Dié voormalige 7de Laan-aktrise, wat deesdae ook ’n modeontwerper is, en haar man, Altus, deel graag foto’s van hul eersteling in die sosiale media. 

Die aktrise het onlangs ’n video op Instagram gedeel van klein Alexander wat uit volle bors sing en sy papierkitaar tokkel.

"Alexander se passievolle opvoering op sy papierkitaar, nadat hy sy oupa @josephkarlclark weer op die verhoog gesien het. (Nee, dit was nie ’n heavy metal show nie),” lui die inskrywing.

Joseph Clark is Zetske se stiefpa. Hy is getroud met haar ma, die aktrise Elzette Maarschalk. Zetske se pa, die akteur Pierre van Pletzen, het ook sy lyf musikant gehou in die VIA-reeks Die Ooms Se Band.

"Alexander steel al van kleins af die harte van almal rondom hom en is baie sjarmant,” vertel Zetske trots.

"Ons voel baie geseën om so ’n oulike, gesonde seuntjie te hê. Hy verryk ons lewe en ons is dankbaar vir hom,” het sy voorheen aan Huisgenoot gesê.

Dit klink of musiek in die seuntjie se bloed is. En na wie aard hy?

“Altus sing en speel kitaar, my broer (Peach van Pletzen) speel tromme en Alexander se oupa Joseph Clark is ’n sanger. Hy het hulle al drie al op die verhoog gesien en dit het ’n groot indruk op hom gemaak,” vertel Zetske aan Huisgenoot. Peach is ook in die groep Bittereinder.

Nou lyk dit of sy susterskind ook op pad is verhoog toe.