Die aktrise het onlangs ’n video van haar jongste dogtertjie, Lara (4), in die sosiale media gedeel waarin sy besig is om eko-bakstene te maak.

View this post on Instagram

These moments count the most. Magic! #bekind #brave #create #togetherness #charaiveti #love #disvovering #mykids @projectbraveheart @mammas247

A post shared by Quinne Brown (@quinnebrown) on

In die video verduidelik klein Lara, wat in Amerika gebore is, in ’n sterk Amerikaanse aksent stap-vir-stap hoe jy ’n eko-baksteen by die huis kan maak deur plastiek met ’n stokkie in ’n 2 liter-plastiekbottel te druk.

"En wat kan jy met eko-bakstene maak?" vra Quinne haar dogter. "Jy kan enigiets bou," laat Lara hoor. "Net nie woude en plante nie. Jy kan huise bou, skole en tuinruimtes. Enigiets wat uit bakstene gemaak word," vertel Lara.

"Al was ek omgewingsbewus voor ek ’n aktrise was, het Lara by die skool geleer hoe om eko-bakstene te maak en wou sy hê ons moet dit by die huis beproef,” vertel Quinne aan Huisgenoot.

"Ek deel ook nie graag foto’s van my kinders in die sosiale media nie, maar omdat dit ’n saak na aan my hart is, moes ek," sê sy.

"As ons ’n skoonmaakveldtog in parke doen, sal sy altyd kwaad raak oor mense wat rommel strooi of vra: 'Mamma, wat kan ons doen om te verhoed dat mense rommel strooi'," voeg sy by.

Quinne en haar man, Ryan Huffman (43), het 10 jaar in Amerika gewoon voor hulle in 2016 na Suid-Afrika teruggekeer het. Die paartjie en hul dogters, Lara en Charlotte (7), het in Johannesburg nesgeskop. Ryan besit ’n bierbrouery hier.

In die video wat Quinne van hul jongste spruit gedeel het, kom haar Amerikaanse aksent sterk deur terwyl sy Engels met Lara praat. Sy praat elke af en toe nog in die aksent wanneer sy met haar dogtertjies praat, sê Quinne. "Dit hang af met wie ek praat en hoe moeg of wakker ek is."

En geniet hulle dit nog in Suid-Afrika?

"Ons is baie gelukkig; ons het familie en vriende hier. Omdat familie vir ons baie belangrik is, probeer ons om elke twee jaar Amerika toe te gaan, maar dis nie altyd moontlik nie," sê Quinne.

As sy nie op die stel van 7de Laan is of in die tuin woel en werskaf nie, doen sy ook motiveringspraatjies vir vroue by skole en kerke oor wat jou keuses bepaal en hoekom sy weer teruggekeer het na Suid- Afrika.