Net 25 gaste, wat bestaan het uit familie en vriende, het by die St. George’s-kapel byeengekom vir die kleinding se doop.

Die hertog en hertogin van Sussex se eersteling is op 6 Mei gebore en Saterdag, op twee maande, gedoop. 

Die afgelope twee maande het die paartjie net op hul amptelike Instagramprofiel foto's van Archie gedeel. Hy is nog nie in die openbaar gesien nie. Die eerste foto's van hom is twee dae ná sy geboorte op Instagram gedeel. 

Meghan (37) en Harry (34) wil ook die identiteit van hul seuntjie se peetouers geheim hou.   

Die peetouers was deel van die 25 gaste wat die seremonie bygewoon het. Prins William en Kate (albei 37), Charles (70) en Camilla (71) en Meghan se ma, Doria (62), het onder die gaste getel. 

Archie se oumagrootjie, koningin Elizabeth (93), was nie by die doop nie. Sy het ander verpligtings gehad.  

Dit is nie die eerste keer dat Elizabeth haar agterkleinkinders se doop misloop nie. Verlede jaar het sy ook nie haar sesde agterkleinkind, prins Louis, se doop bygewoon nie.

Die aartsbiskop van Canterbury het die doop gelei en die Lily Font, ’n silwer bak, is tydens die seremonie gebruik. Dié bak is dieselfde een wat gebruik is vir elke koninklike baba sedert prinses Victoria se doop in 1841. 

Archie is ook gedoop met water uit die Jordaanrivier, dieselfde rivier waarin Johannes die doper in die Bybel vir Jesus gedoop het.

Archie se dooppakkie was dieselfde een wat sy neefs en niggies tydens hulle doop gedra het.

William en Kate se kinders, George (5), Charlotte (4) en Louis (1), het almal die dooppakkie gedra wat Archie Saterdag aangehad het. 

Die doopuitrusting is ’n replika van die bekende dooppakkie wat koningin Victoria in 1841 vir haar eerste kind, prinses Victoria Adelaide Mary Louisa, se doop laat ontwerp het. 

Dié uitrusting is deur 62 koninklike babas oor 163 jaar met hul doop gedra. 

Prinse Charles, William en Harry het ook dié oorspronklike dooppakkie aangehad voor dit in 2004 uit die koninklike diens onttrek is om die uitrusting te beskerm. 

Koninklike babas, soos Archie, dra nou die replika van dié bekende uitrusting wat uit kant bestaan.

Bronne: Express, Townandcountrymag