Die koninklike koors het in Mei laas so hoog geloop met die troue van die jaar. Maar dié keer was dit nie net ’n naweekbruilof wat die wêreld laat regop sit het nie; dit was twee weke vol spesiale oomblikke.

Dit was immers die eerste oorsese toer deur ’n koninklike paartjie in ’n lang tyd wat die wêreld se verbeelding op hol gehad het.

Maar toe die goue egpaar die dag voor hul vertrek na die land Doer Onder amptelik aankondig ’n baba is op pad, het belangstelling nog meer die hoogte ingeskiet.

Skielik was nie net twee koninklikes in die kollig nie, maar drie, al is die derde een nog net ’n boepie.

Die oomblik toe die British Airways-vliegtuig met die hertog en hertogin van Sussex aan boord op Australiese grond land, het die betowering begin.

Die twee het op ’n plaas in Dubbo self hand bygesit. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oral waar prins Harry (34) en Meghan (37) gegaan het, het duisende mense langs die strate saamgedrom om tog net ’n kykie van hom en sy beeldskone vrou en haar babamagie te kry.

Tydens die toer van 16 dae in Australië, Fidji, Tonga en Nieu-Seeland het Harry en Meghan ikoniese besienswaardighede besoek, die plaaslike gemeenskappe ontmoet, aan bewusmakingsveldtogte oor geestesgesondheid deelgeneem en hul steun vir talle projekte gewys van die Queen’s Commonwealth Canopy, ’n netwerk van woudbewaringsprojekte in die 54 lande wat lid is van die Britse Statebond.

Die twee is onder speelgoed toegegooi, onder meer ’n Australiese koalabeertjie, ’n buidelmuis en ’n kangaroe.

Dié sal dalk staanplek kry in die babakamer in Woonstel 1 van Kensingtonpaleis wanneer baba Sussex in die Britse lente van volgende jaar gebore word.

Harry en Meghan se ongebore baba het ook sy of haar eerste paar Ugg-stewels present gekry by die Australiese goewerneur-generaal, sir Peter Cosgrove, en sy vrou, Lynne.

Meghan was glo voor die reis bekommerd oor die Zika-virus wat onlangs kop uitgesteek het in Fidji en Tonga.

Saam met modelle in kostuums in Wellington, Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié virus word deur muskiete oorgedra en kan ’n gevaar vir ongebore babas inhou omdat dit onder meer kan veroorsaak dat ’n baba met ’n misvormde brein en skedel gebore word.

Maar die moedige Meg het voorsorg getref deur soveel muskietweerder aan te wend dat ’n mens soms kon sien hoe haar arms daarvan blink.

Die hertogin is nou in die tweede trimester van haar swangerskap en “voel goed”, sê ingeligtes in koninklike kringe.

’n Mens kon dit sien aan haar gloeiende vel, blink oë en breë glimlag toe sy sonder ophou vir foto’s poseer en drukkies aan kinders uitgedeel het terwyl sy haar plek trots langs haar bloubloedman vol gestaan het.

By ’n uitstalling van Tongaanse kunsvlytwerke in Nuku’alofa, Tonga. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nes soveel ander swanger ma’s sukkel sy oënskynlik soms met slapeloosheid. Toe sy vroeg in die toer een nag nie kon slaap nie, het sy opgestaan om ’n piesangbrood te bak.

Dié het sy toe die volgende dag saamgeneem na ’n teeparty op ’n plaas buite die Australiese stad Dubbo. Maar die besige eerste vyf dae het haar blykbaar ’n bietjie oorweldig en sy was afwesig tydens ’n fietsrymedaljeseremonie op die Invictus-spele.

Harry het dié jaarlikse sportgeleentheid vir beseerde weermaglede in 2014 begin en dit was juis op verlede jaar se Invictus-spele in Kanada waar die twee die eerste keer openlik gekoer het.

Harry het aan die atlete by die medaljeseremonie gesê sy vrou rus ’n bietjie omdat “swangerskap sy tol eis”.

Meghan met ’n rugby­bal op ’n besoek aan Government House, Victoria. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar dieselfde dag nog het sy middagete saam met Scott Morrison, die Australiese eerste minister, by The Pavillion-restaurant geëet en later het sy die seiljagvaart dopgehou.

Sy was terug op haar pos toe verteenwoordigers van die 18 lande wat aan die spele deelgeneem het haar met die babanuus gelukwens.

Sy het laat hoor: “Dankie, ons is baie opgewonde!”

Meghan en Harry ontmoet twee koalabere, Ruby en Meghan, in die Taronga-dieretuin in Sydney. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan het nog ’n paar amptelike afsprake in Sydney en Queensland misgeloop. Toe sy en Harry in ’n vyfster-oord op die eiland Fraser tuisgegaan en sy verkies het om daar agter te bly toe hy geleenthede moes bywoon, het dit ’n stroom sarkastiese opmerkings in die sosiale media ontketen.

“Ek twyfel of dit enige negatiewe uitwerking op haar swangerskap kan hê om ’n paar hande te skud en rond te pronk in Oz. Probeer jy ’n bietjie in die openbare sektor werk tot ses weke voor jy die lewe skenk,” het een gebruiker op Twitter teenoor haar uitgevaar.

Meghan vryf neuse met ’n Maori-ringkop tydens ’n verwelkomingseremonie in Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy woon ’n paar openbare geleenthede by en dan ‘ooreis’ sy haar? Sy moet afkom aarde toe waar ’n mens voltyds werk, ’n kleuter het én ’n huishouding bestuur,” het nog ’n giftong laat hoor.

“Liewe aarde, sy’s nog nie eens ver swanger nie. Sy hoef nie so ’n gedoente daarvan te maak nie,” het ’n ander een geskryf.

Maar haar aanhangers het vir die hertogin in die bresse getree en in die sosiale media laat hoor dis uitputtend vir ’n swanger vrou om langafstand te vlieg, ure lank op haar voete te wees en heeltyd haar beste voetjie voor te moet sit terwyl sy dalk weens die hormonale wipwarit soms emosioneel voel.

Ander het laat hoor sy is op 37 ’n “ouer ma” en dit kan gesondheidsrisiko’s inhou. As die hertogin tydens enige van haar afsprake uitgeput of broos gevoel het, het sy dit goed weggesteek.

Jy kon haar deurgaans deur ’n ring trek en haar asemrowende uitrustings het die goedkeuring van modeontwerpers en stylkenners wêreldwyd weggedra.

Sy het in die een peperduur uitrusting ná die ander gepronk en net by geleenthede waar dit nie gepas sou wees om so uit te hang nie eenvoudiger somerrokke en tekkies of plat skoene gedra.

Soos toe sy en Harry saam met ’n groep branderplankryers in ’n kring op Sydney se ikoniese Bondi-strand gesit het om geestesgesondheidskwessies met die groep te bespreek.

Maar al was almal se oë op Meghan, het sy haar oulike gemmerkopman darem nie heeltemal oorskadu nie. Harry is daarvoor bekend dat hy werklik in aanhangers belangstel en moeite doen om met vreemdelinge geselsies aan te knoop, veral met kinders en ouer mense.

Soos ’n ingeligte in koninklike kringe gesê het: “Maak nie saak wat hy doen nie, hy lyk altyd werklik geïnteresseer in almal wat hy ontmoet.

Harry maak peper fyn. Die Colo-i-Suva-woud in Fidji is tydens die koninklike besoek by ’n netwerk woudbewaringsprogramme van Statebondlande gevoeg om bewaring te verseker. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is op sy gemak met kinders, simpatiek met bejaardes en altyd vriendelik en warm met die vele hooggeplaastes wat hy ontmoet.”

Een outjie was so in sy skik en op sy gemak met Harry toe dié afbuk om hom ’n drukkie te gee dat hy die prins se kop en baard gestreel het.

Terwyl Harry met Gwen Cherne, ’n 41-jarige weduwee, staan en gesels het, het hy aan van sy assistente wat hom wou aanjaag, gesê hy’s in die middel van ’n “gesprek” en hulle moet hom uitlos.

Gwen se man, ’n Australiese soldaat, het homself vroeër vanjaar om die lewe gebring. Die koninklike kommentator Richard Fitzwilliams was reg toe hy vooraf voorspel het die toer sou ’n “dawerende sukses” wees en dat dit oor grense heen steun vir die monargie sou werf.

Harry voer ’n dans uit van die Butchulla-­mense op die eiland Fraser. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Harry se huwelik met Meghan bewys groot veranderings het in die monargie plaasgevind en dit sal groot aantrekkingskrag hê, veral onder jong mense.

“Hulle sal moontlik ’n dinamiese egpaar word wat met Diana as hul inspirasie en dieselfde pligsbesef as die koningin van die wêreld se suksesvolste liefdadigheidswerkers word.”

Die oë rek 

Hoewel die toer meestal glad verloop het, het ’n paar haakplekke tog opgeduik.

Die rok was glo ‘te sexy’

Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Meghan ’n strandrok van Reformation met haar en Harry se besoek aan die eiland Fraser aan die Australiese kus dra en hurk om met ’n aanhanger te praat, het haar linkerbeen tot byna bo gewys. Dit het ’n vuurwarm getwiet laat losbars.

Die winkeletiket

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan het nie ’n modevoet verkeerd gesit nie, maar toe sy in Tonga land, het ’n winkeletiket by haar rooi rok se soom uitgehang nadat haar assistent vergeet het om dit af te knip.

Kry haar hier uit!

Foto: Gallo Images/Getty Images

Verkopers by ’n mark in Fidji was teleurgesteld toe Meghan haar besoek aan hulle ná ses minute kortknip. Die hertogin het iets in haar sekuriteitshoof se oor gefluister en is toe na buite begelei.

Volgens bronne het ’n “sekuriteitsprobleem” weens die reuseskares ontstaan. Die Britse fotograaf Ian Vogler het die mark as “beknop” beskryf.

“Ek kan verstaan Meghan se mense kon die omgewing as onveilig beskou. Dit was warm en bedompig en ’n klomp mense was naby aan die hertogin.”

Die verkopers het ure lank gewag om haar te ontmoet en was diep teleurgesteld.

Vol fiemies?

Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Meghan by die Charcoal-restaurant in Melbourne ’n vingerlemmetjie aangebied word, wou sy nie haar mond daaraan waag nie.

Citrus australasica, wat as ’n plaaslike lekkerny beskou word, is “klein vruggies wat in jou mond ontplof en die geur is wonderlik,” het Brooke Warr, ’n leerlingsjef, verduidelik.

“Sy het daaraan geruik, maar wou nie proe nie, wat ’n mens kan verstaan, want sy’s swanger en dus versigtig.”

Oë en hande net vir mekaar 

Koninklike protokol of nie, Harry en Meghan het van die begin van hul verhouding af nie geskroom om in die openbaar aan mekaar te raak nie. 

Tydens die toer was dit duidelik hulle is nog net so verlief soos toe hulle in Mei getroud is.

“Geen protokol verbied hulle om op amp­telike geleenthede hul gevoelens vir mekaar te wys nie,” het Myka Meier, ’n kenner van ­koninklike etiket, aan People gesê.

“Dit lei daartoe dat mense hulle met die koninklikes kan vereenselwig.” 

Foto: Gallo Images/Getty Images

Strandliefde

Toe Harry-hulle saam met branderryers van die OneWave-liefdadigheidsgroep in ’n kring op Sydney se Bondi-strand sit, het hy sy hand om haar lyf gesit.

Hulle het gereeld diep in mekaar se oë gekyk terwyl hulle met die jong mense oor geestesgesondheid gepraat het.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Geen drank – vir albei

Die prins het blykbaar ophou alkohol drink om sy vrou tydens haar swanger­skap te steun. 

Tydens ’n staatsdinee in Fidji het hy nes Meghan die heildronke met ’n glas water geklink.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Deel my sambreel

Wie het ’n assistent nodig om ’n sambreel oor jou kop te hou as jy in die reën ’n toespraak moet lewer wanneer jou vrou reg langs jou staan?

Toe die hemele oopgaan bo die stad Dubbo, het Meghan sommer self Harry se sambreel vasgehou.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Harry oefen sy toespraak

Enigeen wat voor ’n skare van duisende moet opstaan en praat, moet hul storie ken. ’n Paar uur voor prins Harry by die openingseremonie van die Invictus-spele moes optree, het hy in die dolleë amfiteater voor die Sydney-operahuis geoefen. 

Maar daar in die voorste ry op haar eie het sy ondersteunende vrou gesit om te kyk hoe hy vaar en natuurlik raad te gee.

Die Kensingtonpaleis het dié foto uitgereik – wat dadelik tot ’n vloed oe’s en a’s in die sosiale media gelei het.

Foto: Twitter/@kensingtonroyal

Bababoepie in die kollig

Meghan is uit sommige oorde gekritiseer omdat sy kort-kort aan haar baba­boepie gevat het. Sommige skeptici het gemeen sy “soek net aandag” en dat dit aansitterig is om so kort ná die eerste trimester oor ’n magie te streel wat nog skaars daar is.

Foto: Realtime Images/Mega
Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar die Britse vroedvrou Lesley Gilchrist het aan die Daily Mail verduidelik dis ’n “natuurlike impuls” van swanger vroue om aan hul maag te vat, al is dit nog hoe klein.

“Sy moet aan die veranderings aan haar lyf gewoond raak, en wanneer sy nuwe sensasies voel, sal sy haar baba instinktief wil beskerm.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hul handgebare

Meghan en Harry hou op verskillende maniere hande vas, en elkeen het ’n ander betekenis, sê Judi James, ’n Britse skrywer en lyftaalontleder.

“Hulle gebruik dit om tekens aan mekaar te stuur, veral wanneer hulle nie openlik kan praat nie.

“Anders as ander koninklike pare soos William en Kate deel Harry en Meghan nie jare wat hulle saam ‘grootgeword’ het of selfs saamgewoon het nie, wat beteken hulle moet nog aan hul begrip vir mekaar werk.”

1. Die hand bo: beskermend

Harry voel beskermend teenoor sy vrou.

Foto: Gallo Images/Getty Images

2. Die armvryfie: gerusstelling

Meghan hou dikwels Harry se hand vas en vat dan sy arm met die ander hand. “Deur hierdie gebaar herinner sy haar man aan haar teenwoordigheid en bied hom gerusstelling.”

Foto: Gallo Images/Getty Images

3. Die “saamsleep”: oorheersing

Dit is wanneer Harry Meghan fisiek aan die hand lei. “Dis iets wat ons ál meer op koninklike uitstappies sien, want Meghan is geselserig met die mense, terwyl Harry jare lange ervaring het en weet hulle moet by ’n rooster hou.”

Foto: Gallo Images/Getty Images

4. Kan nie los nie: solidariteit

Dit gebeur dikwels wanneer hulle op die punt is om elkeen sy eie pad in te slaan. “ ’n Paartjie wat aanhou mekaar se hande vashou, wys hiermee hulle is ’n onbreekbare span.”

Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar uitrustings 

Club Monaco-rok (R6 050), jas deur Martin Grant (R24 000) – en Rothy-­skoene (R2 080). Foto: Great Stock/Splash News
Rok deur Martin Grant (R19 750), ­Manolo Blahnik-­hak­skoene (R9 200) en Prada-palmtas (R23 800). Foto: Gallo Images/Getty Images
Militêre jas deur Club Monaco (R4 350) en Stuart Weitzman-­stewels. Foto: Gallo Images/Getty Images
Karen Walker-­jas (R10 000), ASOS-rok (R800) en hak­skoene deur Sarah Flint (R5 730). Foto: Gallo Images/Getty Images
Hugo Boss-rok (R4 600) en hak­skoene deur Aquazzura (R9 400). Foto: Gallo Images/Getty Images
Aandpakrok deur Antonio Berardi (R27 900) en hakskoene deur Aquazzura (R9 400). Foto: Gallo Images/Getty Images
Aandrok deur Oscar de la Renta (R188 000) en Aquazurra-hakskoene (R8 800). Foto: Gallo Images/Getty Images
Kollerok deur & Other Stories (R1 650) en Sarah Flint-sandale (R5 150) Foto: Instagram/@Herveybayecomarinetours

Rok deur Veronica Beard (R9 800) en Banana Republic-hak­skoene (R1 800). Foto: Gallo Images/Getty Images
Aandrok deur Theia (R12 900), hakskoene deur Aqua­zzura (R8 740) en Given­chy-­palm­tas (R25 850). Foto: Gallo Images/Getty Images
Boheemse blommerok deur Figue (R23 250). Foto: Gallo Images/Getty Images
Zimmermann-rok (R8 100), Tabitha Simmons-skoene (R9 500) en kadotjie deur Stephen Jones. Foto: Gallo Images/Getty Images
Baadjie deur L’Agence (R9 490), lyfpak deur Wolford Colorado (R2 980), Outland Denim-­jeans (R2 600) en Oroton-­handsak (R3 180). Foto: Gallo Images/Getty Images
Baadjie deur Altuzarra, jeans deur Mother Denim en sonbril deur Illesteva Palm Beach. Foto: Gallo Images/Getty Images
Rok deur Emilia Wickstead (R29 650), hakskoene deur Tabitha Simmons (R9 600), Givenchy-palmtas (R25 850) en kadotjie deur Philip Treacy. Foto: Gallo Images/Getty Images
Roksanda-rok (R24 100) en hakskoene deur Stuart Weitzman (R6 700). Foto: Gallo Images/Getty Images
Maksirok deur Martin Grant­ (R20 100). Foto: Gallo Images/Getty Images
Rok deur Dion Lee (R12 500). Foto: Gallo Images/Getty Images
Hemprok deur Brandon Maxwell (R32 150) en hak­skoene deur Tamara Mellon (R5 700). Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan bring hulde aan Diana 

Die hertogin het met haar keuse van juweliersware eer bewys aan Harry se oorlede ma, Diana, wie se eerste amptelike toer ook na Australië en Nieu-Seeland was toe sy dié lande in 1983 saam met prins Charles besoek het. 

Vir Meghan en Harry se amptelike verwelkomingseremonie by Admi­ralty House in Sydney, Australië, het sy skoenlapperoorbelle en ’n geelgoudarmband met twee swart stene van Diana by haar wit rok gedra. 

Foto: Gallo Images/Getty Images

Op ’n formele onthaal deur die koning van Tonga ’n week later het sy dieselfde akwamarynring uit Diana se versameling aangehad wat sy op haar eie huweliksonthaal gedra het. Diana het blykbaar die ring ná haar egskeiding by ’n vriend present gekry.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan se bynaam onder lede van die koninklike huishouding is blykbaar “Di 2” omdat sy soveel ooreenkomste met Harry se ma het. 

“Dit word liefdevol gebruik en ek dink dis waar; hulle is nogal eenders,” het iemand in die binnekring aan Vanity Fair gesê.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die veteraan- koninklike fotograaf Mark Stewart stem saam. 

“Meghan het dieselfde selfvertroue voor die kamera as wat Diana gehad het en dieselfde liefde vir die mode en die voorste ontwerpers. 
“Hul styl toon ook ooreenkomste: klassiek, elegant en met heelwat kleurblokke.”

Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan en die koningin

Meghan het twee keer gehore op haar eie toegespreek en elke keer op feministiese kwessies ge­fokus. Tydens die geleentheid by Government House 

in Wellington, Nieu- Seeland, is die 125ste herdenking van vrouestemreg gevier. Meghan het heel gepas voor ’n portret van die koningin staan en praat.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar juweliersware 

Vir ’n staatsete wat deur die president van Fidji gehou is, het Meghan diamant­oorbelle gedra wat glo aan die koningin behoort.

Foto: Gallo Images/Getty Images

 Tydens ’n uitstappie na die Pukeahu-oorlogsgedenkpark in Wellington het sy ’n paar Maison Birks Muse-oorbelle gedra.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir ’n ete wat deur die koning van Tonga gehou is, het sy oorbelle van die Kanadese juwelier Birks gedra.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens die opening van die ­Invictus-spele het sy ’n paar Birks-oorbelle van diamant en saffier gedra.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar hare 

Soos ons weet, verkies die hertogin onopgesmukte style, maar kry sy dit steeds reg om gesofistikeerd te lyk.

Sy dra graag ’n gladde poniestert. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Af en toe was haar hare los met ’n eenvoudige middelpaadjie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Hier dra sy haar hare los met ’n swart kadotjie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Gedurende hul besoek aan Fidji het sy frangipani-blomme in haar hare gedra – blomme wat graag as troublomme gebruik word. Foto: Gallo Images/Getty Images


Mooi Meg se gevolg

Die Sussexe se gevolg het uit minstens 10 mense bestaan. Hul privaat sekretaris, Samantha Cohen, ’n Australiër, het hulle vergesel, asook Meghan se assistent, Amy Pickerel, en ook ’n ordonnans, ’n Kensingtonpaleis-assistent, ’n haarkapper, ’n persoonlike fotograaf, drie kommunikasiemense en ’n programkoördineerder.

Die haarstilis

Die haarstilis George Northwood het saamgetoer om daardie donker lokke elke dag op hul beste te laat lyk.

Hy het ook Meghan se hare vir haar huweliksonthaal gedoen en was in Julie saam Ierland toe.

George besit ’n salon in die Londense spogbuurt Fitzrovia en tel die aktrises Kate Winslet en Alicia Vikander onder sy kliënte. Hy vra maklik £780 (R14 500) vir ’n knip en droogblaas.

Hy is die een wat Meghan se nou reeds kenmerkende lae, los bolla vir haar geskep het. 

“Sy styl is so effens slordig en los, en dit werk volmaak vir Meghan,” het ’n voormalige kollega aan People gesê.

Die hoof van sekuriteit

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die vat-nie-twak-nie-blondine wat vir die eerste keer saam met die Sussexe op hul toer gesien is, is hul nuwe hoof van sekuriteit. 

Die polisievrou wie se naam om veiligheidsredes nie deur die Britse koningshuis bekendgemaak word nie, werk nou al etlike maande vir die paar nadat Harry se sekuriteitshoof van die afgelope jare, sers. Bill Renshaw, ná 30 jaar in die mag afgetree het. 

Sy was in beheer van die reusepolisiemag wat die paar te alle tye omring het en was op die voorgrond te sien toe Meghan skielik uit ’n mark in Suva, Fidji, verwyder is toe die skare so saamgedrom het om haar te sien dat die stormloop byna gevaarlik geraak het.

Die stilis-vriendin

Meghan het nie ’n amptelike stilis saamgeneem nie, want sy het glo sommer haar beste vriendin ingespan om haar met haar klerekas te help.

Jessica Mulroney, ’n professionele stilis, en haar man, die Kanadese nuusleser Ben Mulroney, was saam op toer, maar in ’n nieamptelike hoedanigheid en is dus nie vir hul dienste betaal nie.

Jessica is ’n ma van drie en het waarskynlik haar swanger vriendin se spreekwoordelike hand vasgehou en raad gegee wanneer haar energie haar soms in die steek gelaat het. Haar ­sewejarige tweeling, Brian en John, en haar dogtertjie, Ivy (4), was deel van Meghan en Harry se gevolg op hul troudag. 

Meghan en Jessica. Foto: Gallo Images/Getty Images


Die syfers

76: Getal afsprake wat hulle nagekom het.

16:  Soveel dae het die toer geduur.

R10,3 miljoen: Soveel het die toer die Australiese belastingbetaler gekos. Dit is die gebruik dat Statebondslande vir koninklike toere betaal.

R660: Die koste van die goedkoopste rok wat Meghan gedra het, ’n swangerkapsrok van die ASOS.

R1,8 miljoen: Die geraamde koste van Meghan se toerklerekas. Teen dag 12 het sy al 21 ontwerpersrokke gedra.

R188 000: Die geskatte prys van haar duurste rok, die Oscar de la Renta met ’n patroon van voëls. 


Bronne: People.com, Harpersbazaar.com, Dailymail.co.uk, News.com.au, Hellomagazine.com, Yahoo.com, Express.co.uk, Goodtoknow.co.za, Newidea.com.au, Cosmopolitan