“Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie, Harper Pretorius,” het die aktrise Simoné Pretorius Sondagaand by ’n video op Instagram geskryf. 

Die video begin met die aktrise wat na die kamera kyk en vir Andries (30) vra of hy “reg” is. Andries lig dan ’n groot, helder teken op met die woord “Harper” daarop terwyl die rapper Kanye West se liedjie “Follow God” in die agtergrond speel.

Die paartjie straal behoorlik van blydskap en opgewondenheid terwyl hulle op maat van die liedjie dans.

Die inspirasie vir hul eersteling se naam het tydens Andries se stiltetyd begin, skryf Simoné op Instagram.  

“Op ’n dag tydens Andries se stiltetyd het die Here vir hom ’n visioen gewys van ’n dogtertjie wat in ’n oesveld staan met haar arms wyd uitgestrek,” skryf die aktrise, wat nou in die dramareeks Swartwater op SABC2 te sien is. “God het gesê dat wanneer sy aanbid, sal sy die hemel tot stilstand bring.”

Nadat Simoné die aand teruggekom het van ’n fotosessie vir ’n juweliersmaatskappy, het sy vir Andries die laaste foto gewys wat geneem is.

“Die kleure van die lug het in mekaar gesmelt, en dit was absoluut asemrowend; dit het soos ’n heilige oomblik gevoel.”  

Nadat sy vir hom die foto gewys het, het Andries emosioneel geraak. “Dit was die presiese visioen wat God vir hom oor ons dogter gewys het,” het sy verder in die sosiale media geskryf.

Die lang pad voor die besluit

Volgens Simoné het dit lank geneem voor hulle op die naam Harper vir hul eersteling besluit het. 

“Ons het die betekenis agter alles wat ons gesien het wat mooi is, gaan soek, want naambetekenisse is vir ons belangrik," vertel Simoné aan Huisgenoot.

Toe Simoné uitgevind het haar eie naam beteken “die Here hoor”, het dit ’n groot impak op haar verhouding met die Here gehad. “Ek het nog altyd geweet dat wat ook al ek my kinders gaan noem, rêrig deurdag en betekenisvol gaan wees,” vertel sy. 

“Dit moet rêrig kom uit ’n plek van waar jy die Here soek, en hoor wat Hy sê.” 

Daarom was dit vir die paartjie belangrik om die perfekte naam te kies. “Ons soek toe ‘Harper’ op, en al wat dit gesê het, was ‘harpist’,” vertel sy. “Ons was toe ’n klein bietjie teleurgesteld, want dit klink ’n bietjie vervelig.”

Sy het toe besluit om haar na die Bybel te wend, en so lees sy toe 1 Samuel 16:14-23.

“Ek lees toe oor Dawid wat die harp gespeel het vir koning Saul toe ’n boosaardige gees hom geteister het. Terwyl Dawid die harp vir hom gespeel het, het Saul bedaar en die boosaardige gees het hom verlaat,” vertel sy. 

In daardie oomblik, sê Simone, het die Here vir haar en Andries gewys dat Harper wêrelde gaan verander, net soos Dawid se harp. 

“Baie goed het toe begin sin maak,” vertel sy. “En toe’t die naam al hoe meer begin pas by die profetiese woorde, visoene en dinge wat ons ervaar het.”

Die gelukwensinge het op Instagram ingestroom nadat Simoné haar eersteling se naam bekend gemaak het.

“Jy is so geliefd, klein Harper Pretorius,” het die aktris Donna-Lee Roberts geskryf.

“So unbelievably mooi! Prys die Here! So opgewonde saam met julle,” het die TV-aanbieder en voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam laat hoor. 

Die Survivor-ster Katinka Oosthuizen het ewe gespot en gevra of die paartjie nie hul besluit wil heroorweeg vir “Handries” nie. 

Andries het hierop gereageer en gespot dat dit by verre die tweede opsie was. 

Simoné het voor sy en Andries Harper se naam bekendgemaak het, raaiskote op haar Instagram Stories gedeel. 

“Dit was sommer net ’n prettige manier om mense te betrek,” vertel sy. “Ons het gedink ons sou die naam vroeër vir mense vertel, maar ons het toe nie.

“Toe ons nou besluit om haar naam met mense te deel, het baie oulike en kreatiewe name uitgekom,” vertel Simoné. 

Die begin 

Volgens Simoné was die laaste nege maande ’n tyd wat haar karakter geslyp het.

“Sodra jy voel jy’t die oorhand, of jy’t een ding oorkom soos sooibrand, dan kom die drie keer ’n aand se opstaan om te gaan piepie,” spot sy oor haar swangerskapreis. 

Die laaste paar maande was ’n groot vreugde vir haar en Andries, hou sy vol. “Dit was ’n baie geseënde en heilige tyd,” vertel sy. 

Toe Simoné uitvind sy verwag haar eersteling, wou sy die nuus aan die hele wêreld uitbasuin.

Maar die paartjie het toe later besluit om dit vir eers stil te hou nadat hulle deur die eerste brose stadium van die baba se ontwikkeling is. Hulle het verlede jaar op 26 Oktober die babanuus aan haar aanhangers in die sosiale media bekendgemaak. 

“Woorde kan nie ons euforie beskryf nie,” het sy op Instagram geskryf. 

simoné en andries pretorius
Hul baba sal die eerste kleinkind aan albei kante van die familie wees. Foto: Marguerite van Eeden

Simoné en Andries is al sedert 2015 ’n paartjie. Hulle het twee jaar gelede in ’n prentjiemooi bruilof buite Bela-Bela in Limpopo afgehaak. 

“Dis die beste twee jaar van my lewe en verreweg die beste besluit wat ek al ooit gemaak het. Andries is die grootste geskenk van die Here af, en ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.

“Ons is regtig lief vir mekaar en is mekaar se beste vriende. Ek is net so dankbaar om iemand te hê wat ondersteunend is en wat ek geniet,” het die aktrise voorheen aan Huisgenoot vertel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.