Die Amerikaanse aktrise (42) het die oulikste foto's van haar en haar gesin se tyd hier in die Wes-Kaap op Instagram gedeel.

Maar dit is nie net pret en plesier nie. Sy is eintlik hier om tonele vir haar opkomende fliek Monster Hunter in Kaapstad te verfilm, wat op die gelyknamige videospeletjie gegrond is. Sy gee haar aanhangers gereeld in die sosiale media ’n voorsmakie oor waarmee sy, haar rolprentregisseur-man, Paul Anderson (53), en hul dogters, Ever (10) en Dashiel (3), besig is terwyl hulle hier ’n Kaapse draai maak. Milla deel die inskrywings onder die hutsmerk #CapeTownDiary.

Op van die foto's span hulle op Boulders Beach tussen die Afrika-pikkewyne uit.

Kyk die foto's hier:

Milla en haar gesin het ook by Kaappunt uitgespan. “Ons het saam met die gesin gegaan en twee nuwe, ongelooflike vriende wat ons deur die wonderlike ervaring ontmoet het," skryf sy. Ed Mallue en sy vrou, Natalie, wat in die Amerikaanse weermag is, het Suid-Afrika toe gevlieg om weermagraadgewers vir die fliek te wees, skryf Milla. Hulle het saam met Milla en haar gesin by Kaappunt ontspan. Sy sê sy het ’n "pragtige uitsig van die bokant van Kaappunt af” gehad.

Milla en haar gesin het ook onlangs die Sanbona-natuurreservaat in Montagu in die Klein-Karoo besoek.

“Dit was die reis van 'n leeftyd! Dit is ongelooflik hoeveel ons die afgelope paar dae hier gesien het, maar ons het net die oppervlak geskraap. Die ervaring vir die kinders was so belangrik. Die herinnerings wat hulle sal hê, die waardering vir die natuur en die prag van die wild, is iets wat hulle altyd sal onthou,” skryf sy op Instagram by foto’s van haar en haar oulike gesin.

Hulle het wildsbokke, olifante, zebras en leeus tydens hul besoek aan dié natuurreservaat gesien, skryf Milla.

Die aktrise wat al te sien was in flieks soos Resident Evil en Zoolander, het ook tonele in die Atlantis-duine buite Kaapstad vir Monster Hunter verfilm.

“Dit was asemrowend,” sê sy oor dié ervaring. "Daar is wit sand so ver as wat die oog kan sien (ook in almal se oë en tande)," skerts sy. 

Sy het ook foto's van haar eerste week op die stel in die Atlantis-duine gedeel.

Sy het verlede maand ook op Instagram foto's van haar en haar gesin gedeel wat in Kaapstad uitspan.

Nog hope pret en avontuur lê duidelik vir Milla en haar gesien hier in Suid-Afrika voor.