“Sy het twee naweke terug begin om heeltemal alleen te staan en dan haar eerste treë te gee, maar dan slaan sy neer,” vertel Marijke aan Huisgenoot. Sedertdien het sy meer begin loop sonder om te val.

“Dit is ’n baie groot hoogtepunt in ons huis, want dit is een van daardie ‘eerstes’ met ’n baba waarna jy baie uitsien,” vertel sy trots.

View this post on Instagram

My baba loop! Mooi so sussie!! #sheswalking #mybabygirl #proudmommy #almost11months

A post shared by Marijke Coetser (@marijkecoetser) on

“Die hele gesin wag nou al ’n rukkie om daardie eerste keer op jou knieë neer te sak en jou hande uit te gooi terwyl jy haar roep - en dan kom sy,” sê Marijke wat saam met haar man in die kykNET-sepie Getroud met rugby te sien is.

Nou sak ma gereeld af en roep Layla om na haar toe te stap. “Dit is so 'n lekker gevoel om te weet jou baba kan dit doen,” borrel sy.

Tussen alles deur moet ouboet Juwan (9), Marijke se seun uit haar vorige huwelik, ook tuis skoolgaan weens die inperking.

“Juwan het vandag vier aanlyn klasse en hy het baie werk en skryf Vrydag ’n toets. En Layla loop die wêreld vol, wat beteken jy moet haar heeltyd dophou,” vertel Marijke.

Gelukkig is Juwan en pa Werner albei staatmakers wat Layla betref.

“Ek en Werner verfilm nie elke dag nie en ons hoef nie altyd op dieselfde tyd by die werk te wees nie,” sê Marijke. Wanneer hulle wel op dieselfde dag verfilm, sal die een in die oggend die kinders oppas en dan weer in die middag afgelos word.

As ouer voel dit of jou hart vir die res van jou lewe buite jou liggaam rondloop, vertel Marijke. “Dit is erg om te sien hoe vinnig jou kinders grootword,” vertel sy.

View this post on Instagram

Lockdown in Bethlehem #family #lockdown2020 #covid19

A post shared by Marijke Coetser (@marijkecoetser) on

“Juwan is vanjaar in gr. 4, maar weens die lockdown loop hy ’n paar eerstes mis. Dit is ’n groot stap vir die kinders, want hulle begin klasloop en eksamen skryf,” vertel Marijke.

En boonop word Layla ook op 5 Augustus een jaar oud en moet ’n partytjie beplan word.

“Ek moet kort-kort stilstaan en dink waar die tyd heen gaan. Ek neem baie video’s van my kinders en kyk dit gereeld,” vertel Marijke.

Dit voel asof die tyd saam met Layla begin hardloop.

“Layla is baie haastig. Sy wil nie eintlik loop nie; sy wil hardloop. Juwan het lank gekruip as ’n baba, maar hierdie madam, is vinnig,” laat sy hoor.