Vir elke meisie is dié aand een van die belangrikstes in haar lewe, maar vir Michaela Laurie was dit sommer ekstra spesiaal.

Michaela, wat haar skoolloopbaan aan die Nasionale Skool vir die Kunste in Braamfontein voltooi, het beeldskoon gelyk. Sy het behoorlik gestraal in ’n sagte pienk rok vol blinkers, wat die voormalige Mej. Suid-Afrika Tamaryn Green vir die aand aan haar geleen het.

Die rok is in Tamaryn se Mej. Suid-Afrika-jaar spesiaal vir haar gemaak om op die Charity Couture & Ellis Gala Dinner te dra. 

Die pragtige Michaela meen sy het soos ’n koninklike gevoel op die aand. “Ek het soos ’n koningin gevoel, want dit het gevoel asof ek Tamaryn heelaand aan my sy gehad het.

"Dit het regtig tot my spesiale dag bygedra en ek kan haar nie genoeg bedank dat sy my toegelaat het om ’n rok te leen wat spesiaal vir haar gemaak is nie.

"Ek is ook dankbaar vir my suster wat dit moontlik gemaak het,” het Michaela oor die skoonheidskoninginne gesê. Ousus Liesl was vir elke stap van die beplanning, van uitrusting tot grimering, aan haar kleinsus se sy.

Volgens Michaela het Liesl haar gevra: “Hoekom inpas as jy gebore is om uit te staan?” En dit is ook die vraag wat haar laat besluit het dat sy anders wou lyk as in 'n gewone rok met 'n pofferige romp of 'n rok met 'n sweetheart-hals. 

“Ek wou ’n indruk maak en anders wees. My suster het begin soek vir rokke wat by my sal pas en my regtig sou laat uitstaan en sy het dit reggekry,” vertel Michaela. Sy wou die stres vermy van metgesel soek, maar het haar opwagting op die groot aand behoorlik laat tel.

Michaela en Maps
Michaela meen Maps was die kersie op die koek vir haar groot aand. Foto: Instagram/liesllaurie

Sy het die voorreg gehad om saam met die sjarmante TV-aanbieder en akteur Maps Maponyane by haar matriekafskeid op te daag. Maps, wat in 2013 as Cosmo SA se sexyste man aangewys is, was die kersie op die koek.

Michaela en Maps
Michaela en die sjarmante Maps Maponyane. Foto: Instagram/liesllaurie

Vir meisies wat nog hul matriekafskeid moet hou of volgende jaar in matriek is, raai Michaela aan om ’n rok te kies wat by jou persoonlikheid pas. “Soos Liesl gesê het, jy moet uitstaan, maak nie saak wat nie.” Verder sê Michaela dis belangrik om nie oor die klein dingetjies te wroeg nie.  

Michaela het haar aand ten volle geniet en vir ousus Liesl, met wie sy ’n baie hegte band deel, kan sy nie genoeg dankie sê nie. 

Liesl en Michaela
Die susters het 'n baie hegte band. Foto: Instagram/liesllaurie

“Sy is my beste vriendin en ja, ons baklei soms, maar sy is my alles. Ek sien op na Liesl en waardeer alles wat sy vir my doen, al wys ek dit nie altyd nie. Ek is baie lief vir haar en sal enige dag ’n koeël vir haar vat,” sê Michaela.

Deel jou foto's met ons

As jy in 2019 in matriek is en jou matriekafskeid vanjaar vier, stuur jou matriekafskeidfoto’s na matriekafskeid@huisgenoot.com.
Alle matrikulante van 2019 en hul ouers kan foto’s stuur. Huisgenoot wil ’n keur van die foto’s op Local is Lekker in die tydskrif plaas.

  • Die sluitingsdatum om jou foto’s in te stuur is 5 November 2019.
  • Onthou om die volgende inligting in jou e-pos in te sluit: Jou naam en van, jou metgesel se naam en van en jou skool se naam. 

Deur foto’s in te stuur, gee jy vir Huisgenoot en Huisgenoot.com toestemming om die foto’s te publiseer.