En toe Madonna besluit om haar 60ste verjaardag te vier, het sy dit met mening gedoen – met ’n uithangpartytjie in ’n paleis in Marokko wat vyf dae lank aangehou het.

Die sangeres, wat die afgelope meer as 30 jaar vele treffers gehad het, het interessante foto’s op Instagram gedeel van hoe sy die verjaardagviering geniet. Daarop is sy in ’n lang pers-pienk rok van Gucci uitgevat.

In case someone forgot! ????????????????♥?????#birthday #magic #Marakesh

A post shared by Madonna (@madonna) on

Madonna het haar geliefdes omtrent bederf met verblyf in die weelderige El Fenn-hotel in Marrakesj wat aan Richard Branson se suster Vanessa behoort.

Al ses haar kinders, Lourdes (21), Rocco (18), David Banda (12), Mercy James (ook 12) en die vyfjarige tweeling Stelle en Estere, was op die makietie.

Om haar groot ses-nul te vier, het Madonna onlangs vir ’n fotosessie vir Vogue Italia poseer en in ’n openhartige onderhoud met dié tydskrif haar aanhangers ’n interessante kykie in haar lewe laat kry.

Haar grootste onthulling? Sy het haar blyplek in Manhattan vir Lissabon, Portugal, verruil. Sy en haar vier jongste kinders, David, Mercy en die tweeling, woon nou in ’n huis in die Portugese hoofstad.

Hoekom? Want David is mal oor sokker en wil ’n beroepspeler word. En watter beter plek om in sokker te leer speel as in die tuisland van Cristiano Ronaldo?

“Ek was desperaat om vir hom plek in die beste sokkeropleidingsinstansie met die beste afrigters te kry,” het Madonna vertel. “Maar die peil van sokker in Amerika is veel laer as in die res van die wêreld.

Die popikoon, wat onlangs haar 60ste verjaardag gevier het, het foto’s van haar uitspattige verjaardagpartytjie in Marokko op Instagram gedeel. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Enige vrou wat ’n sokkerma is, kan vir jou sê dit verg dat jy op ’n manier jou lewe prysgee, want dinge verander van week tot week en naweek tot naweek. Dit is onmoontlik om veel planne te maak.”

Madonna se verstommende sukses in syfers
  • R8,85 miljard: Haar netto waarde.
  • 4: In soveel dekades lewer sy al no. 1-treffers.
  • 45: Getal danstreffers boaan die Hot 100-trefferlyste.
  • 13: Soveel ateljee-albums het sy al uitgereik.
  • 305 786 000: Dis hoeveel albums sy al verkoop het
  • 26: Sy het al in soveel rolprente verskyn