Trevor Noah en Minka Kelly
Trevor Noah en sy meisie, Minka Kelly, het na verskeie huise in Los Angeles gekyk voor hy die spoghuis in Bel-Air teen R420 miljoen aangeskaf het.Trevor Noah en sy meisie, Minka Kelly, het na verskeie huise in Los Angeles gekyk voor hy die spoghuis in Bel-Air teen R420 miljoen aangeskaf het. Foto: TheImageDirect.com/Magazinefeatures.co.za
Trevor Noah en Minka Kelly
Foto: TheImageDirect.com/Magazinefeatures.co.za

As kind het hy in ’n tweeslaapkamerhuis gebly wat op Soweto se bedrywige Vilakazistraat uitkyk. Dis waar hy en sy geliefde ouma Nomalizo gewoon het, en die plek waar sy herinnerings aan sy kinderjare lê. Maar sjoe, hoe het Trevor Noah nie sedertdien sy horisonne verbreed nie . . .

Die Suid-Afrikaanse komediant het onlangs ’n yslike huis in die spogwoonbuurt Bel-Air in Los Angeles gekoop, en van hier kan hy nou aan die een kant op die ruwe Santa Monica-berge uitkyk, en aan die ander kant op die uitgestrekte blou van die Stille Oseaan.

Dit het sowat R420 miljoen gekos – iets wat Trevor kan bekostig noudat hy ’n geskatte R424 miljoen per jaar verdien as aanbieder van die Amerikaanse program The Daily Show. 

Sy nuwe tuiste het ook die nuus gehaal oorsee, met die koerant The Los Angeles Times en die tydskrif Architectural Digest wat oor die aankoop berig het.

Trevor Noah se huis in LA
Die huis is deur Japannese kultuur en styl geïnspireer. Foto: Planet Photos/Magazinefeatures.co.za

Maar dis g’n wonder die dak oor Trevor (36) se kop kry soveel aandag nie – hy is deesdae immers een van die wêreld se voorste geselsprogramaanbieders en ’n groot ster in Amerika danksy sy skerp politieke kommentaar en tong-in-die-kies blik op wêreldsake.

En nou het hy ’n huis wat by sy salaris pas, én ’n maat om dit mee te deel – sy meisie, die aktrise Minka Kelly (40).

Trevor Noah en Minka Kelly
Trevor en sy meisie, Minka Kelly. Foto: TheImageDirect.com/Magazinefeatures.co.za

Die paartjie “is gelukkig en verlief”, sê ’n bron aan die tydskrif People, wat die gerugte bevestig dat Trevor die Los Angeles-huis vir hulle twee gekoop het. “Hulle maak planne vir ’n toekoms saam, en dis ’n baie stabiele verhouding,” het die bron bygevoeg.

“Hulle het die afgelope jaar tyd aan die wes- en ooskus van Amerika deurgebring en was op soek na ’n plek in Los Angeles vir hulle as paartjie.”

Trevor Noah se huis in LA
Die kamers het ’n lief­like uitsig en suite-bad­kamers. Foto: Planet Photos/Magazinefeatures.co.za
Trevor Noah se huis in LA
Foto: Planet Photos/Magazinefeatures.co.za

Van die straat af lyk Trevor se nuwe drieverdiepingwoning soos blokkies wat op mekaar gestapel is, terwyl lugfoto’s wys hoe die huis van 10 000 m² oor die afgesonderde heuwel-erf uitgestrek lê. Daar is ’n reeks oop ruimtes wat oor ’n netjiese agtertuin uitkyk, en ’n oorloopswembad met ’n uitsig op die see.

Die vorige eienaars, die argitek Mark Rios en sy man, die vrugbaarheidspesialis Guy Ringler, het die eiendom in 1996 gekoop en 15 jaar in die huis op die erf gewoon voor hulle dit afgebreek en breedvoerig vernuwe het.

Dit was die eerste huis wat Mark vir homself ontwerp het, en hy het 50 verskillende planne deurgedraf voor hy besluit het op dié skepping, wat deur die Japannese styl geïnspireer is.

“Die biblioteek is gegrond op ’n kamer in Kioto, met swaar, donker hout,” het hy in 2017 aan Architectural Digest gesê. “En die spa lyk byna soos die ou tradisionele herberge met gemeenskaplike baddens wat ek in Japan besoek het.”

Trevor Noah se huis in LA
Die drieverdiepinghuis het ses luukse slaapkamers en 11 badkamers, ’n spa, ’n gimna­sium, kantoor en fliekteater. Die sitkamer het groot glasmure vir ’n onbelemmerde uitsig. Foto: Planet Photos/Magazinefeatures.co.za

Die huis het ses slaapkamers, 11 badkamers, ’n hysbak, ’n biblioteek, kantoor, spa, stoomvertrek, gim en speletjieskamer.

“Ek was meer eksperimenteel en het meer aandag aan die besonderhede gegee met hierdie huis as wat ek vir vorige kliënte gedoen het,” het Mark vertel. Die mure is 45 cm dik om enige geraas van buite af te verminder. “Ek is totaal obsessief oor proporsies en presiese afmetings, tot op die naaste duim,” verduidelik hy.

“Dit verander hoe ’n huis voel.”

Die huis het ook ’n yslike eetkamer, sitkamer en tuisfliekteater waaruit ’n mens op ’n dakterras kan uitloop, “wat dit lekker maak om te onthaal”, sê Mark. Met die druk van ’n knoppie verdwyn die mure van die fliekteater sodat ’n mens die uitsig van die dakterras af kan sien.

Die hoofslaapkamer se een muur bestaan volledig uit vensters wat óók ’n mooi uitsig bied, en daar is dubbele inloopkaste vir die paartjie en twee badkamers met verhitte klipvloere.

In die agterplaas is ’n cabana met ’n kroeg en sondek wat op die welige groenigheid van die buurt uitkyk. By die ingang van die eiendom is ’n geometriese grasperk en spoggerige binnehof met plek vir minstens 10 motors.

Trevor Noah se huis in LA
Die biblioteek is op ’n kamer in Kioto gegrond. Foto: Planet Photos/Magazinefeatures.co.za

Binne-in die huis sorg talle glasmure – waarvan baie kan wegvou – vir optimale lig en die beste uitsig op die vallei.

Die huis is aanvanklik in 2018 vir R533 miljoen in die mark geplaas, maar die bedrag is later verminder en Trevor het dit toe voor ander belangstellendes opgeraap. Dis die ideale liefdesnessie vir hom en Minka.

Hoewel hulle nog nie amptelik hul verhouding bevestig het nie, sê dié wat weet die paartjie is “baie ernstig” oor mekaar. En een ding is seker: Trevor voel waarskynlik nou soos die prins van Bel-Air in sy nuwe spoghuis.

Trevor se vorige aankope in Amerika
  • Sy New York-woonstel Trevor het in 2017 ’n dakwoonstel in die Stella Towers in die hartjie van Manhattan gekoop. Dit het R130 miljoen gekos.
  • Sy eerste huis in Bel-Air Twee jaar nadat hy die woonstel gekoop het, het hy in 2019 ’n eiendom in Bel-Air in Los Angeles gekoop. Hy het dit destyds vir R279 miljoen gekoop en later vir R350 miljoen verkoop.
BRONNE: ARCHITECTURAL DIGEST, LA TIMES, REALTOR, WALL STREET JOURNAL, SLATE, BUSINESS INSIDER, MARKET WATCH, BALTIMORE SUN 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe