Die sangeres wat bekend is vir haar countryklanke deel gereeld foto’s en video’s in die sosiale media van hul dogtertjies, Taylor-Hope (7) en Bella-Joy (6).

Chereé het onlangs oulike foto's van haar kleingoed op Instagram gedeel en daarby geskryf: "My lewe."

View this post on Instagram

My lewe ??

A post shared by Cheree Strydom (@chereestrydom) on

"Ek geniet ma-wees," vertel sy aan Huisgenoot. "My kinders is my eerste prioriteit en ek geniet elke oomblik saam met hulle. Al hou hulle ’n mens besig, besef ek ook dat jy baie tyd saam met jou kinders moet deurbring terwyl hulle nog jonk is," sê Chereé. 

En dit lyk reeds of Wynand en Chereé se kleingoed hul sangtalent geërf het. In een van die video’s sing Taylor-Hope en Bella-Joy uit volle bors die liedjie Cups, wat die aktrise Anna Kendrick in die fliek Pitch Perfect (2012) gesing het.

"My kinders het so vinnig grootgeword; dit maak my bang," vertel sy. "Albei is kunstenaars en hou baie van sing; daarom gaan hulle volgende jaar klavierlesse begin neem. Ek dink veral Bella-Joy kan nie praat nie, maar sy kan baie goed sing. Sy maak tot haar eie liedjies op," sê die trotse ma.

Die paartjie geniet dit nog in Langebaan en gelukkig is Chereé se familie daar om hand by te sit wanneer sy en Wynand die land vol reis om op te tree.

"Ons het ongelooflike aanhangers op Langebaan en ek het ook 'n familie wat ’n goeie steunnetwerk is."

Waarmee is die sangerpaar die feestyd besig? "Ons gaan onder meer aan die Weskus en in die Noord-Kaap en Vrystaat optree," vertel sy.

Chereé is ook opgewonde oor haar jongste CD waaraan sy nou werk. Dit sal na verwagting teen April op die rakke wees. "Dis my eerste soloalbum sedert 2009. My kinders is nou mooi groot en ek is weer reg vir die ding. Die album het heelwat van my eie liedjies op," vertel sy.

"Ek word in Mei volgende jaar 40 en wil voor dan vir ’n slag ’n jonger klank beproef en vrolike musiek sing," sê sy.