Nadia en haar man, die sakeman David de Villiers, het verlede Donderdag saam met Davey op hul eerste gesinsvakansie vertrek. Hul bestemming was Heroldsbaai in die Wes-Kaap en dit was ook die knapie se eerste strand-vakansie. 

“Dit was omtrent ’n avontuur om vir die eerste keer saam met hom te vlieg. Ons het letterlik geen idee gehad van hoe alles gaan verloop nie, maar ek en Dave was dankbaar en aangenaam verras deur hoe alles in plek geval het,” het sy aan Huisgenoot vertel. 

Nadia Beukes en haar klein Davey op die OR Tambo internasionale lughawe. Foto: verskaf

Die paartjie, wat gereeld saam vakansie hou, is opgewonde om nog baie vakansies saam met hul eersteling mee te maak. 

“Ons hoop dit was die eerste van vele vlugte saam met ons kleinding, want ek en Dave hou baie van reis en gelukkig lyk dit of Davey die liefde van ons deel.”

Maar net omdat hy nog ’n pap babatjie is, beteken nie hy was noodwendig ’n ligte reisiger nie. 

“Ons was verbaas oor hoeveel ’n mens vir die klein mannetjie moet pak, maar gelukkig kry hy ook 20 kg se bagasie ingesluit in sy vlugprys,” het sy vertel. 

Nadia, wat ’n nuwe ma is, het reeds ’n paar lesse geleer. 

Sy eerste keer op 'n vliegtuig! Nadia Beukes en klein Davey. Foto: verskaf

“Ek het ma’s gesien met oulike carriers waarin die baba gemaklik aan hul lyf gedra word en wat toelaat dat hul hande beskikbaar is. Vir ons volgende vlug sal ek beslis in so iets belê.”

En wat is haar wenke vir ouers wat met hul baba vlieg? “Gee jouself genoeg tyd om vooraf te pak, probeer om nie meer te pak as wat jy kan hanteer nie, maak seker al jou en jou baba se dokumente is in orde en binne bereik en wees betyds by die lughawe sodat jy nie onnodige spanning voor die vlug ervaar nie.”

Sy sê ook dit help as jy die baba aan 'n fopspeen laat suig wanneer die vliegtuig opstyg en weer land.  “Dit help om te verhoed dat sy oortjies pyn. Vir ons het dit ook goed gewerk om heel agter in die vliegtuig te sit sodat ons vinnig kan opspring wanneer ons ’n doek moet ruil, ek gemaklik kan borsvoed en dat die hele vliegtuig ons nie grootoog aankyk wanneer die baba dalk huil nie.”

Nadia, David en Davey op die strand in Heroldsbaai. Foto: verskaf
Klein Davey op ses weke. Foto: verskaf