Dis oomblikke voor hy op sy wieletjiesbed in die teater ingestoot word vir die ingrypende nekoperasie wat hy al so lank vrees. Die sanger tel ’n knipper op, kyk vir oulaas na sy welige baard in die spieël van die hospitaalbadkamer en begin sny.

Binne minute is dit weg – die lang, donker baard wat sy kenteken was sedert hy vroeg verlede jaar byna oornag roem behaal het. Dit was die eerste keer in drie jaar dat hy sy bekende baard afknip, vertel Jo Black (36) ’n bietjie meer as ’n week later.

Die vorige keer, in November 2015, het die sanger sy baard ten bate van liefdadigheid laat waai. Hy was toe nog ’n sukkelende musikant; dit was voor sy debuutalbum, Skepe, einde 2016 uitgereik is en sy gelyknamige liedjie binne weke ’n treffer geword het.

Maar dié keer moes sy baard waai om sy eie gesondheid te red.

In die ure lange operasie is sy nekwerwels wat weens ’n ou rugbybesering verbrokkel het weer met skroewe in posisie geplaas. Dit sal Jo verlos van die ondraaglike pyn waarin hy sedert Mei vanjaar verkeer het, en ook beteken hy ervaar nie meer verlamming in sy linkerarm nie.

Maar dokters het vooraf gewaarsku: Die operasie kan dalk groot skade aan sy kosbaarste instrument, sy stem, aanrig. As iets sou skeefloop, sou hy dalk nooit weer kon sing nie . . .

Toe Jo vir die eerste keer in jare weer na sy kaal gesig in die spieël kyk, was die nuwe voorkoms die laaste ding in sy gedagtes, vertel hy.

Minute later het sy vrou, Debbie (32), met rooigehuilde oë aan sy bed vasgeklou terwyl die sanger in die teater ingestoot word. En toe die deure voor haar toeslaan, het Debbie ure lank in die hospitaalgange op en af geloop en herhaaldelik gebid: “Here, bewaar vir Jo.”

Maar hul gebede is beantwoord en hul vrese besweer, vertel Jo en Debbie nou op die gesellige stoep van hul huis in Montana, Pretoria. Want toe Jo ná die operasie sy oë oopmaak en ’n sin prewel, het albei geweet: Sy stem gaan nog lánk nie stil wees nie.

Die sanger sê hy glimlag wanneer hy sy storie vertel omdat dit een van hoop is. Foto: Rowyn Lombard.

“Dit was asof al ons vrese in daardie oomblik net verdwyn het. Die operasie was ’n sukses; ons kon asemhaal – ons kon uitsien na die toekoms,” vertel Jo. “Ek is verlig en verskriklik dankbaar. En selfs deur die pyn besef ek nou meer as ooit vantevore hoe groot God werklik is.”

Hy was verneder toe hy in ’n konsert op 4 September in George in die Wes-Kaap die eerste keer in sy loopbaan die lirieke van twee liedjies vergeet het, vertel Jo. Dit was maar net ’n week nadat hy in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel het van die operasie waarvoor hy so bang was.

Sy toestand het skielik versleg en die sterk pynmedikasie het met sy geheue en gedagtes begin lol. “Ek het totaal verslae gevoel,” vertel Jo.

“Dis ’n onbeskryflike gevoel: Daar staan ek op die verhoog en doen een van die dinge wat my die meeste vreugde in die wêreld bring, maar ek kan nie die woorde onthou nie. Boonop is ek in die ergste pyn wat ek nog was. Ek het geweet dit kan nie so aangaan nie.”

Hy drink toe al maande lank elke dag “hande vol” pille vir die verskriklike pyn in sy nek, maar dit was die vrees dat ’n operasie permanente skade aan sy stembande kon aanrig wat hom die meeste gejaag het.

Twee van Jo se nekwerwels het ná ’n rugbybesering 14 jaar gelede verbrokkel en een daarvan het gedruk op die senuwees wat na sy linkerarm lei. Hy het mettertyd gedeeltelik die gebruik van sy arm verloor, en later was dit te pynlik om sy kitaar vas te hou, dieselfde een wat hy al jare lank op die verhoog tokkel.

Jo kort voor die operasie toe hy sy skokdiagnose met Huis­genoot gedeel het. Foto: Martin de Kock.

Die operasie was beplan vir 26 September, maar tydens dié konsert in George was die pyn so onuithoudbaar dat hy die volgende oggend ’n dokter op Oudtshoorn gaan sien het voor sy optrede daar. “Ek het sommer net daar in die spreekkamer my spesialis in Pretoria gebel, en hy was baie bekommerd.”

Al het die pyn Jo gedwing om met tye sy kitaar neer te sit, het hy dieselfde dag sy Oudtshoornkonsert gehou én die dag daarna een op Murraysburg. Op Vrydag 7 September het hy huis toe gevlieg en sy Pretoriase spesialis gespreek. “Hy het gesê ’n noodoperasie is die enigste uitweg,” vertel Jo.

Dié operasie is sommer twee dae later, op Sondag 9 September, uitgevoer. “Ek was ’n emosionele wrak. Ek het soveel verskillende emosies ervaar. Aan die een kant was ek verlig dat ek van die pyn ontslae sal wees, maar aan die ander kant was my hart gebreek oor al die konserte wat ek moes kanselleer.”

Die aand voor die operasie het Debbie hul kinders, Dinieke (9) en Miané (6), by haar ouers afgelaai. Jo het daardie aand in Alberton konsert gehou en eers middernag tuis gekom.

Voor sonsopkoms die volgende dag is die egpaar saam na die hospitaal. Jo wil nie sê watter hospitaal dit was nie om die privaatheid van sy dokter te beskerm.

‘Ek is dankbaar ons is verby dié ding wat soveel ure en dae van my geroof het’

Kort ná hul aankoms het die narkotiseur aan Jo gesê sy baard moet waai. Hy huiwer ’n oomblik en sê dan: “Die baard is al so lank deel van my lewe, maar tog was dit in daardie oomblik die laaste van my worries. Ek wou die seer net verby hê – ek wou hê die operasie moet agter die rug kom.”

Toe knip hy die baard sommer self en Debbie kyk toe. Debbie vertel sy het aan Jo se hospitaalbed vasgeklou tot hulle haar “nie meer verder toegelaat het nie”.

“Ek kan nie beskryf hoeveel dinge tegelyk deur my kop gegaan het voor hy in die teater in is nie.” Jo knik instemmend. “Dit ruk jou as’t ware tot stilstand – dit laat jou oor jou lewe nadink.”

Eers sou Jo net drie uur lank in die teater wees, maar die operasie het eindelik vyf uur geduur. “Daar was komplikasies,” verduidelik Jo nou.

“Dokters het ’n rukkie lank gesukkel om bloeding by die wond te keer omdat die pynmedikasie wat ek gebruik het my bloed verdun het. Hulle het versigtig gewerk en daarom vir Debbie gesê dit gaan net ’n klein bietjie langer neem.”

Toe Jo daardie middag in die hoësorgeenheid opgeneem word, kon Debbie hom die eerste keer weer sien. Sy vertel: “Die eerste ding wat hy gevra het, was: ‘Hoekom is my kop so seer?’ ”

Jo frons. “Het ek nie vir jou iets romanties gesê soos: ‘Ek is lief vir jou’ nie?” Nee, sê Debbie, en dan lag hulle saam. En tussen die lag deur verskyn daardie kenmerkende vonkel weer in sy oë.

Jo ervaar nog baie pyn, hoewel die pyn draagliker as voorheen is. Foto: Rowyn Lombard.

Jo is ’n dag ná die operasie na ’n gewone saal geskuif. Hy is op 12 September, drie dae later, uit die hospitaal ontslaan.

Nes talle ander is hy geneig om te dink hy is sterker as wat hy is, bieg Jo. Hier by sy huis, waar hy ’n week ná die operasie na die “afgelope drie maande van hel” terugkyk, staan hy in verwondering oor die genade wat hom tot hier gedra het.

“Ek is dankbaar ons is verby dié ding wat soveel ure en dae van my geroof het,” sê Jo. Die sanger moet ses weke lank van die verhoog af bly en hy mag nie motor bestuur nie. Hy moet minstens twee weke in die bed bly.

Dit voel vreemd, sê hy, om vir die eerste keer sedert Skepe uitgereik is by die huis te sit en ontspan. Danksy die sukses waarvan hy jare lank gedroom het, hou hy deesdae meer as 300 konserte per jaar.

“Ek gebruik die rustyd om saam met my dogtertjies te wees. Hulle geniet dit dat ek nou vir die eerste keer in meer as ’n jaar ’n lang ruk tuis is.”

Hy het nog nie weer gesing nie, want hy spaar sy stem vir die dag dat hy na die verhoog terugkeer. “Ek sal weet wanneer ek gereed is,” vertel hy. “En wanneer daardie dag aanbreek, gaan ons musiek maak soos nog nooit vantevore nie.”

En die baard – sal hy dit weer laat groei? “Die baard maak nie die man nie,” terg Jo. “Ons sal moet wag en sien.”