Alana Thompson is klaar met Honey Boo Boo.
Alana Thompson is klaar met Honey Boo Boo. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy was ’n parmantige pokkel van vyf jaar oud toe sy kykers se harte die eerste keer gesteel het met haar kordate houding en gevatte sêgoed. 

Honey Boo Boo, soos sy alombekend geword het, was gou een van die sterre van Toddlers and Tiaras, die werklikheidsprogram waarin ouers feitlik enigiets sal doen om hul kinders in prinsessies om te tower om ’n voet in die deur na die glansryke wêreld van skoonheidskompetisies te kry. 

En of dit nou danksy haar bekkigheid was of nie: Die jong Honey Boo Boo, oftewel Alana Thompson, het inderdaad ’n paar skoonheidstitels vir juniors gewen. Kykers kon nie genoeg van dié klein rissiepit kry nie. 

Dit was geen verrassing toe sy in 2012 haar eie program op TV kry nie. In Here Comes Honey Boo Boo het die kameras haar gesin se alledaagse lewe vasgevang. 

Dink aan ’n meer platvloerse weergawe van die Kardashian-kliek. En siedaar: “Mama June” Shannon en haar vier dogters by drie verskillende mans, waarvan Alana die jongste is. Hulle het trots na hulself as “rednecks” verwys. 

Maar 55 episodes later was dit duidelik dat Alana se lewe allermins so oulik en prettig was soos dit soms uitgebeeld is. Bewerings van dwelmmisbruik, groot skuld en kindermolestering het soos ’n donker wolk oor die gesin kom hang – en die vinger is dikwels na haar nou ewe bekende ma gewys.

Dinge het so erg geraak dat een van Alana se halfsussies, Lauryn “Pumpkin” Efird (21), eindelik as haar voog aangestel is. En nes haar omstrede, halfblinde ma het Honey Boo Boo die afgelope 10 jaar konstant teen vetsug en emosionele uitdagings gestry.

By haar ousus en voog, Lauryn Efird.
By haar ousus en voog, Lauryn Efird. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar vandag is Alana 16 jaar oud en op die voorblad van die glanstydskrif Teen Vogue. Sy is nié meer Honey Boo Boo nie, sê sy. Nou wil sy net as Alana bekend wees. En dit gaan met haar beter as ooit, dankie.

Blaai terug in die kalender na die dinge van destyds . . . Dis byna haar beurt in die kollig en die vyfjarige meisie sluk ’n konkoksie van die energiedrankie Red Bull en gaskoeldrank af. “Go-Go Juice”, noem sy dit.

“Die laaste keer dat ek slaai geëet het, was nooit,” sê sy vir die kameras, en die televisiegehoor lag kopskuddend vir die klein parmant wat so tuis in haar vel lyk.

In nog ’n aflewering steek sy die draak met haar ma wat 207 kg weeg: “Die ys het nie gebreek toe Mamma opklim nie, dis ’n Kersfees-wonderwerk!” 

Veral die eerste aflewering van Here Comes Honey Boo Boo het die kykers laat gons: Mama June se verjaardag word deur familie en vriende met morsige Redneck Games gevier. In June se eie woorde: “Dis soos die Olimpiese Spele, maar met meer gebreekte tande, bierpense en boude wat uitsteek.”

‘Omdat ek van die Suide kom, dink mense ek is ’n platvloerse pampoen’

Berge pasta gemeng met Amerikaanse tamatiesous vir aandete; hul smerige troetelvark – kykers kon nie genoeg van hul huishoudelike gruwels kry nie. 

Maar luidens berigte het donker dinge agter die skerms in die huis gebeur – meestal weens June se verdagte besluite. 

In 2014 is Here Comes Honey Boo Boo onverwags in sy vierde seisoen deur die vervaardigers, TLC, gekanselleer. Die rede? June se verhouding met Mark McDaniel, ’n veroordeelde en geregistreerde kindermolesteerder. 

“Mama June” Shannon, Lauryn, Alana en haar pa, Mik
“Mama June” Shannon, Lauryn, Alana en haar pa, Mike Thompson, van wie sy vervreem is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

June was in ’n verhouding met McDaniel voor hy in 2004 skuldig bevind is aan kindermolestering en het toe later hul verhouding hervat. 

Die program was die gesin se enigste inkomste en skielik was hulle in groot geldnood. Boonop het June se oudste dogter, Anna Cardwell (nou 26), later beweer McDaniel het haar gemolesteer toe sy net agt jaar oud was. 

Anna het onlangs aan The U.S. Sun gesê sy en haar ma het geen verhouding nie. “Ons het nooit gepraat oor die foute wat sy gemaak het nie. Sy het nie jammer gesê dat sy Mark weer begin sien het nie.”

Alana, steeds op hoërskool en konstant in die kollig, het gesukkel om sin te maak van dit alles. Maar intussen het June, wat al in haar vroeë 30’s ouma geword het, ook haar eie vetverliesprogram op televisie gekry: Mama June: From Not to Hot. Sy het meer as 130 kg afgeskud – maar baie daarvan weer aangesit.

In 2019 bars nog ’n bom: June word van dwelmmisbruik aangekla. Sy het tronkstraf vrygespring deur gemeenskapsdiens te doen. Maar weens June en haar jongste kêrel se dwelmverslawing is Alana uit haar ma se sorg verwyder.

June was nou van al drie haar dogters vervreem – ook van Alana, wat al op 13 in ’n video voorgegee het sy snuif kokaïen.

Aan Access Hollywood het June later vertel sy het in een jaar meer as R12 miljoen aan kokaïen bestee. Sy het haar verslawing gefinansier deur hul gesinshuis in Georgia te verkoop, asook juwele en ander besittings.

Steeds was June nie te gedug vir die troebel wêreld van werklikheidstelevisie en kykers se obsessie met vuil wasgoed nie. Haar bewering dat sy nou dwelmvry is, was die katalisator vir nog ’n werklikheids-TV-reeks: Road to Redemption

En ná drie jaar van vervreemding het Alana en haar ma nou weer die stukkies begin optel. “Baie mense besef nie hoeveel mense in die wêreld met verslawing sukkel nie,” sê Alana in haar onlangse onderhoud met Teen Vogue

Sy sê sy bou aan haar verhouding met haar ma, dat haar ma verskoning vir haar besluite gevra het en haarself probeer regruk. En sy beklemtoon: “Ek is nie meer klein Honey Boo Boo nie. Ek is Alana; ons is twee verskillende mense.”

Alana het reeds op vyf in die reeks ‘Toddlers and
Alana het reeds op vyf in die reeks ‘Toddlers and Tiaras’ aandag getrek. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Volgende jaar – as alles goed gaan – sal Alana klaar wees met hoërskool. Die klein parmant van ouds wil ’n pediatriese verpleegster word, maar haar onmiddellike tienerdroom is haar eie kar. 

Sy is dankbaar dat haar halfsussie haar onder haar vlerk geneem het en beskou haar as ’n rolmodel. “Toe ma se dwelmverbruik erg was, het ek nie geweet wat van my gaan word nie. Ek is trots op myself om te sien waar ek vandag is.”

Alana vertel sy werk hard om net A-simbole te kry en wil graag ná skool verder studeer. 

In haar onderhoud met Teen Vogue doen sy afstand van haar bekkige kleintydbeeld. “Net omdat ek van die Suide af kom, verwag mense ek is ’n platvloerse pampoen wat heeltyd kwadfiets ry.”

Maar sy bieg ook dat haar lewe eensaam geword het. Sy vermy mense omdat dit voel almal wil spog hulle “ken Honey Boo Boo”, wat sy nie meer is nie. 

“Ek het nie baie vriende nie, eintlik geen, behalwe my kêrel. Ek vertrou niemand regtig nie.” 

Slank is sy steeds nie. Sy sê dit is asof mense die boodskap aanhang dat alle liggaamsvorme aanvaarbaar is “tot hulle ’n lyf sien waarvan hulle nie hou nie”.

En die kritiek is soms oorverdowend. Haar lang, vals naels en wimpers op Instagram en haar gewig bly steeds ’n onderwerp van bespreking. 

“Daar is soveel mense op Instagram wat nie van my naels en wimpers hou nie. Maar ek gee nie om nie. Solank ek myself is,” sê Alana.  

BRONNE: TEEN VOGUE, THE U.S SUN, ACCESS HOLLYWOOD, NEW.REPUBLIC.COM, PAGESIX.COM, THE SUN, WIKIPEDIA, E! ONLINE
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe