Dit is omtrent ’n groot week vir die Kaapse rocker! Die benoemings vir die Huisgenoot Tempo’s 2018 is pas bekendgemaak en Francois is in die kategorie musiekvideo van die jaar vir sy liedjie Die Wêreld is Mal benoem.

Stem nou vir jou gunstelingsterre en jy kan 'n kans staan om 'n vet kontantprys, twee vakansies ter waarde van meer as R13 000 elk en 'n R3 500-koopbewys te wen.

Hoewel dié 37-jarige sanger eers net as voorsanger van die berugte Fokofpolisiekar bekend was, het hy oor die afgelope paar jaar in sy eie reg as solokunstenaar naam gemaak.

Hy het onlangs weer sy aanhangers op Instagram herinner dat hy eintlik van kleins af sy lyf rocker hou toe hy ’n video van sy eerste musiekoptrede sowat 22 jaar gelede deel.

In die video sing ’n 15-jarige Francois met sy eerste musiekgroep, Hydrint, by die Bellville Civic Centre in Kaapstad.

“Vir daardie jong Francois was dit onwerklik om te dink dat ek eendag ’n lewe uit musiek kan maak. Ek was baie onseker oor die toekoms toe ek jonk was,” sê hy.

Maar hy sou nou vir daardie jong tiener kon sê dat dinge beter raak. Of om een van sy lirieke aan te haal: “Dit raak beter as jy ouer raak". Francois is beslis nou meer volwasse en lag hardop as hy aan die tannies dink wat eers later besef het dat sy musiek eintlik nie so sleg is nie. “Sommige mense het vasgekyk in die naam (Fokofpolisiekar), maar ek dink mense raak mettertyd gewoond aan iets,” sê hy.

Op 15 September tree die rocker saam met ’n rits ander bekende musikante soos Karen Zoid en Jack Parow op by die Sun Arena in Pretoria. Dis sy grootste solovertoning wat hy al tot dusver aangepak het. Tog knaag die senuwees nie, sê die rocker. Hy't immers al jare se ervaring agter die blad. “Ek is meer opgewonde. Ek speel die meeste van hierdie liedjies al my lewe lank en ek sien uit daarna om saam met al my tjommies op te tree,” vertel Francois aan Huisgenoot.

Sy vrou, Lauren Badenhorst, sal saam met hom na Pretoria reis vir die vertoning, maar vir hul skattige dogtertjie, Alex Lila, is die reis te ver, sê Francois. Sy ouers gaan in dié tyd oppasser speel. Dit lyk egter of Alex, wat in November haar tweede verjaardag vier, ook in haar pa se musiekvoetspore sal volg. 

As die dierbare dogtertjie nie Twinkle Twinkle Little Star of Gerhard Steyn se treffer Baby Tjoklits sing nie, is sy besig om te leer dat sy eintlik twee vanne – Badenhorst en Van Coke – het.

View this post on Instagram

#alexlila ???? #twinkletwinklelittlestar

A post shared by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

View this post on Instagram

#babytjoklits #babykakkies ?? #alexlila

A post shared by Lauren Badenhorst (@laliewild) on