Dit kom voor asof Ben (46) maar net nie van die demone ontslae kan raak nadat hy verlede jaar ook stilletjies vir drankverslawing behandel is nie. Toe het hy reeds erken dit is nie die eerste keer dat hy die stryd teen die drankduiwel die hoof moes bied nie. Volgens gerugte het hy al in 2001 sy eerste besoek aan 'n rehabilitasiesentrum gehad.

Luidens berigte het Jennifer hom glo gesmeek om weer vir rehabilitasie te gaan. En dit lyk asof haar opregte kommer oor die man met wie sy 10 jaar getroud was en die pa van haar drie kinders is, wel tot hom deurgedring het.

Foto’s en video's het nou opgeduik waar sy hom Woensdag persoonlik na The Canyon-rehabilitasiesentrum in Malibu neem.

Sy het boonop op pad na die sentrum vir hom by Jack In The Box, sy gunstelingkitskosrestaurant, gestop en kitskos gekoop.

Ben was tot onlangs met Lindsay Shookus (38), die vervaardiger van Saturday Night Live, in ’n verhouding, maar sy aandag het onlangs na ’n 22-jarige Playboy-model, Shauna Sexton, verskuif.

Ben het glo aan vriende gesê hy geniet dit om nie in ’n ernstige verhouding te wees nie en die vryheid wat dit bring om uit te gaan met wie hy wil.

Hy en Lindsay is glo in Julie vir oulaas saam in die openbaar gewaar.

Ben en Lindsay is glo in Junie laas saam in die openbaar gesien. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar nou het Lindsay haar Instagram-rekening gesluit. Die bron het gesê Ben hou van ’n “vrou met ’n brein en skoonheid, maar wil vry wees om te doen wat hy wil”.

Shauna is glo self nie ingenome met die aandag wat die verhouding of flirtasie so baie aandag in die media geniet nie.

Hoekom het Jennifer ingegryp?

Nee, dit gaan nie oor sy flirtasies en verhoudings nie, maar Jennifer wil weet sy kan staatmaak op die man wat ouerskap van Violet (12), Seraphina (9) en Samuel (6) met haar deel. En as daardie mens nie nugter is nie, kan hy nie ’n verantwoordelike ouer wees nie.

Maandag was steelfotograwe daar toe ’n afleweringsdiens ’n aansienlike groot hoeveelheid alkohol, waaronder 'n boks bier en Johnnie Walker Blue Label-whiskey by sy huis aflaai.

Bronne: news.com.au, people.com, ew.com, dailymail.com