Nadia is tans swanger met haar en David se tweede kind, en vanweë die inperkingsregulasies kon die babatee nie soos oudergewoonte plaasvind nie.

Nadia, klein Davey en David. Foto: Facebook
Nadia, klein Davey en David. Foto: Facebook

Die paartjie se eersteling, Davey, is nou 19 maande oud. Hul tweede kind is ook 'n seun.

Die nuweling gaan Joshua heet, en die opgewonde mamma vertel dat hy in Junie gebore word. 

Die nuwe baba se naam gaan Joshua wees. Foto: Face
Die nuwe baba se naam gaan Joshua wees. Foto: Facebook

“Tensy die mannetjie besluit om vroeër te kom het ons nog ’n paar weke om te gaan,” sê sy. 
 

Foto: Facebook
Foto: Facebook

Nadia vertel sy het geen idee gehad het wat vir haar wag nie, aangesien sy die oggend van die babatee nie by die huis was nie. 

“Ek het vroeg die oggend ’n roetine-afspraak by die hospitaal gehad, so ek was nie tussen agtuur en negeuur tuis nie. 

“My man, ’n paar vriendinne en die span van Balloon Design Academy het in daardie tyd ’n area op ons sypaadjie prentjiemooi versier volgens die tema van ons babakamer en die gaste was genooi om tussen negeuur en elfuur verby te ry. 

“Toe ek by die huis aankom staan daar toe reeds ’n rits karre met vriendinne wat geskenkpakkies kom aflaai. Ek kon my oë nie glo nie! Dit was so ’n emosionele oomblik om na meer as 60 dae in lockdown van my beste vriende en familie te kon sien," vertel Nadia.

“Al was dit agter maskers op ’n afstand was dit steeds die grootste geskenk om die opwinding van ons swangerskap in hierdie tyd met almal te kon deel. Dit is ’n kosbare herinnering wat ek regtig vir altyd sal koester. Ek het so ongelooflik spesiaal en geliefd gevoel en die pragtigste geskenke gekry,” vertel sy oor die spesiale dag. 

Die versierings buite die huis. Foto: Facebook
Foto: Facebook
Foto: Facebook


Soos wat die gaste hul pakkies afgelaai het, is hulle “bederf” met ’n spuitjie handreiniger, ’n wegneemkolwyntjie, 'n sakkie “instant cappuccino” en ’n Steri Stumpie. 

Die gaste is met handreiniger gespuit na hulle hul
Die gaste is met handreiniger gespuit na hulle hul geskenkies afgelaai het. Foto: Facebook

“Ek dink dit is die naaste wat ons aan ’n tradisionele koek-en-teekuier sou kon kom in hierdie tyd en dis ’n oggend wat ek vir niks sou wou verruil nie,” voeg sy by. 

Nadia en haar gesin is baie opgewonde oor die feit dat baba nommer twee ook ’n seuntjie gaan wees. 

“Ek besef elke kind is anders, maar minstens het Davey ons nou al baie geleer van hoe om ’n seuntjie te hanteer en voel ek effens meer voorbereid as wat ek sou gevoel het met ’n dogtertjie," meen sy.

“Verder is dit ’n bonus dat ons al die blou kombersies, klere, speelgoed ensovoorts nou baie gemaklik weer kan gebruik vir Joshua, as Davey nie te veel gaan omgee om sy goedjies te deel nie natuurlik,” lag sy. 

Die kleinding se ouers het ook spesiale moeite gedoen met die keuse van sy naam. 

“Joshua is toevallig ’n naam wat beide ek en my man van hou, maar ons wou hom ook graag ’n familienaam gee en het besluit op Samuel, wat ook my pa (die sanger en akteur Rouel Beukes) se tweede naam is. Joshua Samuel de Villiers se betekenis is dus sentimenteel omdat dit die familie se erfenis dra, maar die Bybelse betekenis van beide die voorname is vir my net so spesiaal. Joshua beteken rofweg: God is die redding en Samuel: God het gehoor.”

En soos menige ander swanger vroue gedurende die coronavirus-pandemie, voel Nadia ook soms oorweldig. 

“Dit is vreemd om aan die een kant so opgewonde te wees oor die koms van ’n nuwe mensie en aan die anderkant so onseker en angstig oor wat die toekoms vir ons en daardie mensie gaan inhou. Party dae het ek ’n ongekende vrede in my hart oor alles en ander dae voel dit vir my of alles so deurmekaar is dat ek nie weet of ek kom of gaan nie. 

“Dit mag dalk ook hormone wees, maar ek vind rus in die wete dat Joshua ’n geskenk is van God en ten spyte van dit wat in die wêreld aan die gang is, bly nuwe lewe ’n wonderwerk en herinner hierdie swangerskap my opnuut aan God se goedheid en guns." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.