Klein Davey de Villiers is net voor elfuur in die Mediclinic Kloof in Pretoria gebore. Hy weeg 3,1 kg en is 50 cm lank.

“Tien vingers, tien tone! Hy is perfek,” het David Dinsdag aan Huisgenoot gesê. 

Die egpaar het vroeër vanjaar die nuus dat hulle hul eersteling verwag eksklusief met Huisgenoot gedeel. 

“Om eindelik te weet dat ons ’n seuntjie verwag, gee vir ons albei ’n lekker motivering om alles wat ons kan in plek te kry vir die koms van die mannetjie later vanjaar,” het die Getroud met Rugby-aktrise gesê. 

David de Villiers en sy seun, Davey. Foto: Verskaf

Sy het veral na die nuwe hoofstuk in haar en David se lewe uitgesien terwyl sy swanger was. 

“Dit is ’n hele nuwe fase vir my en David, ’n hoofstuk wat ons bladsy vir bladsy skryf en waarna ons albei uitsien. Dit is ook lekker om al die liefde en ondersteuning van ons familie, vriende en die publiek te ervaar, wat saam met ons na die koms van ons kleinding uitsien.”

En nou is hy hier en hy is gesond.

Nadia en David het ook kort voor die geboorte pragtige swangerskapfoto’s op Instagram gedeel. 

“Wonderlike swangerkapfotosessie saam met my pragtige vrou,” het David geskryf.

Die egpaar het dié pragtige foto’s deur RDK Photography met Sarie.com gedeel.