En hul opoffering was toe die moeite werd, want op Saterdag 2 November kon die Bok-kaptein, Siya Kolisi, en die manne in Groen-en-Goud die Webb Ellis-trofee omhoog hou. 

Hulle het boonop ná hul Wêreldbeker-sege nog Suid-Afrika platgereis om die trofee aan die publiek bekend te stel tydens die oorwinningstoer. 

Maar wat maak die helde noudat hulle eindelik ’n welverdiende blaaskans kan geniet?

Siya Kolisi en Cheslin Kolbe

Kaptein Siya en die spoedvraat Cheslin Kolbe is sedert hul dae in die Stormers en WP se streeptruie boesemvriende en geniet dit om saam uit te hang, ook met hul onderskeie gesinne. 

Rachel en Siya in Parys. Foto: Instagram/@siya_kol
Rachel en Siya in Parys. Foto: Instagram/@siya_kolisi_the_bear
Die egpaar lyk dolverlief. Foto: Instagram/@siya_k
Die egpaar lyk dolverlief. Foto: Instagram/@siya_kolisi_the_bear

Siya en sy vrou, Rachel, het onlangs by Cheslin en sy vrou, Layla, in Frankryk uitgespan. Die vlugvoetige vleuel het nie net uitgeblink by die onlangse Wêreldbeker in Japan nie, hy het ook naam gemaak in die Franse Top-14-liga waar hy vir Toulouse uitdraf.

Cheslin is vir talle toekennings deur die Franse liga benoem: speler van die seisoen, beste drie van die seisoen, sowel as die beste Top-14-speler by die Wêreldbeker. Die wenners word op 25 November aangewys.

Handré Pollard

Ná sewe jaar as Pretoria se liefling groet die losskakel Handré Pollard die Blou Bulle. Hy gaan voortaan sy rugbyloopbaan in die Franse stad Montpellier voortsit. Handré en sy vrou, Marise, het op Instagram 'n foto van hulle op die lughawe gedeel kort voor hul vertrek Frankryk toe.

“Ons het die ongelooflike voorreg gehad om sewe jaar in Pretoria deur te bring," het hy by die foto geskryf. "Ons het nuwe vriende gemaak en verhoudings opgebou wat lewenslank sal duur. Dankie aan elke persoon wat 'n positiewe invloed op ons lewens gehad het. Tyd vir die volgende hoofstuk. Montpellier, hier kom ons!” het hy laat hoor. 

Frans Malherbe

Die vaskopstut Frans Malherbe en sy vriendin, Ingrid van Huyssteen, het 'n wegbreek in die Okavango Delta in die noorde van Botswana geniet. Van wat ons van hul onderskeie Instagram-profiele kan aflei, is die paartjie dol oor die natuur. Vir hul jongste avontuur het die twee 'n safari-kamp geniet.

RG Snyman

En net soos 'n mens dink jy kan nie op 'n Wêreldbeker-sege verbeter nie, het dié Bok-slot ons verkeerd bewys toe hy met sy meisie van die afgelope sewe jaar, Saskia Redelinghuys, die knoop deurhaak.

“Het die voorreg gehad om [...] met my beste vriend te trou. Saskia, jy is absoluut pragtig. Ek is so lief vir jou!” het RG in die kuberruim by ’n foto van hul troudag laat hoor. 

En die gastelys het omtrent gewemel van Bokke. Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Franco Mostert was van RG se spanmaats wat sy groot dag saam met hom geniet het.

Steven Kitshoff

Die vurige rooikop-loskopstut Steven Kitshoff en sy vrou, Aimee, geniet omtrent sy blaaskans ná die Wêreldbeker. Die twee het onlangs op 'n straler Sun City toe gespring om daar by die Nedbank Golf Challenge uit te span.

Kort daarna was die twee by sy spanmaat RG Snyman se troue.

En hoe het hulle hulself daarna bederf? 'n Spabehandeling natuurlik!

Tendai "Beast" Mtawarira

Die mees ervare speler in die Bok-groep, Tendai “Beast” Mtawarira, wat onlangs sy uittrede uit toetsrugby aangekondig het, het nog genoeg energie in sy tenk om vir die Barbarians-toergroep uit te draf.

Die Barbarians bestaan uit 'n uitgekose groep internasionale spelers wat jaarliks uitgenooi word om saam te span en teen ander lande mee te ding. 

Beast was die afgelope Saterdag (16 November) deel van die Barbarians-groep wat in Engeland 32-31 geklop is deur Fidji, en sal Woensdag 20 November in Brasilië vir sy laaste internasionale rugbywedstryd vir die Barbarians teen Brasilië uitdraf. 

Beast se Bok- en Haaie-spanmaats Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am is ook deel van die Barbarians-toergroep.

Die Boklegende, wat ook sy eie veiligheidsonderneming het, sal dan terugkeer na Suid-Afrika om sy opsies in die buiteland te bespreek. 

Kom neem deel aan die gesprek
 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.