Kyk hoe lyk bekendes se Kersbome

akkreditasie
Ná ’n saai, uitmergelende jaar is dit tyd vir ’n tikkie feestelikheid!

En wat is dan nou beter as ’n Kersboom vol liggies of blink balle om die huis (en sommer ook jou gemoed) op te kikker? Ons het by plaaslike bekendes gaan aanklop en aanlyn gaan loer hoe vanjaar se Kersbome lyk. 

Nadia Beukes

Nadia Beukes, haar man, Dave de Villiers, en hul babaseuntjie, Joshua. Foto: Verskaf
Nadia Beukes en haar man, Dave de Villiers
Nadia Beukes en haar man, Dave de Villiers, het hulle Kersboom tot laatnag versier. Foto: Verskaf

“My man, Dave, was vanjaar lus vir ’n kleurvolle reënboog-Kersboom, en hier is hy nou!" vertel die aktrise en televisieaanbieder Nadia Beukes.

“Ná die afgelope jaar is dit so lekker om so ’n prettige boom in ons leefarea te verwelkom. Dit was nogal ’n storie om al die toutjies aan die balle vas te kry, en ek en my man het tot in die vroeë oggendure die boom versier. Want ons het besef met vier klein handjies wat deur die dag wil help, gaan ons nooit klaarkry terwyl die son skyn nie!" vertel Nadia.

Klein Davey bekyk die mooi Kersboom. Foto: Verskaf
Klein Davey bekyk die mooi Kersboom. Foto: Verskaf

“Ons het toe soos wafferse Kersfees-elfies die nag deur gewerskaf en is wel beloon deur ons tweejarige, Davey, wat die volgende oggend met ’n groot glimlag en luidrugtige 'Wow!' in verwondering voor die boom kom staan het.”

Dorette Potgieter

“Ons het nie ’n maklike jaar agter die rug nie, maar soveel ongelooflike seëninge waarvoor ons opreg dankbaar is,” vertel die aktrise Dorette Potgieter. Sy en haar dogter, Lia Luna Li, woon sedert Julie in die Banhoekvallei naby Stellenbosch.

Dorette Potgieter en haar dogter, Lia Luna Li Lätt
Dorette Potgieter en haar dogter, Lia Luna Li Lätti. Foto: Verskaf

Ná ’n gesukkel om die perfekte natuurlike Kersboom te vind, het hulle besluit om vanjaar kreatief te wees en ’n uitgedroogde stomp as ’n unieke soort Kersboom in te span.

Lia Luna Li by die kreatiewe stomp wat vanjaar as
Lia Luna Li by die kreatiewe stomp wat vanjaar as Kersboom dien. Foto: Verskaf

“Die versierings het ons die afgelope 11 jaar reeds versamel uit Nederland, België, Plettenbergbaai, George en selfs tweedehandse winkeltjies,” vertel Dorette, wie se dokumentêre film, Kans, op 22 Desember op kykNET uitgesaai word. 

Amor Vittone

“Ek en die kinders sit die Kersboom in die eerste of tweede week van Desember op. Dit is gewoonlik wanneer ons tyd het om dit te doen. Ons speel Kersmusiek in die agtergrond en die kinders versier dan die boom," vertel die aktrise en sangeres Amor Vittone. 

“Dit is vir my lekker as hulle ook betrokke is. Die ster sit ons eers so net voor die 24ste op die boomtop en dit is vanjaar Jordan se beurt om dit te doen. 

“Ek verkies hierdie Kersboom omdat ek glo less is more. Dit mors ook nie soos ander Kersbome waarvan die groen goedjies afval nie. Ek het al baie verskillende Kersbome opgesit, maar hierdie een was net vir my uniek en simplisties. En dit het reeds liggies aan. Dit neem ook nie baie plek op nie.”

Amor sê hulle gaan vanjaar tuis wees met Kersfees. “Ons gaan nie met vakansie nie. Ons gaan die Kerstyd saam met my naaste familie deurbring,” vertel sy. 

“Op Oukersaand gaan ons gewoonlik vroegaand kerk toe en daarna maak die kinders van hul geskenke oop. Ons het ook die tradisie dat die kinders dan ’n gemmerbroodhuis versier, maar ons almal raak op die ou end betrokke. Een maak die versiersuiker aan, die ander een sit dit op en nog een bou die huisie.

“Die volgende oggend maak hulle die meeste van hul geskenke oop en dan het ons ’n Kersdag met kos, familie en liefde. Dit is die mooiste tyd van die jaar en ons luister elke dag Kersmusiek. Dit gaan alles oor Jesus wat gebore is en die dinge wat ons moet waardeer.”

Katryn Kruger

Die model Katryn Kruger het vanjaar ’n regte denneboom as Kersboom ingespan. Die boom is onder meer met stringe uitgedroogde lemoensnye versier wat sy sommer self gemaak het. 

Francois van Coke

Francois van Coke se vrou, Lauren Badenhorst, het hierdie foto van hul dogtertjie, Alex, voor hul Kersboom gedeel. Die egpaar het ook 'n seuntjie, Max, wat op 12 Oktober gebore is.

Gareth Cliff

Die radiopersoonlikheid Gareth Cliff reken sy hond, Carl, verdien vanjaar sy eie Kersboompie in die studeerkamer.

JP Duminy

Die voormalige krieketspeler se vrou, Sue, het op Instagram 'n foto gedeel van hul gesin se versierde Kersfeesboom. "Dit het 554 foto's geneem om almal te kry om op dieselfde tyd vir die kamera te kyk. Maar ons het dit (soort van) gedoen," het die sakevrou by die kiekie geskryf waarop sy, JP en hul dogters, Isabella (5) en Alexa-Rose (2), in eenderse nagklere pryk.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees