Jimmy Abbott is op Sondag 21 Maart oorlede.
Jimmy Abbott is op Sondag 21 Maart oorlede. Foto: Facebook.

In die slotepisode van die vyfde reeks het dié swaargewigbokskampioen die hartsnare geroer toe hy vir die eerste keer in jare weer sy Springbokbaadjie aangetrek het. 

“Sy pa het vir hom gesê toe hy sy Springbokklere kry: ‘Ja, gaan jy nou grootkop kry?’ en hy het net daar die Springbokbaadjie uitgetrek en gesê hy gaan dit nooit weer aantrek nie,” onthou Loren Greyling, ’n toesigvervaardiger van Slank, Jimmy se staaltjie.

“En met al hierdie gewig wat hy afgeskud het, het hy in die laaste episode nou weer hierdie baadjie aangetrek. Dit was regtig ’n beautiful oomblik,” vertel sy.

Jimmy is Sondagaand 21 Maart by sy huis in Heidelberg, Gauteng, weens hartversaking oorlede.

Die slotepisode is op Sondag 28 Maart uitgesaai en is sowat twee maande gelede verfilm.

“Ek kan nie onthou dat hy die baadjie een keer aangehad het terwyl ons getroud was nie. Ons het net ’n foto eenkeer geneem, nadat hy die beroerte gehad het en soveel gewig verloor het,” vertel Jimmy se vrou, Annette Abbott, aan Huisgenoot.

“Ek dink dit was vir hom ’n groot deurbraak. Ek dink hy het opgegee om ooit weer gewig te verloor. Ek kon in sy gesig sien dat hy dit amper nie kon glo nie,” sê sy.

Aan die begin van die seisoen het Jimmy die skaal op 190 kg laat kreun, maar teen die einde van sy Slank-reis was hy 25 kg ligter.

“Ek is baie trots op jou, Jimmy.  En ek wil vir jou sê jy verdien hierdie baadjie en jy verdien Springbokklere in jou lewe. Jy is regtig ’n inspirasie vir so baie mense. Jy moet dit weet,” sê die aanbieder Leandie du Randt in die episode.

“En jy mag grootkop kry daaroor, want ek weet die Here se humility is binne jou. Jy sal nooit kan grootkop wees nie,” sê sy.

  • Slank se volle vyfde seisoen kan nou op die DStv Now-app gekyk word.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.