Vir haar is elke droom bewaarheid: ’n beeldskone dogtertjie met ’n lagmondjie, ’n ouer boetie wat alles vir sy sussie sal doen en ’n sprokieslewe saam met die man van haar drome, die akteur Werner Coetser.

“Ek kyk soms na my lewe en wonder hoe dit gebeur het dat ek so gelukkig is,” vertel Marijke, veral bekend vir haar rol as Maryke de Villiers in Getroud met rugby.

Die aktrise het die naweek haar kombuistee in die O’Gallito-restaurant in Pretoria gehou. Die geleentheid is deur Werner se suster, Zelmarie Louw, gereël.

Marijke en Werner
Van links is Anna-Marie Coetser, Werner se ma, Layla en Marijke en Marieta Maree, Marijke se ma. Foto: Verskaf

Die tema vir die kombuistee, vertel Marijke aan Huisgenoot, het herinner aan haar verhouding met Werner: liefde in eenvoud – en sonder fieterjasies.

“Ek en Zelmarie het ’n wonderlike verhouding. Ons voel reeds soos sussies – selfs al sal sy eintlik eers ná die troue my skoonsus wees. Sy is ’n wonderlike mens en ons kom ongelooflik goed oor die weg,” sê Marijke.

Zelmarie het juis ook Werner en Marijke se ooievaarstee in Julie verlede jaar gehou. Toe was die paartjie se baba, klein Layla, nog nie gebore nie.

“Ons het sommer net ’n heerlike ontbyt geëet wat Zelmarie vooraf gereël het. En natuurlik ’n lekker wyntjie en wonderlike geselskap. Ons het dit eenvoudig gehou.” 

Marijke en Werner
Marijke van der Westhuizen het haar kombuistee die afgelope naweek in Pretoria gehou. Foto: Verskaf
Marijke en Werner
Die aktrise tel nou die dae af tot haar groot dag. Foto: Verskaf

Die geleentheid was net vir Marijke en Werner se naastes. Haar ma, Marieta Maree, en Werner se ma, Anna-Marie Coetser, was albei daar.

Marijke vertel sy tel nou die dae af tot haar Vrystaatse troue met Werner, ook bekend vir sy rol as Blitz in kykNET se Getroud met rugby.

“Of dalk moet ek dit so stel: Ek wil net hê die dag moet nou kom. Ek is regtig so opgewonde, ek kan skaars wag,” sê sy.

Marijke en Werner
Marijke is dolgelukkig. Sy sê sy het alles waaroor sy nog altyd gedroom het. Foto: Verskaf
Marijke en Werner
Werner saam met klein Layla en Juwan. Foto: Verskaf

Klein Layla is Donderdag (5 Maart) sewe maande oud. Die aktrise sê hul kleinding is reeds ’n regte klein “performertjie”. Layla en Juwan, Marijke se seun uit ’n vorige huwelik, gaan albei ’n belangrike rol in haar en Werner se groot dag speel, vertel sy.

“Sy het die mooiste persoonlikheid – liefdevol en dierbaar en klaar vol dingetjies. Dalk is die verhoog nog eendag haar voorland. En sy en Juwan is werklik onafskeidbaar. Dis so mooi om te ervaar.” 

En ná die troue – waarna sien hulle uit? 

“Om net by mekaar te wees; gelukkig en tevrede.”