Dis byna slaaptyd en jy kan sien die kleingoed se gô is uit, maar die woelige tweeling se ma bly koel en kalm nes dit ’n koninklike betaam.

Ja, ons is hiér tydens dié intieme oomblik tussen die wêreldberoemde ma en haar oulike spruite – in die hartjie van Monaco en in die huishouding van prinses Charlene. Ons kuier in haar pas opgeknapte kantoor in die Prins Se Paleis, en selfs toe ’n klein chihuahua op die nuwe mat piepie, bring dit haar nie van stryk nie.

“Ag, dis oukei, kom hier, Harley,” lag Haar Deurlugtige Hoogheid en gaan op ’n luukse wit fluweelrusbank sit. Honde en kinders klouter op die kussings langs haar en almal soek tegelyk haar aandag, maar die prinses bly rustig.

Foto: Misha Jordaan
Prinses Charlene by haar kinders, prins Jacques en prinses Gabriella. Foto: Misha Jordaan

Geklee in ’n sjiek wynrooi wolpakkie en bleek Louis Vuitton-hakskoene straal sy grasie en glans uit, maar agter die elegante uiterlike is sy plat-op-die-aarde en vriendelik en dring daarop aan dat ons haar “Charlene” noem terwyl ons gesels.

Die 41-jarige skoonheid van Benoni het haar paleisdeur kort voor die Kerstyd vir ons oopgemaak, want, soos sy dit stel: “Dis omtrent tyd dat ek Huisgenoot persoonlik nooi om by my te kom kuier.”

En watter tyd is dan nou beter as die feestyd wanneer sy huis toe, na Suid-Afrika, verlang en aan haar eie mense dink. “Ek is bevoorreg om hierdie lewe te lei, maar ek mis my familie en vriende in Suid-Afrika en ek raak hartseer dat ek nie altyd daar kan wees vir hulle nie,” sê sy.

Sy het onlangs twee “hegte vriende” tuis verloor, sê sy. “Hulle is 10 dae uitmekaar oorlede. Dit was ongelooflik pynlik.”

Haar pa, Michael Wittstock (73), het boonop gesondheidprobleme gehad en moes ’n rugoperasie ondergaan. “Ek het beslis vanjaar ’n bietjie van ’n laagtepunt beleef. Mense sê so maklik: ‘Ag, hoekom glimlag sy nie op foto’s nie?’ Wel, dis soms moeilik om te glimlag. Mense weet nie wat agter die skerms aangaan nie.”

Genadiglik kry sy tonne liefde en steun van haar man van agt jaar, prins Albert (61), asook hul blondekoptweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, wat op 10 Desember vyf geword het.

Foto: Misha Jordaan
Foto: Misha Jordaan

“Ja, dis uitputtend,” erken sy oor om ’n tweeling groot te maak, maar voeg by: “Maar hulle gee my baie krag.” Sy trek die tweetjies nader en gee elkeen ’n drukkie.

Op haar beurt sal sy “alles en enigiets doen om hulle te beskerm en leiding te gee”, vertel sy.

Charlene vertel sy en Albert bring dikwels tyd weg van mekaar deur weens hul druk werkprogram; daarom sien die gesin daarna uit om in die Kerstyd gehaltetyd saam deur te bring.

En wat pryk boaan die tweeling se wenslysie vir Kersvader? Gabriella, duidelik die ekstrovert van die twee, laat hoor dadelik: “Slym en ’n pop!”

Jacques, verdiep in ’n selfoonspeletjie, is meer swygsaam.

Foto: Misha Jordaan
Gabriella gee hul chihuahua Puppy ’n drukkie. Foto: Misha Jordaan

“Sonic the Hedgehog,” laat val hy eindelik. Hul antwoorde is verfrissend. Twee kinders wat in een van die weelderigste paleise op aarde woon, maar hul geskenklys vir Kersfees lyk soos dié van miljoene ander kinders van oor die wêreld.

Die Prins Se Paleis is alles wat jy verwag dit moet wees. Die 732 jaar oue klipgebou, omring deur grasperke wat perfek versorg is, staan op ’n heuwel wat uitkyk op die prinsdom wat lank reeds as die speelplek van Europa se rykes en beroemdes bekend is.

Terwyl ons die paleis binnegelei word, betree ons ’n geplaveide binnehof met mure oortrek met eeue oue fresko’s. ’n Indrukwekkende trap neem ons eers tot by ’n balkon en dan, ’n entjie verder weg, die kantore. Ons stap verby ’n swierige vertrek met kandelare en portrette van eertydse Grimaldi-prinse en hoor dis die troonkamer – hoewel daar nie vandag ’n troon is nie.

Dié word net met ’n kroningsplegtigheid afgestof en uitgehaal, wat eers weer iewers in toekoms sal wees vir die volgende aanspraakmaker op die troon: prins Jacques. Dié kleinding met sy Afrika-bloed sal sy pa eendag as die hoof van Monaco opvolg.

Foto: Misha Jordaan
Die tweeling is lief vir selfoonspeletjies. Foto: Misha Jordaan

Dis moeilik om te glo ek is werklik hier. Toe ek hoor Huisgenoot is deur die prinses self na die paleis genooi, was dit byna onwerklik; te goed om waar te wees.

Maar toe ’n amptelike uitnodiging van haar kantoor opdaag, het dit begin insink. Nou is ek sowaar in die paleis waaroor ek al so baie gehoor en gelees het. En ek sien self die Middellandse See wat in die verte skitter en die miljoenêrs se seiljagte wat in die hawe dobber.

Met vierings vir Monaco-dag aan die gang tydens ons besoek – elke jaar op 19 November vier die prinsdom hul nasionale dag – is die paleis met blomrangskikkings oortrek, en ek merk proteas tussenin op. Is dit haar invloed?

“Ja, proteas is my gunstelingblomme,” sê Charlene. “Ek het hulle altyd om my. Wanneer ek af voel of na my land van herkoms verlang, kyk ek na die blomme en onthou wat hulle vir my beteken: moed, hoop en om nooit moed op te gee nie.”

Foto: Misha Jordaan
Prinses Charlene. Foto: Misha Jordaan

Haar patriotisme loop so hoog soos toe sy destyds lid was van die Suid-Afrikaanse swemspan op 2000 se Olimpiese Spele. Sy vertel hoe sy tydens vanjaar se Wêreldbekerrugbytoernooi byna elke dag haar “velskoene en Boktrui gedra het”.

Hoewel sy nie Japan toe kon gaan om te kyk hoe Siya Kolisi en die Bokke Engeland in die eindstryd klop nie, was Albert en die tweeling daar in die stadion in Jokohama. Sy draai na Gabriella – of Bella, soos sy haar noem – en vra wie die toernooi gewen het.

“The Springboks!” laat die oulike krulkoppie hoor. “Mooi so,” sê haar ma.

Dit was vir Charlene ’n trotse oomblik toe Siya die Webb Ellis-trofee omhoog hou. “Omdat ek self ’n sportvrou is, weet ek watter uitdagings hulle moes deurmaak.”

Selfs as die Bokke vroeg in die toernooi uitgeval het, sou sy hulle gesteun het, sê sy.

Foto: Misha Jordaan
“Wanneer ek af voel of na my land van herkoms verlang, kyk ek na die proteas,” sê prinses Charlene. Foto: Misha Jordaan

“Wanneer mense moedeloos raak en hul Boktruie uittrek, trek ek nog een aan,” sê sy met haar grys oë wat glinster.

Sy swem nog, maar “net wanneer ek ’n kans kry”. Sy geniet dit ook om te gaan stap en hou van skepbord en waterfiets ry, ’n fietsagtige watervaartuig wat jy aandryf deur dit te trap. Een van haar gunstelinggeleenthede is die jaarlikse Water Bike-uitdaging, ’n 21 km-wedren van Nice na Monaco ter ondersteuning van haar Prinses Charlene-stigting.

Volgende jaar gaan ’n paar Springbok-rugbyspelers aan dié uitdaging deelneem, verklap sy. Nog iets op haar 2020-doenlysie is ’n besoek aan Suid-Afrika om te fokus op sake na aan haar hart, soos waterveiligheid vir kinders en natuurbewaring. Charlene is ’n ambassadeur vir die bedreigde witleeubevolking en glo “geblikte leeujag moet onwettig verklaar word”.

Foto: Misha Jordaan
Prinses Charlene. Foto: Misha Jordaan

Sy is ook by die beskerming van wildehonde betrokke. “Net 500 wildehonde is in Suid-Afrika oor,” sê sy. “Mense weet van die renoster en olifant, maar wildehonde is ook deel van die ekostelsel en op die randjie van uitwissing.” Omdat wildehonde vee jag, word hulle soms deur boere geskiet of vergiftig, sê sy.

“Die belangrikste is om met die boere saam te werk, en die honde is nou met opspoorkrae toegerus.” Die prinses het 11 wildehonde in ’n reservaat in Suid-Afrika “aangeneem”, ’n getal wat sedertdien “tot 22 gegroei” het. “Ons het nou klein hondjies,” sê sy trots. “Ek kry daagliks nuus oor hulle.”

Nog ’n hoogtepunt vanjaar was toe haar tweeling in September met grootskool begin het. “Dit gaan goed tot dusver,” sê hul ma. “Hulle hou van skool, hulle staan soggens op en kan nie wag om te gaan nie. Hulle het baie vriende gemaak.”

Het hulle ooit soos ander kinders speelafsprake met maatjies by die paleis?

Foto: Misha Jordaan
Die paleis is omring deur grasperke wat perfek ver­sorg is. Foto: Misha Jordaan

“Ja,” sê sy en lag. En met die reusagtige tuine, ’n swembad en oorgenoeg ruimte om rond te hardloop is daardie speeltyd waarskynlik groot pret.

Die tweeling swem en doen gimnastiek as buitemuurse aktiwiteite, vertel Charlene, maar sê dan vinnig sy gaan hulle nie druk om aan enigiets deel te neem nie. “Ons sal kyk hoe dit ontwikkel, maar ek wil hê hulle moet ’n lewe hê. Dis vir my moeilik om te glo ek was net drie jaar ouer as wat hulle nou is toe ek vir die Olimpiese Spele begin oefen het. Ek het op agt jaar 10 km per dag geswem.”

Ondanks hul besige programme is sy en Albert betrokke ouers.

“Albert is baie behulpsaam en doen dinge saam met die kinders,” sê sy. Die prins praat Frans en Engels met Gabriella en Jacques en die kinders is ook tweetalig – nes Charlene.

Die prinses het aanvanklik gesukkel om Frans te bemeester, maar is nou vlot daarin.

Sy verkies om Engels, haar huistaal, met die kinders te praat (en ja, haar Suid-Afrikaanse aksent is nog so opmerklik soos altyd).

Sy sê die tweeling is “versot” op hul niggie en nefie in Suid-Afrika. Aiva (3) en Raigen (6) is die kinders van haar jonger broer, Sean (36), en sy vrou, Chantell Wittstock (32).

Hulle woon in Benoni, waar Charlene se pa en ma, Lynette (60), ook nog woon. Sy en Albert het vroeër vanjaar die tweeling vir die eerste keer Suid-Afrika toe geneem waar hulle hul eerste safari ervaar en ’n tradisionele Spur-uitstappie gehad het.

Oor Kersfees sluit albei Charlene se broers en hul gesinne gewoonlik by haar in die paleis aan. Haar ouer broer, Gareth (37), wat vir haar stigting werk, woon in Monaco saam met sy Ierse vrou, Roisin (31), en hul twee kinders, Kaia (6) en Bodhi (1).

Foto: Misha Jordaan
Die uitsig van die paleis oor die Middellandse See. Foto: Misha Jordaan

“Ek is baie bevoorreg om ’n uiters ondersteunende familie te hê,” sê sy. “En hoewel party nie altyd hier kan wees nie, is hulle net ’n vlug weg.”

Wanneer sy nou na haar lewe kyk, moet sy haar soms knyp om te dink sy, ’n doodgewone meisie van Benoni met ’n passie vir swem, het ’n Europese prinses geword? Sy bars uit van die lag.

“Ek knyp en klap myself nog daaroor!” sê sy. “Ja, ek dink soms wat ek sou gedoen het as ek nie in hierdie posisie was nie, en dis baie eenvoudig: Alles wat ek nou doen, net sonder die titel.”

Om mense te help en ander op te voed is haar lewensdoel. “Ek sou waarskynlik sendingwerk gedoen of ’n onderwyser geword het,” sê sy en noem sy het ook in ’n stadium in verpleegkunde belanggestel.

“Ek sou daarvan gehou het om ’n diens te lewer. My oom is ’n sendeling; hy het al in Japan en Australië gewerk en is nou in Zambië. Ek het al twee keer soontoe gereis om hom te help om ’n plaaslike skool te herbou. Ek hou daarvan om te gee waar ek kan.”

Foto: Misha Jordaan
Vanjaar soek Jacques Sonic the Hedgehog in sy Kerskous, terwyl Gabriella slym en ’n pop van Kersvader begeer. Foto: Misha Jordaan

Iets wat haar dwars in die krop steek, is wanneer buitestanders vir Suid-Afrikaners probeer voorskryf hoe om dinge te doen. “Ek kan dit nie verdra wanneer hoëprofielmense in hul privaat stralers opdaag en vir ons mense kom sê hoe hulle moet leef en dan weer vertrek nie. Jy kan eers regtig saampraat nadat jy ’n jaar lank op die minimum loon geleef het,” sê sy.

“Ek glo die mense op voetsoolvlak moet daaroor besluit.”

Sy is bewus van die uitdagings waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word, maar is optimisties oor die toekoms. “Ek weet die president sal die regte ding doen,” sê sy oor Cyril Ramaphosa.

As jy met inwoners van Monaco praat, sê almal dieselfde ding: Albert en Charlene is ongelooflik goedhartige mense. En in ’n klein gebaar van waardering het personeellede by die paleis onlangs vir Charlene ’n spesiale geskenk gemaak.

“Hulle het ou lakens uit ons linnegoed geneem en vir my slaapklere daarvan gemaak, en oorbroeke vir die tweeling. Ek was so aangedaan, want dit het vir my gewys daar is nog goedheid in die wêreld.”

 Charlene word in Europa as ’n stylikoon beskou danksy haar gesofistikeerde en klassieke voorkoms. Is mode vir haar belangrik?

Foto: Misha Jordaan
Hul chihuahua, Harley. Foto: Misha Jordaan

“Nie regtig nie,” erken sy. “Ek is gemakliker in my sweetpakbroek en jeans tuis saam met die kinders, maar ek trek natuurlik deftig aan vir geleenthede.

“Ek waardeer beslis die gehalte waaraan ek hier blootgestel is, maar ek behou ook kontak met Suid-Afrikaanse ontwerpers.” Een handelsnaam wat haar oog onlangs gevang het, is Erre, wat deur twee vroue in Pretoria bestuur word.

“Ek het hulle na Monaco laat kom om my mates te neem, en ek koop nou by hulle. Suid-Afrika het soveel talent; dis vir my hartseer dat soveel ontwerpers nie meer sukses behaal nie.”

Sy doen wat sy kan om mense blootstelling te gee en sal aanhou om soveel moontlik mense van haar geliefde tuisland te steun. Volgende jaar beloof om nog ’n bedrywige een vir haar te wees, maar dit maak haar opgewonde.

“Ek floreer daarop om besig te wees,” sê sy. “Hoe meer ek gedoen kry, hoe gelukkiger voel ek.”