“Terwyl ek eintlik die laaste paar goed van my troue moet finaliseer, het ek en Juan dit goed gedink om gou saam te ry om ’n olifant te help met ’n tyre om sy nek,” het Shamodene (26) op Woensdag op Instagram geskryf. 

“Eerlikwaar die beste ervaring ooit,” het sy nog geskryf. 

Die lewensredders met die pragtige olifant agter.
Juan Boucher en sy verloofde, Shamodene Niemann, met die olifant wat hulle help red het. Foto: Verskaf

Dié paartjie, wat oor minder as twee weke gaan trou, het die Woensdag by ’n vriend op ’n plaas in die Wes-Kaap gaan kuier waar die voorval plaasgevind het. 

“Daar was hierdie tyres destyds op die plaas wat gehelp het met gronderosie. 

“Alles is meestal verwyder, maar daar was hier en daar tyres wat op die grond gelê het.

“Partykeer grawe die olifante dit uit en speel daarmee, en dan gaan dit oor hul kop,” vertel die sanger en liedjieskrywer. 

Maar met behulp van natuurbewaarders in die gemeenskap het dié paartjie en hul vriende die dier opgespoor. Dié groep het die olifant se bewegings op die plaas gemonitor en daarna, met behulp van ’n helikopter en ’n veearts, was die band af. 

“Ek is my hele lewe lank in die bosveld, so ek het baie te doen met diere, maar meestal probeer ek en Shamodene diere help,” vertel hy. 

Die olifant is nou volgens Juan
Die olifant is nou volgens Juan "hunkey dorey" en piekfyn. Foto: Verskaf

“Toe ek Shamodene ontmoet het, was dit vir haar die beste geleentheid om al my mense te ontmoet met hul plase sodat sy ook kan ervaar en ’n bietjie van haar droom kan uitlewe,” vertel hy.

Shamodene beplan om verder die veld te bestudeer en oor die volgende drie jaar moontlik natuurbewaring te gaan studeer. 

“Ek gaan haar bystaan daarmee, en van my kant af is ek altyd daar as ek kan uithelp,” vertel Juan.

Wat die troue betref, verloop die reëlings seepglad. Die paartjie het einde verlede week na ’n ander huis op die Olympus Country-landgoed in Pretoria getrek. 

“Ons trek na ’n plek toe om ’n bietjie ons groenvingers (te akkommodeer), want ek is lief vir plant.

“Nou fokus ons net op die troureëlings en die trek,” vertel hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe