’n Jong aktrise lê ’n oudisie af vir die 1976-weergawe van die ikoniese rolprent King Kong. Sy is feitlik onbekend buite New York se teaterkringe en het geen ervaring van rolprentwerk nie.

Hoewel mense wat al haar merkwaardige spel op die verhoog gesien het van haar talent kan getuig, sien die vervaardiger Dino De Laurentiis net een ding raak – haar gesig.

“Dis so lelik. Hoekom het jy dit vir my gebring,” kla hy in Italiaans by sy seun, Federico. Die naam van die aktrise: Meryl Streep. En ongelukkig vir Dino het sy aan die Vassar College in New York Italiaans studeer en verstaan sy wat hy sê.

“Ek is baie jammer dat ek nie so beeld­skoon is soos wat ek moet wees nie, maar weet jy, dis dit. Dit is wat jy kry,” kap sy terug in sy moedertaal en stap by die deur uit.

Dino was kwalik die laaste kritikus wat Meryl onderskat het. Deur hoogtepunte, laagtepunte, meer as 60 flieks, dosyne aksente, een man en vier kinders het die ikoon ouderdomsdiskriminasie uitgedaag en een van die mees gevierde aktrises van die afgelope vier dekades geword.

Op 70 is Meryl Streep steeds een van die wêreld se
Op 70 is Meryl Streep steeds een van die wêreld se rolprentsterre wat die meeste geld laat instroom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy verdiep haar in elke rol – van ­Sophie’s Choice, waarvoor sy Pools leer praat het, tot die nuwe lewe wat sy in die geliefde Amerikaanse sjef Julia Child in Julie & Julia geblaas het en in die voormalige Britse premier Margaret Thatcher in The Iron Lady.


Merkwaardig genoeg word sy net gewilder by die loket hoe ouer sy word. The Devil Wears Prada het destyds sowat R2,2 miljard laat inrol. Haar gewilde Mamma Mia!-flieks het omtrent drie keer soveel gemaak.

Die ironie is natuurlik dat Meryl ’n groot kans gewaag het deur te weier om haar artistieke ideale in te boet, en nou – op 70 – laat sy net soveel geld by die loket instroom as die 29-jarige Jennifer Lawrence.

THE DEER HUNTER

Daarin het Meryl die rol vertolk van ­Linda, ’n kleindorpse meisie wie se kêrel, Nick (Christopher Walken), ná ’n traumatiese ervaring oorsee uit die weermag dros. Linda vind troos in die arms van Nick se beste vriend, Mike (Robert De Niro), maar hy is meer verknog aan sy vermiste vriend.

Anders as die mans se rolle het Linda skaars op papier bestaan.

“Sy’s die soort meisie saam met wie ek op hoërskool was,” sê Meryl. “Die soort wat wag om na die matriekdans gevra te word, om gevra te word om te trou en vir haar minnaar om terug te kom van die oorlog af.”

Met minimale dialoog en maksimale emosie help sy ons verstaan waarom ­Linda sou bly wag vir haar minnaar pleks daarvan om ’n bus na letterlik enige ander plek te haal – en nooit terug te kyk nie.

Haar eerste groot fliekrol was in The Deer Hunter
Haar eerste groot fliekrol was in The Deer Hunter saam met Robert De Niro.

As deel van haar karakterstudie demp Meryl Linda se stem en onafhanklikheid. Sodoende weerspieël sy ’n geloofwaardige vroulike ervaring vir vroue wat op hul tuisdorpe gewortel en gekondisioneer is om mans te dien in goeie en slegte tye.

“Ek wou die gehoor ’n ander dimensie van haar laat ervaar,” verduidelik Meryl. “Sy’s die vergete mens in die draaiboek en ook in die karakters se lewe.”

KRAMER VS. KRAMER

Vir die rol van Joanna Kramer is groter name oorweeg: Ali McGraw, Faye Dunaway en Jane Fonda. Maar daar is ál meer oor Meryl gegons, en danksy ’n voorbarige agent het sy die kans gekry om die ­regisseur, Robert Benton, die vervaar­diger, Stanley Jaffe, en die fliek se ster, Dustin Hoffman, te ontmoet.

“Meryl het opgedaag en daar gesit,” vertel Robert. “Ek dink nie die onderhoud het meer as 15 of 20 minute geduur nie, en dit was . . . die ergste onderhoud wat ek al ooit in my jare in Hollywood met ’n akteur gehad het.

“Die ergste. Die ergste. Sy het by die deur uitgestap en Dustin het vir my gekyk en ek het vir Dustin gekyk en ons het gesê: ‘Dit is ­Joanna Kramer.’ ”

Miskien weet jy al dat Meryl en Dustin op die stel van Kramer vs. Kramer vasgesit het. So nie, maak jou reg vir ’n verhaal oor hoe jy nié ’n kollega moet behandel nie.

Meryl het Dustin ’n hele paar jaar tevore ontmoet toe sy ’n oudisie afgelê het vir ’n Broadway-stuk waarvan hy die regisseur was, All over Town. Hy het ’n aak­lige eerste indruk gemaak.

“Ek is Dustin Hoffman,” het hy gesê, ’n wind opgebreek en haar bors gegryp. (Dustin het glo later vir daardie voorval verskoning gevra.)

Dustin, wat by die Actors Studio in die Stanislavski-metode opgelei is, het diep in Ted Kramer gedelf, en die skeidslyn tussen hom en sy karakter het vervaag.

Op daardie tydstip het sy skeiding van sy vrou van byna 10 jaar, Anne Byrne, die ma van sy twee dogters, hom heelwat stof gegee waaruit hy kon put. Hy het geweet Meryl het nog gerou oor haar kêrel, John Cazale, wat vroeër daardie jaar aan longkanker gesterf het. Sy kon dit benut, het hy besluit.

Meryl het ’n Oscar gewen vir haar vertoning in Kra
Meryl het ’n Oscar gewen vir haar vertoning in Kramer vs. Kramer, maar het later onthul hoe sleg haar medester Dustin Hoffman haar behandel het.

Hy het voor die kameras begin rol die woorde “John Cazale” in haar oor ge­fluister om ’n emosioneler reaksie in haar spel te ontlok. Maar op die tweede dag van verfilming het hy te ver gegaan. Hulle het Joanna se dramatiese vertrek geskiet met haar wat in trane vir Ted sê sy het hom nie lief nie en dat sy van hom weggaan – sonder hul seun, Billy.

“Ons was veronderstel om in ’n gang uitgestap te kom. Daarom het ons in die vertrek, agter die deur, begin, en toe hulle ‘aksie’ roep, het Dustin omgedraai en my deur die gesig geklap.”

Die klap het “groot, rooi vingermerke op my wang” gelaat, vertel sy. Robert was geskok. Meryl, altyd professioneel, het met die toneel voortgegaan. Maar ná Kramer sou Dustin nooit weer met haar mors nie.

“Hy het dit te ver gevat,” het sy in 2018 daaroor gesê, maande nadat die #MeToo-­veldtog sy geskiedenis van seksuele wangedrag en buffelagtige optrede teenoor vrouekollegas ontbloot het.

“Maar ek dink daardie dinge word op hierdie oomblik reggestel. En dit word nie polities reggestel nie; dit word waarlik reggestel. Dit sal reggestel word, want mense sal dit nie meer aanvaar nie.”

THE FRENCH LIEUTENANT’S WOMAN

Om Sarah Woodruff se toespraak in die 19de eeu vas te vang, het Meryl ’n stem­afrigter gehuur en hardop uit Jane Austen en George Eliot se boeke voorgelees. Sy het foto’s van geisjas bestudeer “omdat hulle ’n hoogs geformaliseerde soort vroulikheid gedemonstreer het”, sê sy.

“Ek het baie met my gesig verklap en wou daaraan werk om minder te onthul. Sarah is verborge, bedek – dit is wat Charles verlei en hom sy hele leefwyse laat prysgee.”

Om ’n dramatiese rooi pruik en volle korset 10 uur op ’n slag te dra het Meryl gehelp om in haar karakter se vel te klim. Sy het onverwagte keuses gemaak, soos om te giggel pleks van huil wanneer Charles haar aanrand.

In The French Lieutenant’s Woman saam met Jeremy I
In The French Lieutenant’s Woman saam met Jeremy Irons.

“Dit was een van die wonderbaarlikste oomblikke van toneelspeel wat ek al ooit gesien het. Die beste is dat hulle dit ses keer verfilm en sy dit net een keer gedoen het,” het die regisseur, Mike Nichols, later verwonderd vertel.

“Om uit jou innerlike bronne te kan put en te weet dis die diepste deel van die karakter – dís wat dit is om ’n wonderlike rolprentaktrise te wees.”

Vir haar moeite is sy met talle eer­bewyse beloon, waaronder ’n Bafta en Golden Globe vir beste aktrise, en ook ’n Oscar-­benoeming. (Katharine Hepburn het daardie jaar vir On Golden Pond gewen.)

Maar terugskouend het Meryl steeds geglo sy het nie genoeg gedoen nie.

“Ek het nie gevoel asof ek dit regtig beleef nie,” het sy in 2016 in The Graham Norton Show erken. “Agterna wil ’n mens dit altyd nog beter doen.”

SOPHIE’S CHOICE

Haar volgende uitdaging: Sophie Zawistowska. In April 1980 het die gerugte die ronde begin doen dat Meryl die oorlewende van die Joodse volksmoord in die silwerdoekverwerking van die top­verkoperroman Sophie’s Choice sou speel.

Goldie Hawn wou die rol hê, en Barbra Streisand was bereid om ’n kleiner salaris te aanvaar. Maar Meryl Streep was die skrywer en regisseur, Alan J. Pakula, se eerste keuse.

Al het sy haar hart en siel in die voorbereiding vir die rol gestort, het sy aanvanklik gesukkel om ooreenkomste met die karakter te vind. “Die probleem was dat Sophie soveel van ’n slagoffer was,” verduidelik sy. Maar die aktrise het mettertyd by haar begin aanklank vind.

“Ek het besef sy het wel ’n bietjie moed, ’n bietjie ruggraat.” Sy het Sophie se veerkragtigheid bewonder, hoe sy ­terugslae “met soveel energie en lewenskrag” te bowe kom.

Maar eers toe sy Pools leer, het Meryl haar werklik leer ken. Sy het vyf maande lank onderrig in die taal ontvang.

“Ek het gedink dit sou doodmaklik wees, soos om Italiaans of Frans of iets aan te leer – maar dit is nie,” sê sy. “Dis baie soos Latyn.”

Voor sy vertrek het na Zagreb, in die destydse Joegoslawië, waar die konsentrasiekamptonele saam met ’n Europese rolverdeling verfilm is, moes Meryl tydens haar blaaskans ’n nuwe taal aanleer.

Alan het die oorlogstonele in Engels geskryf, maar het op die nippertjie besluit dit moet in Pools en Duits verfilm word. Vir Meryl het dit ’n blitskursus in laas­genoemde beteken.

Vir haar uitbeelding van Sophie Zawistowska, die o
Vir haar uitbeelding van Sophie Zawistowska, die oorlewende van die Joodse volksmoord in Sophie’s Choice, het sy ’n Oscar ontvang.

Sy het baie gewig afgeskud deur ’n streng dieet te volg. Dit het behels dat sy min vloeistowwe drink en kos eet wat in ’n voedselverwerker fyngekap is. Op kamera was sy net vel en been – ’n skadu van Brooklyn se Sophie – met ’n kort pruik, verkleurde tande en hartseer, waaksame oë wat botsende emosies – wanhoop en hoop – weerspieël.

Meryl het die toneel waar Sophie haar keuse maak net een keer gelees.

“Ek wou nie daaroor dink nie,” het sy gesê. “Ek het dit gememoriseer omdat dit in my hart gegraveer was. Toe ons dit skiet, wou ek dit nie weer doen nie. Ons het dit gedoen gekry. Ek hoef nie te gedink het: ‘Sê nou ek moes my seun agtergelaat het’ nie.”

SILKWOOD

Toe Meryl by die stel opdaag, het “sy steeds soos Sophie gelyk”, onthou die uitvoerende vervaardiger, Buzz Hirsch.

“Eers toe Roy Helland haar hare sny en kleur en haar die Karen Silkwood-­haarstyl gee, het sy eensklaps verander. Dit was werklik ongelooflik. Sy het Karen Silkwood geword.”

Weg was Sophie se goue lokke, en in die plek daarvan was ’n bruin mullet.

Die grootste deel is in Irving, Texas, geskiet. Naweke het Meryl se man, Don Gummer, en hul seun, Henry, kom kuier en in die swembad geswem.

Selfs met haar man en kleuterseun daar was Meryl “die hele tyd Karen Silkwood”, vertel Buzz.

Meryl met ’n mullet gehad toe sy Karen Silkwood ge
Meryl met ’n mullet gehad toe sy Karen Silkwood gespeel het.

Sy het ook weg van die kameras met ’n nasale Texas-tongval gepraat. Sy het vir Buzz gesê sy het in inkopiesentrums gaan sit en net geluister hoe mense praat.

Eendag het Meryl hom tydens ’n blaaskans tussen tonele verras.

“Sy het op my skoot kom sit, wat my in ’n mate geskok het en uiters koketterig was,” vertel hy.

“Toe die verfilming weer begin, het sy opgestaan, en toe sy wegstap, het ek gesê: ‘Ek sal jou sitplek vir jou hou.’ Sy het omgedraai en vir my ’n kyk gegee wat sê: ‘Wel, dít was voor op die wa.’ Maar dit was die karakter wat dit gedoen het.”

OUT OF AFRICA

Meryl se uithouvermoë tydens die 101 dae van verfilming in Afrika het die regisseur, Sydney Pollack, beïndruk.

“Almal behalwe sy het siek geword,” het hy vertel.

Terwyl hulle ’n lang toneel verfilm het van haar karakter, Karen Blixen, wat op haar plaas aankom, was Meryl volkome bedaard.

“Maar die oomblik toe Sydney skree: ‘Sny!’, het haar gesig vertrek. Sy het met haar vuis teen haar bors gekap en geskree: ‘Kry die ding hier uit!’ ” onthou die draaiboekskrywer, Kurt Luedtke.

“Die kostuumpersoon het haar rok oopgeskeur en ’n reusagtige insek het uitgeval! Dit moes dwarsdeur die toneel daar rondgekruip het, maar sy het haarself gedwing om dit te ignoreer.”

In nog ’n kortdaatstuk het Meryl by haar waaghals oorgeneem in die toneel waar Karen ’n leeu wegjaag wat op haar kampeerplek toeslaan.

Die waaghals was vreesbevange vir die dierasie.

“Daardie vrou was regtig bang, en sy het rede gehad om bang te wees,” vertel Meryl. “Ek het nie. Ek was daar buite met alles wat ek in my het.”

In een van die fliek se ikoniesste tonele was Denys (gespeel deur Robert Redford) Karen se hare langs die rivier.

Die ikoniese toneel in Out of Africa waar Robert R
Die ikoniese toneel in Out of Africa waar Robert Redford haar hare was.

Die skuimerige voorspel het mense aan die praat gehad nes Demi Moore en Patrick Swayze se wellustige pottebaktoneel in Ghost. Dit was egter belaai met ekstra seksuele spanning, want Karen het toe nog nie by Denys geslaap nie.

Robert het by die haarstilis op die stel, Roy Helland, raad gevra oor hoe om Meryl se haredos te was.

“Maak asof jy vuil sokkies was,” het Roy gesê.

“Baie mense het gedink Bob was stokkerig in Out of Africa,” sê Meryl. “Ek nie. Ek het gedink hy was subtiel – en net reg. Maar ek is die verkeerde een om te vra. Ek was smoorverlief op hom. Hy’s die beste soener wat ek al ooit in ’n fliek teëgekom het.”

HEARTBURN

Op die stel van die 1986-fliek het die ­akteurs en kameraspan opgemerk die akteur Jack Nicholson ontwikkel sterk gevoelens vir Meryl. Boonop was die regisseur, Mike Nichols, glo ook op haar verlief – maar Jack was baie minder subtiel.

“Meryl het dit goed ontlont wanneer Jack ’n bietjie te vriendelik geraak het,” onthou die vervaardiger, Bob Greenhut. “Sy was nie gemeen of neerbuigend nie. Sy het hom net goed hanteer.”

In sy 2013-biografie oor Jack het Marc Eliot berigte aangehaal dat Meryl “hom uit haar hotelkamer gegooi en gesweer het om nooit weer ’n fliek saam met hom te maak nie. Bronne het gesê die rede was Jack se genadelose seksuele toenadering.”

Saam met Jack Nicholson in Heartburn.
Saam met Jack Nicholson in Heartburn.

Maar Meryl het ontken dat dit gebeur het. Sy het in onderhoude bewonderend oor Jack se gesellige ­geaardheid gepraat, en oor hoe sy dors na nuwe ervarings hom dryf om ’n deelnemer aan die lewe te wees eerder as bloot ’n waarnemer.

Sy en Jack het in die 1987-drama Ironweed weer saam gewerk. Daarin het hulle twee swerwers in die Depressie-era gespeel wat in moeilike tye op mekaar steun.

THE DEVIL WEARS PRADA


Toe die akteurs vir die eerste deurlees van die draaiboek byeenkom, het die aktrise Emily Blunt Meryl heserig hoor lag. En toe, sowat 10 minute later, het die yskoningin van ’n tydskrifredakteur Miranda Priestly haar verskyning gemaak.

“Ek dink ons almal het ’n idee gehad van hoe Miranda sou klink,” vertel haar medester Anne Hathaway. “Dit was ’n skril, baasspelerige, blaffende stem. En toe Meryl haar mond oopmaak en basies fluister, het almal in die vertrek saam na hul asem gesnak. Dit was so onverwags, en so briljant.”

Vir haar rol as Miranda het Meryl mans as model gebruik, want daar is te min vroue in magsposisies om na te boots, het sy gesê. “Ek het die stem van Clint Eastwood gekry. Hy verhef nooit, ooit, ooit sy stem nie en almal moet vooroor leun om te luister. Dan is hy outomaties die magtigste mens in die vertrek.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
’n Geredigeerde uittreksel uit QUEEN MERYL deur Erin Carlson (Hachette Books. © Erin Carlson 2019). R419 by Takealot.com. Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennis­gewing.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.