In Donderdagaand se episode het Qiniso haar finale roos aan die digitale bemarker en lewensafrigter Gareth gegee. Gareth het aan haar ’n ring van Jack Friedman gegee, maar moenie binnekort trouklokkies verwag nie. Die ring is volgens die paartjie net simbolies van ’n toekoms saam. 

KYK HOE KOER DIE TWEE  

Kort nadat kykers op TV gesien het hoe Qiniso vir Gareth kies, het hy foto's van die roosseremonie op Instagram gedeel. 

“Hierdie was een van die ongelooflikste ervarings van my lewe. Ek verlaat hierdie televisiereeks met ’n hart wat so vol is van liefde, dankbaarheid en vervulling.

“Ek is so lief vir jou @qinisovandamme. Jy het vir my gewys dat towerkuns bestaan, op meer maniere as wat ek kon dink. Jy is sonder twyfel my mens. Ek glo werklik ons is in die sterre opgeskryf,” het Gaz, soos hy bekend staan, laat hoor. 

View this post on Instagram

A post shared by Gaz (@garethehret_)

Hy het ook die geleentheid gebruik om hulde te bring aan die vriendskappe wat hy en die ander deelnemers aan die reeks gevorm het.

“Dankie aan die ander manne. Ek is lief vir julle. Ons het ’n band gesmee wat ons saam met ons deur ’n lewenslange vriendskap sal dra.”

Gareth het ook ’n video gedeel wat wys waarmee hy en Qiniso als doenig was sedert die verfilming van die reeks geëindig het. In die video doen hulle onder meer strekoefeninge op die strand, vermaak Qiniso hom met haar danspassies en hang hulle saam uit met hul geliefdes.

In die kommentaarafdeling van dié video het Qiniso in hoofletters “liefde van my lewe” geskryf. 

Qiniso het ook op Twitter gespog met die beloftering wat Gareth aan haar gegee het. 

“Dis ’n ring, dis ’n ring aan my vinger! Dankie, God,” het die model, aktrise en antropoloog daarby geskryf. 

Op haar Instagram Stories het Qiniso ’n kykie gegee na waar sy, Gareth en hulle gesinne die finale episode saam met hul families gekyk het. 

In die video's dans die tweetjies vrolik en deel soene uit vir mekaar. 

Die paartjie het tydens die episode vir die aanbieder, Jason Greer, vertel dat hulle vir eers net saam wil wees. 

“So baie het verander sedert daardie oomblik, maar in dieselfde asem het niks verander nie. Met elke dag wat ons saam deurgebring het, het ons liefde net gegroei en gegroei. Ek voel so geëerd, en ek is so lief vir jou,” het ’n tranerige Gareth vertel. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe