Foto: Instagram (@tian.j.nel)
Foto: Instagram (@tian.j.nel)

Pulane en haar kêrel van die afgelope jaar en ’n half, Tian Nel, het op 16 Januarie vanjaar verloof geraak. 

“Ek het lank terug, ek dink met ons eerste afspraak al, vir Tian gesê ek wil by ’n waterval gevra word om te trou, en toe het hy wraggies een gekry. Dit was in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Johannesburg,” vertel Pulane, wat die televisieprogramme Nou of nooit en Kom ons trou, nou! op VIA aangebied het. 

Pulane Sekepe en haar verloofde, Tian Nel. Foto: V
Pulane Sekepe en haar verloofde, Tian Nel. Foto: Verskaf

Sy en Tian het mekaar op “die mees Millenniër-manier ooit” ontmoet, verklap Pulane. 

“Ons het mekaar op (die afspraak-app) Tinder ontmoet. Tian is ’n skrywer en ’n passievolle, kreatiewe siel wat die wêreld op ’n baie ander manier as ek sien. Hy is opreg en eerlik. En hy is so geniaal en weet baie van baie goed. Hy het die ongelooflikste idees en kan iets wat klaar bestaan net beter maak," vertel sy.

“Hy is kind - ek dink nie die Afrikaanse woord sê dit soos die Engelse een nie. Sy hart is goud en almal wat hom ontmoet is mal oor hom,” koer Pulane oor haar verloofde. 

Pulane en Tian het mekaar op Tinder ontmoet. Foto:
Pulane en Tian het mekaar op Tinder ontmoet. Foto: Verskaf

Die tweetjies woon in Braamfontein in Johannesburg. 

Pulane is mal oor die verloofring wat Tian aan haar vinger gesteek het. 

“Dis die mooiste ring in die wêreld. Ek is mal daaroor. Ons verjaar twee dae uit mekaar in Maart, so die steen in die middel is akwamaryn. Dis ons albei se geboortesteen. Die steen is omring deur diamante en die res van die ring is roosgoud,” vertel sy. 

Pulane se ring het ’n akwamaryn-steen, wat haar en
Pulane se ring het ’n akwamarynsteen, wat haar en Tian se geboortesteen is. Foto: Verskaf

Pulane is op die Oos-Kaapse dorpie Magwigi gebore, en sy en Tian het voor hul verlowing eers koers gekies soontoe om haar Sesotho-kultuur te respekteer. 

“Ons moes eers Oos-Kaap toe gaan om die lobola te doen. Ons wil baie graag ons albei se kulture respekteer en vier. Dus het ons eers die Sesotho-deel gedoen, en nou doen ons die Afrikaanse deel.

“So as gevolg van dit alles het ek eintlik geweet die verlowing kom,” vertel sy. 

Daar wag ook ’n bedrywige jaar op Pulane so met die troureëlings deur. 

“Ek is tans besig om aan ’n VIA-reeks te skiet waarvan ek die aanbieder is, maar wat ek nog nie mag noem nie. En ek is ook besig om die derde seisoen van die afspraakprogram Sê vir mamma te vervaardig.

“En ek is so opgewonde om vanjaar Die kontrak aan te bied."

Die sanger Bobby van Jaarsveld en Demi Lee Moore, wat in 2018 die eerste seisoen van die sangkompetisiereeks Die kontrak op VIA gewen het, is haar medeaanbieders. Die program skuif nou na e.tv.

"My produksiemaatskappy, Saliwe Productions, is ook besig om saam met die Food Network-kanaal aan ’n paar kookprogramme te werk,” vertel Pulane opgewonde. Praat van bedrywig.