Idris (45) het onlangs sy debuut as regisseur gemaak in die fliek Yardie. En toe die prent onlangs by ’n rolprentteater in Londen vertoon is, het hy sommer die geleentheid gebruik om vir sy meisie, die model Sabrina Dhowre (29), die jawoord te vra – en dit voor ’n stampvol rolprenteater.

Idris, wat onder meer bekend is vir sy rol as Heimdall in die Thor-flieks en mees onlangs ook in die prent The Dark Tower te sien was, het voor sy nuwe fliek Yardie in die Rio Cinema vertoon is, op die verhoog geklim, op sy een knie afgegaan en Sabrina gevra om met hom te trou – en dit onder luide applous en gejuig van die gehoor.

Idris en Sabrina, wat in 2014 die Mej. Vancouver-skoonheidskompetisie gewen het, is sedert die begin van 2017 in ’n verhouding.

Hulle het verlief geraak terwyl hy in Kanada die fliek The Mountain Between Us met Kate Winslet verfilm het in die Vancouver-omgewing, waar Sabrina bly.

Hul verlowing op die verhoog by die Rio Cinema is die eerste van sy soort in dié gewilde teater in die Britse hoofstad.

’n Video wat deur die agent David Marsden-Sainou van die oomblik geneem is, is al byna 1,5 miljoen keer op die sosiale netwerk Twitter gekyk.

Volgens David was die verlowing heeltemal onverwags gewees en ’n mens kan duidelik in die video hoor hoe die toeskouers die nuus met ’n gejuig begroet.

Talle van sy vroulike aanhangers het ewe tong in die kies hul misnoeë uitgespreek dat die aantreklike Idris, wat twee kinders het, nou nie meer ’n losloper is nie en vir die derde keer voor die kansel gaan staan.

Baie geluk, julle!