Danny Moder en ­Julia Roberts
Danny Moder en ­Julia Roberts. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit sal nooit hou nie, het mense gesê toe hulle begin uitgaan. Sy is net te veel van ’n ster – sy sal moeg raak vir hom en met haar lewe aangaan. Maar hoe verkeerd was die swartgalliges nie.

Twintig jaar later het Hollywood se goue meisie een van die sterkste huwelike in die glinsterstad. En die man wat almal gedink het sy soos ’n warm patat sou los wanneer die aanvanklike verliefdheid oorgewaai het, is steeds haar droomman.

Toe Julia Roberts en Danny Moder (52) se paaie kruis, was dit asof die “aarde onder haar beweeg” en twee dekades en drie kinders later maak hy steeds haar knieë lam.

“Tot vandag toe, tot op dié oomblik, is hy regtig steeds my gunstelingmens,” sê Julia vir Gwyneth Paltrow in haar Goop-podsending.

“Toe ek met hom trou, was dit asof my lewe op die ongelooflikste, onbeskryflikste manier nooit weer dieselfde sou wees nie.”

Julia (54) sê voor Danny op die toneel verskyn het, was sy “ ’n bedorwe brokkie wat rondgehardloop en flieks gemaak het”.

Op Danny Moder en ­Julia Roberts se huweliksherden
Op Danny Moder en ­Julia Roberts se huweliksherdenking verlede jaar het sy ’n foto gedeel waarop sy haar man se wang soen met die woorde: “18 years #heckyes”. Foto: Instagram/@juliaroberts

“Ek was my enigste prioriteit,” sê sy aan Harper’s Bazaar. “Danny het alles verander. Wanneer ek dink aan wat my lewe laat sin maak en wat my laat skyn, is dit hy. Dit alles kom van hom af.”

Die eintlike geheim, sê sy, is hulle “hou net bitter baie van mekaar”.

“Ek stel meer belang in wat hy te sê het of sy standpunt as enigiemand anders s’n. Ons is baie gelukkig in daardie sin. Ons geniet net mekaar se geselskap.”

’n Bron beskryf hulle as “sielsgenote” wie se verbintenis hulle deur moeilike tye gedra het toe hul werkroosters hulle vir weke of selfs maande aaneen geskei het. Egskeidingsgerugte het deur die jare geloop, maar terwyl Julia erken sulke bespiegelings “maak steeds my gevoelens seer, want ek is baie trots op my huwelik”, het hulle geleer om hulle nie daaraan te steur nie.

“Hulle lag al die huweliksprobleme en ‘amper-egskeidings’ af wat hulle glo deurgemaak het,” sê die bron. Die vonk tussen Julia en Danny is ’n groot deel van wat hulle laat werk. “Elke keer wanneer hulle herenig, is dit amper asof hulle mekaar van voor af ontmoet,” sê die bron.

“Ná al hierdie tyd vind Julia Danny steeds ongelooflik sexy en hy aanbid haar.”

In ’n Valentynsdagplasing in 2019 skryf Danny langs ’n foto van ’n deftig uitgevatte Julia wat ’n gesig trek: “My snaakse Valentyn . . . Knyp myself steeds.”

AAN DIE BEGIN

Hulle het mekaar in 2001 op die stel van The Mexican ontmoet. Sy was die ster en hy die kameraman. Die vonk was daar, maar hulle het nie dadelik begin uitgaan nie.

Albei was in daardie stadium by iemand anders betrokke. Julia en die akteur Benjamin Bratt was ’n paartjie en Danny was met die Argentynse grimeerkunstenaar Vera Steimberg getroud.

Volgens Julia het hulle eers begin uitgaan nadat hulle hul onderskeie maats gelos het. Maar daar is mense wat verskil.

Praatjies van ’n affair het gedy terwyl ’n woedende Vera geweier het om van Danny te skei. Danny se suster Jyl het so ver gegaan as om Julia ’n “diva” en “onbeskof en besitlik oor Danny” te noem.

Teen Junie 2002 was Danny en Vera geskei en minder as ’n maand later is hy en Julia op haar plaas in Taos, Nieu-Mexiko, getroud.

Hulle is op 4 Julie 2002 tydens ’n middernagtelike
Hulle is op 4 Julie 2002 tydens ’n middernagtelike verrassingseremonie op Julia se plaas in Nieu-Mexiko getroud. Foto: Pan Media/Coleman-Rayner

HUL EENVOUDIGE LEEFSTYL

Julia en Danny is nie gaande oor die glansryke lewe van bekendes in Los Angeles nie en voer ’n boheemse bestaan in die strandstad Malibu.

Hulle is beskermend oor hul gesin se privaatheid en hul kinders – die tweeling Phinnaeus en Hazel (16) en Henry (14) – word selde in die openbaar gesien.

Hul lewe is taamlik gewoon, en hulle word af en toe afgeneem terwyl hulle inkopies doen, hul kinders se sokkerwedstryd bywoon of gaan swem. (Danny is ’n kranige branderplankryer.)

In ’n onlangse plasing op die kameraman se Instagramblad is sy oudste seun op ’n plattelandse pad op ’n skaatsplank op pad skool toe. Julia sorg dat sy haar werk om haar kinders se programme beplan.

 Danny is ’n groot aanhanger van brander- en skaat
Danny is ’n groot aanhanger van brander- en skaatsplankry. Foto: Instagram/@modermoder

Sy sê toe hulle jonger was, het die kinders “nie geweet wat ek doen nie”, maar dit het nou verander. Maar sy sê dit lyk nie of hulle enige belangstelling toon in die vermaakbedryf nie.

Vakansies gaan hulle graag na Julia se plaas in Nieu-Mexiko. “Toe ek en Danny begin uitgaan het, het ons baie daarheen gegaan. Hy voel dieselfde oor Nieu-Mexiko as ek. Ons hou van die stilte en bekoring.”

Julia, wat Katoliek grootgeword het, is ’n praktiserende Hindoe. Sy het in die geloof begin belangstel toe sy aan die romantiese komedie Eat Pray Love gewerk het. Dele van die rolprent is in Bali en Indië verfilm.

“Ek vind ware spirituele bevrediging deur Hindoeïsme,” sê sy.

Sy en Danny maak hul kinders in die geloof groot. Sy het ook haar vervaardigingsmaatskappy Red Om Films genoem na die Hindoesimbool “Om”, wat beskou word as die mistiese lettergreep wat die heelal bevat.

Red Om is ook haar man se van agterstevoor gespel. Die gesin volg sover moontlik ’n gesonde leefstyl. Julia het steeds dieselfde benydenswaardige figuur, wat sy hoofsaaklik aan joga toeskryf.

“Ek hou nie van oefening nie, maar ek hou van hoe ek agterna voel,” het sy eenkeer gesê.

’n Gesinsfoto in Mei 2019. “Daardie mooi mamma in
’n Gesinsfoto in Mei 2019. “Daardie mooi mamma in die middel: Ons is lief vir jou,” het Danny onderaan geskryf. Foto: Instagram/@modermoder

Sy is filosofies oor ouer word en nie ’n aanhanger van plastiese chirurgie nie – nie net omdat sy as aktrise ’n verskeidenheid emosies op die skerm wil kan uitdruk nie – maar ook omdat sy ’n ma is.

“Ek wil hê my kinders moet weet wanneer ek vies is, wanneer ek gelukkig is en wanneer ek oorbluf is. Jou gesig vertel ’n storie.”

WERKSAKE

Julia is een van Hollywood se grootste en winsgewendste sterre en het ’n fortuin van $250 miljoen (sowat R3,4 miljard) ingewin danksy treffers soos Steel Magnolias, Erin Brokovich – wat aan haar ’n Oscar besorg het – Notting Hill en, natuurlik, Pretty Woman.

Meer onlangs het sy ’n hoofrol in Amazon se sielkundigerillerreeks Homecoming gespeel, maar dit is haar nuwe reeks, Gaslit, saam met die Oscar-bekroonde Sean Penn, wat mense aan die gons het.

Dié reeks is gegrond op die podsending Slow Burn, en die eerste seisoen sal fokus op die Watergate-skandaal wat Richard Nixon in 1974 tot ’n val gebring het.

Julia vertolk die rol van Martha Mitchell, ’n sosiale vlinder van Arkansas en vrou van Nixon se lojale prokureur-generaal, John Mitchell (Penn).

‘Hulle lag al die ­huweliksprobleme af wat hulle g
‘Hulle lag al die ­huweliksprobleme af wat hulle glo ­deurgemaak het’ Foto: Instagram/@juliaroberts

Sy sal ook saamspan met Denzel Washington in die nuwe Netflix-rolprent Leave the World Behind – die eerste keer dat die twee saam ’n hoofrol vertolk in die byna 30 jaar nadat hulle in 1993 in Pelican Brief die skerm aan die brand gehad het.

Julia is deesdae kieskeurig oor die rolle wat sy aanpak.

“Ek wag en kyk na wat na my toe kom, pleks daarvan om daarvoor te gaan soek. Dit maak dit pret en organies.”

Sy sê sy is trots op wat sy deur die jare vermag het.

“Ek het al wonderlike dinge bereik, en natuurlik sal ek bly wees om nóg te bereik om my kinders en man te beïndruk,” sê sy aan Harper’s Bazaar. “Maar, weet jy? Ek is reeds bederf.”

Bronne: independent.ie, closerweekly.com, meaww.com, evoke.ie, deadline.com, nickiswift.com, scubby.com, mirror.co.uk, deadline.com, imdb.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe