Altesaam 9 000 konsertgangers het die sanger Saterdag (17 Augustus) tydens die Krone 6-konsert by die Sun Arena in Pretoria luid toegejuig toe Manie voor die skare op een knie gaan om sy meisie, Christel Coetzee (35), die jawoord te vra.

Manie en Christel het hand-aan-hand op die verhoog uitgestap toe die sanger sê: “Ek loop al vir ’n hele rukkie met ’n ding in my broeksak wat my pla . . .” Die sanger het toe die ring tevoorskyn gebring.

Hendrik Spangenberg, ’n publisiteitsbeampte vir Select Musiek, sê aan Huisgenoot dit was ’n “oorweldigende oomblik” toe Manie vir Christel vra om te trou.

“Hy is ongelooflik gelukkig,” sê Hendrik.

“Dit was ’n ongelooflike oomblik toe hy voor duisende mense op sy een knie neergaan. Almal het opgestaan en hulle luid toegejuig. Dit was baie spesiaal.”

In April vanjaar het Manie op ’n aanhanger se opmerking oor ’n foto van hom en Christel gereageer: “Sy’s ’n keeper . . .”

Manie het ná die verlowing op sosiale media gesê Christel, sy meisie van die afgelope tien maande, is alles en meer as wat hy nog altyd in ’n vrou gesoek het.

“Vir jare soek ek na daai iets waaroor jy so seker is . . . soos dat Liewe Jesus ons liefhet, en dat Hy mense op jou pad stuur wat jou hele lewe verander, alles ten goede,” het hy geskryf.

“En van kleins af skep ’n seun ’n droomvrou, dit wat jy graag sou wou hê. En as fame intree, jaag mens maklik dinge na, soos jong meisies. Maar die afgelope tien maande het ek alles gekry.”

Sy het dieselfde “klas, geduld, liefde, vertroue, geloof en kwaliteite” wat vroue soos soos my sy eie ma, Ina Jackson, afdwing, het die sanger geskryf. Sy herinner hom ook aan die kwaliteite van Leonie Bridges, Carike Keuzenkamp en Juanita du Plessis.

“(Sy is) ’n regte, egte lady met ’n opregte hart en ’n natuurlike skoonheid – sonder enigiets wat fake is.

“Dankie, my verloofde, dat ek weer kan droom, hoop en glo!”

Meer as 600 aanhangers het die sanger op dié inskrywing op sy amptelike Facebook-blad gelukgewens.