Dis nou of nooit, het die akteur en vervaardiger Tim Theron besluit toe hy besef dis tyd om kilo’s af te skud.

Al is dit vir hom die lekkerste rol om pa van Sophia (3) en Migael (18 maande) te wees, het twee woelwaters in die huis die laaste paar jaar sy tyd om te oefen beperk.

“Skielik bereik ’n mens ’n punt waar jy besef jy lyk nie meer soos wat jy graag wil lyk nie,” vertel Tim.

Dis toe dat hy in Februarie by die gewese Mnr. Suid-Afrika en persoonlike afrigter Dieter Voigt begin oefen het.

Die vetrolletjies het begin wegsmelt. Tim het reeds sy gewig van 92,9 tot 86,5 kg en sy liggaamsvet van 18,1 tot 11,6% afgebring.

Al is Dieter ’n aangename ou, het hy geen genade wat ’n oefensessie betref nie, verseker Tim.

Hy sal tot vier keer per week saam met Dieter oefen en die oefensessies wissel tussen krag-, kardio- en hoë-intensiteitsintervaloefening.

“Elke dag se oefenprogram verskil,” sê Tim. Hy werk tans hard aan die vervaardiging van ’n TV-reeks gegrond op die bekroonde skrywer Deon Meyer se blitsverkoper Trackers (Spoor in Afrikaans).

Selfs op dae dat hy nie in die gim kan wees nie, kry hy ’n oefenprogram wat hy op sy eie moet volg. En saam met die strawwer oefenprogram het ook ’n gesonder eetplan gekom.

Tim sê hy maak deesdae “skoner koskeuses” deur minder suiker en stysel te eet en meer groente in te neem.