Op Maandag 17 September het The Royal Foundation ’n kort videogreep uitgereik waarop Meghan ’n groep vroue bystaan wat deur die Grenfell Tower-brand geraak is, berig People. 

Die 37-jarige het die Al Manaar-erfenissentrum in Wes-Londen die afgelope ruk gereeld besoek, waar sy die vroue help kook het, berig The Times. 

“In Januarie 2018, terwyl ek my in my nuwe huis in Londen tuisgemaak het, het ek ’n groep vroue ontmoet wie se gemeenskap deur die Grenfell Tower-brand geraak is,” verduidelik Meghan op die video. 

“Hulle het besluit om bymekaar te kom om vars kos vir hul gesin en bure te kook. Tot dusver kon die vroue twee keer per week kook en hul heerlike resepte deel. 

“Ek het dadelik aan die gemeenskapskombuis verbonde gevoel. Net soos die vroue is ek geesdriftig oor kos en kook as ’n manier om gemeenskappe te versterk.” 

Meer as 70 mense is dood toe ’n brand op 14 Junie 2017 in die Grenfell Tower-blok in Noord-Kensington uitgebreek het. 

Meghan, wat die sentrum in Januarie die eerste keer besoek het, het voorgestel hulle stel ’n gemeenskapskookboek met 50 van hul gunstelingresepte saam. 

Die vroue, wat uit verskillende agtergronde kom, het twee keer per week bymekaargekom om hul resepte te deel en saam te kook, volgens die Royal Foundation se webtuiste.

“Kort voor lank het vroue van verskillende kulture almal gekook, resepte uitgeruil, gepraat en gelag,” lui die stigting se blad. 

“Terwyl hulle gekook het, het hulle ’n band begin smee, genees en vorentoe gekyk.”

Die kookboek, Together: Our Community Cookbook, is dié week uitgereik, en Meghan het die voorwoord geskryf.  

Verskeie van die hertogin se goeie vriende het hul steun aan die voormalige aktrise gedeel. 

Die tennisster Serena Williams, wat sedert 2010 met Meghan vriende is, het ’n roerende boodskap aan haar jare lange vriendin op Instagram geskryf. 

“Ek het jou altyd Meghan genoem (en doen dit steeds), maar liewe hertogin van Sussex, jou eerste projek, Together, bring vroue van alle kulture byeen. Ek kan nie meer opgewonde en trots op jou wees nie. Dis pragtig – diversiteit, inklusiwiteit, samesyn in smart en vreugde – daar’s net so baie liefde.” 

Die Quantico-ster Priyanka Chopra het ook ’n oulike boodskap op Instagram geskryf: “So trots op jou oor die nuwe onderneming, Meghan. Dit is alles waarvoor jy nog altyd gestaan het. Vroue wat vroue ondersteun. Hier doen jy dit weer . . . Hou aan om die wêreld te laat glimlag!”

Die Timeless-aktrise Abigail Spencer, wat saam met Meghan in Suits ’n hoofrol vertolk het, het ook op Instagram geskryf: “So trots op en geïnspireer deur jou, vriendin. My liewe Meghan, hertogin van Sussex, bring haar liefde vir kos en bemagtiging van vroue bymekaar om ’n kookboek te skep wat nie net dié gemeenskapskombuis ondersteun nie, maar die siel voed. Dis nie net ’n kookboek nie, dis ’n ingesteldheid.”

Kyk die video hier:

BRONNE: PEOPLE! ROYAL FOUNDATION, INSTAGRAM/SERENAWILLIAMS/, INSTGRAM/PRIYANKACHOPRA/, INSTAGRAM/ABIGAILSPENCER/