Hannes van Wyk in sy fabelagtige huis in Kaapstad.
Hannes van Wyk in sy fabelagtige huis in Kaapstad. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Van die straat se kant ver­steek die karaktervolle ou huis met sy uitkyk­toring sy vele geheime, maar ’n soldervenster­tjie verklap dit is dalk ’n huis met baie stories dié. En binne wag inder­daad iets besonders. Jy besef gou hierdie woning het net soveel kante soos sy talentvolle baas.

Dis uitspattig én beskeie, ouderwets én mo­dern, ’n viering van uiteenlopende style. Om elke hoek en draai weerspieël dit die persoonlikheid van Hannes van Wyk: televisieaanbieder, akteur, skrywer en vernuftige tuisteskepper.

Hy vier vanjaar 30 jaar in die plaaslike vermaakbedryf en het ingestem om vir Huisgenoot sy koninkryk hier in Kenil­worth, ’n suidelike voorstad van Kaap­stad, te wys sodat lesers ná al die jare kan sien hoe sy lewe agter die skerms lyk. En wat ’n stukkie paradys is dit nie!

Oor Hannes het ’n jare lange vriendin, die etiketghoeroe Emsie Schoeman, im­mers al gesê: “Sy styl en voorkoms beïn­druk my keer op keer.”

Sy honde, Mariet en Toto. Foto: Jacques Stander/Ga
Sy honde, Mariet en Toto. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Vandag hou Hannes (49) se honde dig­by sy hakke toe hy kom groet en ons ver­by die blink swembad in die voortuin en ’n kleurontploffing van blombeddings na ’n groot frangipani in die tuin lei. Daar wag helderkleurige luierstoele vir ’n kuier met mengeldrankies.

’n Tafel vir kuier onder die frangipani. Foto: Jac
’n Tafel vir kuier onder die frangipani. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Toto, ’n yorkie, se vorige eienaar wou hom laat uitsit, vertel die akteur op sy eerlike, innemende manier. Mariet, met die gene van baie honderasse in haar lyfie, is kleintyd uit ’n stormwaterpyp gered. Hy het haar na sy ma genoem, ver­tel Hannes. “Uit liefde!” sê hy. Selfs hier buite in die tuin kan ’n mens se kop nie ophou draai nie.

Sy honde, Mariet en Toto, volg hom soos ’n skaduwe
Sy honde, Mariet en Toto, volg hom soos ’n skaduwee. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Oral hang of staan kunswerke van glas en hout. Han­nes vertel dis die handewerk van Riaan Chambers, sy kamermaat en beste vriend op universiteit.

Riaan skep op Muizenberg kunswerke uit haas enigiets wat hy op die strand optel. Later sien ons ook voor die hangende tuin teen die agtermuur ’n jellieviskuns-werk van die dieselfde kunstenaar, gemaak uit ’n ou suigwaaier, met tentakels van stukkies seegroen glas.

 ’n Jellieviskunswerk in die agtertuin. Foto: Jacq
’n Jellieviskunswerk in die agtertuin. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Ook van binne is Hannes se Kaapse koninkryk ’n fantasieland. Uit die plafon in die barokstylsitkamer hang ligkandelare met glasblomme in ’n opsetlik ruwe styl – ook Riaan se skepping.

Hannes se trots is die mooi Victoriaan-se kaggel uit 1890 in die sitkamer.

Hannes en sy honde, Mariet (links) en Toto. Foto:
Hannes en sy honde, Mariet (links) en Toto. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Die kaggel en die groot frangipani was juis hoekom hy 13 jaar gelede besluit het om hierdie huis te koop, vertel hy. Swaar, wynrooi gordyne voor die vensters in die sitkamer skep die indruk dat ’n verhoog daaragter skuil.

Die voorkamer met sy fluweelgordyne. Foto: Jacques
Die voorkamer met sy fluweelgordyne. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Maar wag, daardie rooi leerstoel lyk mos bekend? Ja, dit het eens in die Walco-kantoor op die Egoli-stel gestaan – ’n aandenking uit Hannes se dekade as die gehate sakeman Krynauw du Boisson in dié sepie.

En in 2018 het hy in die kyk NET-reeks Spoorloos ’n karakter gespeel wat kykers selfs meer verafsku het.

Sy leerstoel vanaf die stel van Egoli
Sy leerstoel vanaf die stel van Egoli. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

As die waarnemende skoolhoof mnr. Immelman was sy onheilspellende dreigement: “Ek maak kinders dood.

”Maar hier waar Hannes nou sy huis wys, is hy wêrelde verwyder van daardie nare karakters, en hy gesels en lag terwyl hy sy trots wys.

In vertoonkaste en op rakke oral in die huis pryk sy vele uiteenlopende versamelings, van tientalle ou speelgoedmotortjies en antieke parfuumbottels tot sonbrille, eetgerei met beenhandvatsels en fyn teestelle.

“Ja, ek hou van glasgoed.”

Hannes het 'n groot versameling sonbrille. Foto: J
Hannes het 'n groot versameling sonbrille. Foto: Jacques Stander/Gallo Images
Hannes se versameling speelgoedkarretjies. Foto: J
Hannes se versameling speelgoedkarretjies. Foto: Jacques Stander/Gallo Images
In groot vertoonkaste en op rakke oral in Hannes s
In groot vertoonkaste en op rakke oral in Hannes se huis pryk sy vele uiteenlopende versamelings. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

’n Loopbaan in ’n sonkamer

Die sonkamer met ’n glasdak langs die huis wemel van aandenkings uit sy lang loopbaan as akteur. Die loodglasvenster in die buitedeur gooi helderkleurige lig deur die kamer, soos uit ’n ou rolprentkamera.

Daar’s ’n geraamde plakkaat van sy verhoogstuk Die jaar toe my ma begin sing het met die woorde daarop: “Hannes van Wyk van Torings”.

Dit verwys na die gewilde TV-drama-reeks van die 1990’s waarin hy destyds gespeel het.

Nog ’n plakkaat is van die kortfliek Nantes, waarin hy saam met Wilna Snyman en Regardt van den Bergh verskyn het.

In sy meer as kwarteeu as ’n akteur was Hannes al te sien in die flieks Lipstiek dipstiek (1994), Susanna van Biljon (2010) en Verskietende ster (2015), en volgende jaar verskyn hy in Indemnity. Daar is ook planne om die verhoogstuk Voor ek vergeet, met hom en Amanda Strydom, as ’n nuwe televisiefliek vir kyk NET te verfilm.

Saam met die fliekplakkate hang talle familiefoto’s ook teen die sonkamer se muur.

“Ek is die laatlammetjie,” vertel Hannes: Ouboet Attie (60) is ’n personeelbestuurder in Johannesburg  en ousus Wena van Wyk (57) ’n verpleegster in Bloemfontein. Hy beskryf haar as sy onmisbare beskermengel – iemand wat altyd ander se behoeftes voor haar eie stel.

“Op Wena se doenlysie is syself en wat sy uit die lewe wil hê altyd heel onderaan,” vertel Hannes oor haar in sy boek, Vroue na aan my hart, wat in 2016 verskyn het.

Daarin skryf hy oor sy ma, Mariet (87): “As klein seuntjie het ek Liewe Jesus elke aand gevra my ma moet asseblief tog niks oorkom nie, en dat ek liefs voor haar moet doodgaan aangesien ek nie ’n idee het wat ek sonder haar sal doen nie.”

Mariet was 40 jaar lank die sekretaresse by die hoërskool op Hannes se grootworddorp langs die Oranjerivier in die Oos-Kaap. Sy pa, Hennie, is vyf jaar gelede op 80-jarige ouderdom weens ’n longsiekte oorlede, en hy en sy ma is steeds baie geheg aan mekaar.

Hannes het juis kort voor die inperking by die Woordfees op Stellenbosch na die verhoog teruggekeer met ’n solostuk met die naam Sê groete vir Ma, geskryf deur Desiré Gardner en onder regie van Sandra Prinsloo. Hy gaan volgende jaar daarmee in Suid-Afrika en Namibië toer, en voor die einde van die jaar sal dit ook aanlyn beskikbaar wees.

Daarin vertolk hy die rol van Reghardt Roberts van Aswegen, wie se hele lewe, menswees en bestaan om sy ma draai. Dis ’n rol wat Hannes na aan die hart lê, juis omdat sy eie ma vir hom so belangrik in sy lewe is.

Die provinsiale reisverbod tydens die maande van streng inperking was dus vir hom bitter swaar. En noudat die lewe weer geleidelik sy gang begin gaan, is daar net een plek behalwe sy huis waar hy die graagste wil wees: “Ek is so bly ek kan weer vir my ma op Aliwal-Noord in die tehuis gaan kuier.”

’n Solder vol boek-onthou

Ons verskuif na die sitkamer, en Hannes dra ’n skinkbord vol koeksisters en piesangbrood aan.

“Nee, ek kan glad nie bak nie,” antwoord hy nog voor ons kan vra.

Ook in hierdie vertrek pryk vele pragstukke.

“Ek is mal oor antieke goed en kan niks weggee nie,” erken Hannes. Die koekoekhorlosie is uit Wene, Oostenryk, en hier is ook ’n verskeidenheid ander klokhorlosies wat beier terwyl ons praat.

Nee, hy kan nie die Mason & Hamlin-orreltjie bespeel nie, vertel Hannes toe hy daarna wys. “Dis net vir die mooi.”

’n Orreltjie wat Hannes by ’n vriend gekry het.
’n Orreltjie wat Hannes by ’n vriend gekry het. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Later lei hy ons na die solder – die een met die venstertjie wat aan verbygangers in die straat wys iets kosbaars skuil onder hierdie dak. Die vertrek is vol wit meubels en het sy eie klein badkamer en kombuisie.

Die solder is ingerig as ’n gastekamer met ’n uitk
Die solder is ingerig as ’n gastekamer met ’n uitkyktorinkie. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

“Maar dis meer vir my boekversameling as vir gaste,” sê Hannes terwyl ons met die wit trap opstap verby ’n houtbeeldjie van Kuifie.

Die trap wat na die solder lei, met ’n houtbeeld v
Die trap wat na die solder lei, met ’n houtbeeld van die strokieskarakter Kuifie. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

“Hier is ’n hele biblioteek. Hier is iets van alles: biografieë, digbundels,” sê hy. “My ma het ons as kinders vreeslik aangemoedig om te lees. Dis nog een van duisende dinge waarvoor ek my liefste ma baie dankbaar is.

”Baie van die boeke op die rakke is van skrywers met wie Hannes al as aanbieder van die kykNET-program Kwêla-onderhoude gevoer het. Hy geniet die ateljeeonderhoude in Milnerton, maar dis veral vir hom lekker om die land te deurkruis en interessante mense tuis te besoek.

Dis ook waar Hannes sy uitgebreide biblioteek het.
Dis ook waar Hannes sy uitgebreide biblioteek het. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

Ja, hy het ver gekom sedert hy destyds met sy splinternuwe drama-graad van die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (Sukovs) in Bloemfontein aangestel is, mymer hy. By Sukovs het hy by groot geeste soos Ernst Eloff, Louw Verwey en Marga van Rooy geleer en eindelik hoofrolle in verskeie toneelstukke vertolk – van komedies tot dramas.

Vir sy dekade lange rol as Krynauw in Egoli: Plek van goud het hy twee maal per week tussen Kaapstad en Johannesburg gevlieg. “Dit was wonderlik om so lank saam met mense soos Brümilda van Rensburg en Christine Basson te werk,” vertel hy.

Maar noudat hy nie meer so gereeld hoef te pendel nie, kom hy tot ruste hier in sy droomhuis. En dit is hier waar die man wat so lekker kan gesels na binne keer.

Oral is allerhande guitige ornamente wat net so ve
Oral is allerhande guitige ornamente wat net so veelvlakkig soos Hannes se persoonlikheid is. Foto: Jacques Stander/Gallo Images
Ornamente wat net so veelvlakkig soos Hannes se pe
Ornamente wat net so veelvlakkig soos Hannes se persoonlikheid is. Foto: Jacques Stander/Gallo Images

“Ek is mal oor die stilte,” sê hy. “Ek sit nie eens die radio in my kar aan wanneer ek na ’n opname of repetisie gaan nie – dan leer ek my woorde.”

Op pad uit gewaar ons die geraamde spieëls teen die buitemure van die huis – die effek is om die erf groter te laat lyk. Die lig blink daarop, en dit weerkaats die wonders van hierdie lieflike leefruimte.

Die spieëls en kontraste van die huis herinner hom aan die vele fasette van sy loopbaan en lewe, verduidelik die veelkantige Hannes. Want in die kamers van die hart is daar ook mos plek vir baie verskillende dinge.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe