Hul dogtertjie is Vrydagoggend om 05:20 gebore by die Vergelegen Medi-Kliniek in Somerset-Wes en het 4, 04 kg geweeg.

Aletté het die opwindende nuus met haar 29 800 Instagram-volgelinge gedeel. 

“Dit was vinnig! Dit was pynlik! Dit was bonatuurlik!  Ons het 'n dogter ... 'Hallo wêreld!'. Sy is perfek en ons is ongelooflik dankbaar teenoor God en almal wat vir ons gebid het, ons ondersteun het en ons net lief gehad het gedurende hierdie tyd,” het sy geskryf. 

Klein Alannah het net twee weke voor haar ma se 40ste verjaardag haar opwagting gemaak. 

Die paartjie het reeds drie seuntjies, Lian (9), Simeon (7) en Reuben (5). 

Aletté het verlede jaar aangekondig dat sy weer ma gaan word en dat hul dogtertjie Alannah Elize Winckler gaan heet. 

Die eerste twee letters van hul dogtertjie se naam kom van Aletté se naam en die laaste gedeelte is van Aletté se ma, Hanna, se naam, net agterstevoor geskryf. 

Hul dogtertjie se tweede naam is geïnspireer deur Heinz se ma, wat Engela Elizabeth heet.

“Alle oumas en haar mamma is gedek met die benaming van dié een,” het Aletté destyds oor die spesiale naam vertel.

“Alannah het baie betekenisse, maar wat uitstaan is little rock, precious child, beautiful en joyful,” het sy opgewonde vertel. 

Volgens Aletté was haar swangerskappe oor die algemeen maklik, maar dié een was makliker omdat sy werklik hard daaraan gewerk het om gesond te wees en eet. “Daarom het ek bitter min gewig aangesit in vergelyking met die manne.” 

Baie geluk julle!