Die liggaamsbouer en rolprentster Arnold Schwarzenegger was nog altyd vir duisende van sy aanhangers ’n inspirasie.

Tog sou ’n mens dink dat Vader Tyd en gravitasie selfs die grootstes en sterkstes onder ons in ’n stadium beetkry. Maar, nie dié spiertier nie. Want gaan loer jy op die 71-jarige Terminator-ster se Instagram sien jy dat Arnold nie ’n oomblik lank stilsit nie. Boonop spog hy steeds met bultende spiere en ’n sterk kakebeen. 

View this post on Instagram

Machine learning.

A post shared by Arnold Schwarzenegger (@schwarzenegger) on

In die 1980's kon min mense byhou wanneer Arnold in die ronde was. Hy was immers die Terminator, Mr. Olympia, Conan the Barbarian en later ’n politikus. Jy hoef net die woorde I’ll be back te sê en mense weet onmiddellik van wie jy praat. 

Dis amper asof dié bekende aanhaling uit die eerste Terminator-fliek vir Arnie se lewe profeties was, want dit was beslis nie die laaste sien van hom nie. Hy was later ook te sien in flieks soos True Lies, Junior en Batman & Robin.

Tussen 2003 en 2011 was hy die goewerneur van Kalifornië. In 2015 het hy sy lyf aanbieder gehou in The New Celebrity Apprentice, die werklikheidsreeks wat aanvanklik deur Donald Trump aangebied is. En dis maar net ’n paar van sy loopbaanhoogtepunte.

Dan sweet dié legendariese liggaamsbouer nog gereeld in die gimnasium wat vir sy fantastiese voorkoms sorg.

Dié vleispaleis sal in Mei Suid-Afrika besoek wanneer hy as ’n gasspreker by die W12 Future of Water Conference 2019 in Stellenbosch optree.

Arnold is klaarblyklik nie net ’n beskermheer van mense nie, maar ook van die omgewing en alles wat daarmee gepaardgaan.