ingelig. 

“Leeukop is my gunstelingberg en is baie spesiaal vir my. Toe Carel my vra om met hom te trou was die son besig om oor die see te sak en dit was regtig baie mooi.”

Sy het nie verwag dat hy die jawoord gaan vra nie. “Hy was verskriklik op sy senuwees toe hy my by die berg opvat en die piekniekmandjie uitpak, maar ek het nie veel daarvan gemaak nie. Dit was immers ons sewe jaar anniversary, wat op sy eie spesiaal was,” verduidelik Cintaine.

Haar ring is deur Daneel Diamonds Manufacturers gemaak. Dit bestaan uit ’n enkele solitêrsteen met 'n band van haar ma, Hesté, se diamante rondom.

"Dis spesiaal dat ek ook iets van my ma dra. Carel het soveel moeite gedoen met die ring. Sy styl is so smaakvol en presies waarvan ek hou. 'n Mens kan sien daar is liefde, moeite en baie dinkwerk ingesit.”

View this post on Instagram

En toe sê ek JA! ?

A post shared by Cintaine Schutte (@cintaineschutte) on

Cintaine repeteer tans vir Nico Scheepers se drama Huishou wat in Oktober op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom vertoon word. Sy speel teenoor Nadia Valvekens (voorheen Pippa in Binnelanders) en vervaardig ook die stuk. 

Al is sy en Carel tans baie bedrywig, beplan hulle om binnekort trouplanne te begin maak.

“Dis baie opwindend, maar vir nou geniet ons eers die nuwe gevoel en loop ons nog op die wolke.”