Annelize het Donderdagmiddag ’n video op Facebook gedeel waar sy met ’n (ietwat koddige) hysbak by 7de Laan se nuwe ateljees in Johannesburg ry. 

In die video vertel sy hoe Matrone “niks van trapklim hou nie” maar dat die Laan se nuwe ateljees gelukkig ’n hysbak het waarmee sy kan ry. In die video spot sy ook lekker met haar kollegas se gerondhardlopery. 

“Daar is van my kollegas wat hier rondhardloop, onder andere Hilda (Annelisa Weiland). Sy gaan met die trappies op want sy is baie fikser en natuurlik kleiner as ek, maar dit is vir my te heerlik dat ek nie al hierdie duisende trappe hoef te klim nie.”

Kyk hier na die volledige video:

Annelize het aan Huisgenoot vertel sy was baie in haar noppies toe sy agterkom die nuwe ateljees het ’n hysbak. “Ek was baie bly toe ek dit sien, want al die baie trappe, heeltyd op en af, het my lekker moeg gemaak.”

Sy vertel ook dat van haar kollegas aanvanklik die hysbak geïgnoreer het, maar sy kom agter hulle gebruik dit ál meer. “Behalwe natuurlik Hilda. Sy trippel-trippel soos ’n regte feetjie op en af met die trappies. Ek, aan die anderkant, ry elke keer in die hysbak, of ek nou moeg is of nie.”