Sorina en haar man, Braam Riekert, het onlangs vakansie gaan hou in Hartenbos saam met hul twee kinders, hul tweejarige dogter, Miana (2), en haar ouboet “Braambossie,” soos Sorina haar vierjarige seuntjie, Braam, noem.

Die twee kleingoed het omtrent lekker op die strand baljaar.

Sy het verskeie foto’s van haar "krulkoppie pragpoppie", soos sy klein Miana noem, met haar 11 800 Instagram-volgelinge gedeel.

"Sondag in die vliegtuig op pad na ons seevakansie. Mamma Sorina: 'Sussetjie, kyk uit by die venster!' Miana: 'Wag ek chill nou eers...'" skryf Sorina by ’n foto waar klein Miana met ’n groot sonbril by ’n venster in die vliegtuig sit.

Haar volgelinge kon nie genoeg kry van die kiekie nie. "Sy is te oulik vir woorde," skryf een. "@sorinaflooze sy het ma se gladde bekkie gekry," sê nog een.

By nog ’n foto waar Miana met seesand speel, skryf Sorina: "My krulkoppie pragpoppie. My liefde vir jou is só baie soos die korreltjies sand langs elke strand. En selfs al die sand saam, kom steeds nie naby hoe ontelbaar lief ek jou het nie."

"Miana is ’n borrelende dogtertjie, vol energie en sy lag altyd," vertel Braam aan Huisgenoot.

Pa Braam moes gisteraand na die twee spruite kyk toe Sorina die jaarlikse kykNET-Fiëstaspryse in Kaapstad bygewoon het.

Die sangeres en aktrise was by die Fiëstas benoem vir beste vroulike byspeler vir haar rol in die verhoogproduksie Antie Pohl wat verlede jaar onderskeidelik by die Innibos-kunstefees in Mbombela en Aardklop in Potchefstroom opgevoer is.

Sorina vertolk 10 verskillende rolle in dié komedie wat handel oor teenoorgesteldes wat mekaar aantrek.

"Om as aktrise benoem te word nadat ek vir die eerste keer in 10 jaar weer in die skoene van teater-aktrise gestaan het én dit nog om 10 verskillende rolle te vertolk - van komedie tot baie ernstige drama - is a total dream come true en ’n eer wat mens nie kan beskryf nie. Dankie aan almal wat deel was van die great produksie Antie Pohl én deel is van my humble journey as kunstenaar, aktrise, sangeres, mens en mamma,” het sy op Instagram geskryf.

En hoe voel Braam oor sy vrou, Sorina, se benoeming?

"Dis absoluut ’n voorreg en prestasie. ’n Benoeming is so goed soos ’n wen," sê hy aan Huisgenoot.

"Dis ’n goeie manier om erkenning te kry vir haar werk en talent. Dit maak ’n mens baie trots en dis ook ’n goeie hupstoot vir haar," voeg hy by.

Die aktrise Lee-Ann van Rooi van Die Boekklub- en Sara Se Geheim-faam het eindelik met die prys as beste vroulike byspeler weggestap vir haar rol in die teaterproduksie Kinnes.