Sedertdien gaan Layla vandat sy vyf weke oud is gereeld saam met haar ouers werk toe. 

“Layla was net vyf weke oud toe ek weer begin werk het. Gelukkig laat die Getroud met rugby-bestuur dit toe dat sy saam kan gaan en het hulle ’n babakamer daar ingerig,” vertel Marijke (36) aan Huisgenoot. 

Dit is vir die aktrise lekker om terug te wees op die stel. 

“Ek is versot op my werk, maar dit bly ’n uitdaging om woorde te leer met ’n baba in die huis.” Tog erken sy dat Layla dinge op ’n goeie manier kom verander het.  

Aangesien hul karakters in die sepie, Blitz en Marijke, selde tonele deel, los sy en Werner (31) mekaar af om na Layla te kyk. 

Volgens Marijke was dit aan die begin ’n uitdaging om die kleinding op die stel te hê.

“Dit was vir my bitter moeilik om die eerste paar dae te fokus, want ek het geweet my baba is naby en ek moes in karakter klim,” vertel sy.

Gelukkig was sy by haar pa en dit het haar ’n bietjie troos gebring, sê die aktrise. 

“Daar is ook soveel gewillige hande op die stel wat net wil help. Sy word deur almal by Getroud met rugby grootgemaak,” voeg sy by. 

Layla is al drie maande oud. Kyk 'n mens na die foto’s wat haar ouers in die sosiale media deel, is dit duidelik hulle en ouboet Juwan (8) is versot op haar. 

“Hierdie drie maande het verby gevlieg. Dit voel soos gister dat ons haar huis toe gebring het van die hospitaal af,” sê die aktrise. 

Sy geniet ook elke oomblik met haar prinsessie, sê Marijke. “Ek het nog altyd daarvan gedroom om ’n dogtertjie te hê. Ek is mal daaroor om haar met mooi klere en kopbande op te dress.”