Sy het saam met haar ma, Wilma Roberts, Uganda besoek en boaan hul Uganda-doenlys was 'n staptog om die reusagtige diere van nader te sien.

“Dit was die grootste voorreg om sulke wonderlike herinnerings saam met my ma te kon bou,” vertel Donnalee, wat pas teruggekeer het.

“So lank as wat ek kan onthou droom ek en my ma daarvan om op die spoor van gorillas te stap. Sy het vanjaar 60 geword en dit was my verjaardaggeskenk aan haar.”

Beautiful Uganda ?? #GorillasInTheMist

A post shared by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

Hulle het die Bwindi Impenetrable Nasionale Park in die suidwestelike deel van Uganda besoek en vier nagte in die Ichumbi Gorilla Lodge gebly.

Donnalee beskryf die omgewing as een van die mooiste plekke wat sy nog gesien het. Sy en haar ma het ook twee dae in Rwanda deurgebring. 

Die avontuurgevulde wegbreek kom kort voor die woelige paar maande wat vanjaar nog vir Donnalee voorlê. Op Vrouedag, 9 Augustus, is sy in die avontuurprent Stroomop te sien. 

Donnalee sê dit was wonderlik om tussen al die Stroomop-opwinding deur vir ’n oomblik te kon wegbreek “om net in die natuur te kon wees en tyd saam met my wonderlike ma en sulke majestueuse diere te kon deurbring”.

In Stroomop moet vyf vroue (letterlik en figuurlik) kop bo water hou wanneer hul avontuur op die Oranjerivier skeefloop. In hul stryd om oorlewing ontdek hulle vriendskap en innerlike krag. 

Donnalee se rolprent- en lewensmaat, Ivan Botha, maak met die rolprent sy debuut as regisseur. 

Die verloofde paartjie het reeds twee trefferflieks, Pad na Jou Hart en Vir Altyd, agter hul naam. Nou heers groot opwinding oor die volgende rolprent uit hul gesamentlike pen.