’n Kloof tussen die sogenaamde fantastiese vier was al waaroor koninklike waarnemers die laaste ruk gegis het – maar as dié foto’s enigsins ’n aanduiding is, is spanning op die agtergrond geskuif toe die Cambridges en die Sussexe onlangs vir ’n bietjie pret in die son bymekaargekom het.

Dié geleentheid was die King Power Royal Charity Polo Day, wat gehou is ter ere van Vichai Srivaddhanaprabha, die Thaise miljardêr wat die Leicester City-sokkerklub besit het tot met sy dood in Oktober verlede jaar in ’n helikopterongeluk.

Al die geld wat ingesamel is, is aan liefdadigheidsorganisasies geskenk wat deur die prinse William en Harry gesteun word, en dié twee was in opponerende spanne in die polowedstryd.

Te midde van gerugte oor konflik tussen die broers sê bronne dat as enigiets hulle sal verenig, is dit dié sport waaraan hulle sedert hul kinderjare deelneem.

“Dis ’n wonderlike geleentheid vir hulle om tyd saam deur te bring, ’n band te smee en geld in te samel,” het ’n bron, wat gereeld saam met die prinse polo speel, aan Vanity Fair gesê.

Prins William en Harry het teen mekaar meegeding in die polowedstryd. Foto: Gallo Images/Getty Images
Prins William en Harry het teen mekaar meegeding in die polowedstryd. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar die polo het eintlik vir waarnemers tweede gekom, want daar was baie om te bekyk weg van die hygende perde en swetende mans op die veld.

Vir die eerste keer is Harry en Meghan se eersteling, Archie, op ’n informele uitstappie saam met sy ma gewaar. Dié het haar twee maande oue seun in haar arms vasgehou terwyl sy saam met skoonsus Kate onder die bome gekuier het.

Die twee hertoginne het op hul gemak by mekaar gelyk terwyl hulle hul kinders versorg het – en toe steel ’n sekere klein prinsie die kollig.

Kate

Kate, die hertogin van Cambridge, se derde spruit, Louis (15 maande), het sy ma se sonbril gedra, vir sy tannie Meghan en nuwe nefie Archie soentjies geblaas, aan sy duim gesuig en heerlik rondgehol.

George en prinses Charlotte. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kate, die hertogin van Cambridge, en haar kroos, prins Louis, prins George en prinses Charlotte. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hy was vol selfvertroue, parmantig en in beheer van alles wat hy bekyk het,” het die Daily Mail-joernalis Melanie McDonagh geskryf.

“Die Britse bevolking het een kyk na die foto’s gegee en Aaaw! gesê. Jy kon so te sê voel hoe styg die bruto binnelandse geluk.”

Kate, in ’n pienk L.K.Bennett-rok en wighakskoene, het gelag terwyl haar seun streke uithaal; soos altyd wanneer sy by haar kroos is, was sy in haar element.

William se spruite het in sokker belanggestel. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kate was geklee in ’n pienk L.K.Bennett-rok en wig
Kate was geklee in ’n pienk L.K.Bennett-rok en wighakskoene. Foto: Max Mumby/Indigo/Getty Images

Daar naby het haar twee oudste spruite, prins George (6) en prinses Charlotte (4), op die grasperk ’n bal rondgeskop. In ’n stadium het hul ma hulle na die motor geroep vir eetgoed wat sy in houers vir hulle ingepak het.

George en Charlotte het agterin die kar geklouter terwyl klein Louis op sy ma se skoot aan sy toebroodjies gesmul het.

George en Charlotte agterin die motor terwyl klein Louis op sy ma se skoot aan broodjies smul. Foto: Gallo Images/Getty Images
George en Charlotte agterin die motor terwyl klein Louis op sy ma se skoot aan broodjies smul. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ingeligtes meen Louis sal ’n beskermde lewe lei en Kate sal die vryheid geniet wat haar jongste se posisie haar toelaat.

“Sy het reeds ’n aanspraakmaker en spaar-aanspraakmaker in George en Charlotte voortgebring – Louis het geen dinastiese doel buiten homself wees nie,” sê ’n koninklike bron.

“George lyk dikwels selfbewus, maar in dié stadium is dit moeilik om Louis as enigiets anders voor te stel as die kind wat hy nou is: natuurlik en aansteeklik opgewek.

“Louis kan die ouer koninklikes ’n ding of twee leer: Moenie frons nie, moenie lyk asof jy iemand ’n guns doen nie; reageer net op alles met ongebreidelde geesdrif. En die wêreld sal van jou hou.”

Meghan

Die hertogin van Sussex was ook die ene glimlagte.

Sy het ontspanne gelyk ’n kakie maksirok deur Lisa Marie Fernandez wat R10 000 kos met ’n goue vlieëniersonbril deur Stella McCartney daarby. Sy het gereeld ’n soen op Archie geplant of teer na hom gekyk.

Ná die wedstryd het sy by Harry aangesluit. Met sy wange pienk van die oefening het hy sy kleinding saggies gestreel.

Meghan en Archie saam met pa Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images
Meghan en Archie saam met pa Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoewel Archie salig en tevrede gelyk het in sy ma se arms, is die manier hoe Meghan hom vashou op sosiale media bevraagteken.

“Dit lyk of sy op die punt is om hom te laat val,” het iemand gesê.

“Watter soort ma hou hul baba so vas?” het ’n ander opgemerk.

Wimbledon-fiasko

Soos talle koninklike waarnemers onlangs gewaarsku het: Dit lyk of die gety draai teen die voorheen gewilde Meghan, en sy sal ’n manier moet kry om haar weer geliefd te maak by die publiek wat eers so ontvanklik teenoor haar was.

Sy het haarself geen guns bewys toe haar lyfwagte aanhangers by vanjaar se Wimbledon verbied het om foto’s van haar te neem waar sy saam met twee vriendinne op die paviljoen gesit het nie.

’n Tenniskyker beweer hy het nie eens geweet sy was daar nie, en hy het bloot ’n selfie saam met Roger Federer op die agtergrond probeer neem. Toe hy weer sien, is hy weggeboender.

Broers

Maar by die polo was dinge gemoedeliker. William se span het die wedstryd gewen en Harry het vriendelik sy broer se hand geskud.

Prins William en prins Harry skud blad nadat ouboet se span as oorwinnaars uit die stryd getree het. Foto: Gallo Images/Getty Images
Prins William en prins Harry skud blad nadat ouboet se span as oorwinnaars uit die stryd getree het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ná maande van stilstuipe is William en Harry weer op goeie voet; dis ’n groot verligting vir die familie,” het ’n paleisbron aan Daily Express gesê. “Wie weet, daar’s baie ruimte vir hulle om in die toekoms saam te werk as hulle wil.”

Bronne: Daily Mail, Express, US Magazine, Hello, Vanity Fair, Mirror
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.