Die aanbieder van The Daily Show het ingenome gelyk om saam met die aktrise tyd deur te bring en breed geglimlag toe hulle die naweek in New York opgemerk is. 

Die boorling van Johannesburg was informeel aangetrek in ’n wit T-hemp en sportiewe kortbroek vir die sonnige middag in die Groot Appel, terwyl die Friday Night Lights-ster stralend gelyk het in ’n vloeiende oranje sonrok.

Trevor het alles uitgehaal vir die kameras terwyl
Trevor het alles uitgehaal vir die kameras terwyl die twee deur New York gewandel het. Foto: The Image Direct/Magazine Features.

Die twee het buite die Blackstone Coffee Roasters in Greenwich Village ’n rukkie stilgestaan om met iemand te gesels voor hulle hul wandeling deur die stad voortgesit het. 

Die 37-jarige komediant het opgewek gelyk en vir omstanders gewaai. 

Dit is nie die eerste keer dat hulle saam gesien is sedert verlede maand berig is dat hulle uitgemaak het nie.

Nadat Trevor en Minka (40) hul verhouding beeïndig het, het die twee ook laat in Mei na St. Barts gereis om te probeer opmaak. Terwyl hulle op die Karibiese eiland vakansie gehou het, het ooggetuies hulle gesien soen en omhels tydens ’n aandete by ’n Frans-Japanse restaurant. 

Minka het die wegbreek bevestig toe sy ’n vrolike Instagramplasing gedeel het van wat soos St. Barts gelyk het. Daarby het sy gesê sy is op haar “gelukkige plek”.

Volgens ’n bron pluis Trevor en Minka nog hul toekoms uit en is hulle nie amptelik terug by mekaar nie. 

“Trevor en Minka vat dinge dag vir dag. Hulle bestee meer tyd saam en is albei gelukkig. Hul gevoelens vir mekaar het nooit regtig weggegaan nie en nadat hulle ’n bietjie ruimte gevat het, het hulle besef hulle mis mekaar.” 

Die twee het in Augustus 2020 gerugte van ’n romanse laat ontstaan, en al het nie een van hulle ooit hul verhouding in die openbaar bevestig nie, was hulle glo “baie ernstig”. 

Die twee het na Blackstone Coffee Roasters in Gree
Die twee het na Blackstone Coffee Roasters in Greenwich Village gestap om koffie te koop. Foto: The Image Direct/Magazine Features.

Trevor het selfs in Desember ’n huis van sowat R371 miljoen in Bel-Air gekoop vir hulle om te deel. En in daardie stadium was hulle glo nog baie gelukkig en verlief. 

Toe in Mei berig is hulle is uitmekaar, het bronne lig gewerp op wat hulle ’n blaaskans laat neem het. 

“Hul werkverpligtings en loopbane is baie verskillend en hulle albei het gevoel hulle moet tyd weg van mekaar deurbring.”

Bronne: tmz.com, etonline.com, people.com, dailymail.co.uk, pagesix.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe