Hulle is waarskynlik die beroemdste span kinders op aarde.

Net waar die ses gewaar word, of dit nou op ’n Disneyland-rit of ’n lughawe Doer Onder is, weet mense wie hulle is. Die Jolie-Pitt-kroos voer ’n bevoorregte bestaan, maar ondanks hul ouers se status as die room van Hollywood word hulle byna normaal grootgemaak.

Angelina doen inkopies met Shiloh en Zahara. Foto: Instagram (angiejoliepittfans)

Of so normaal as wat jy kan kry in ’n wêreld waar jou woonplek ’n multimiljoendollar-herehuis is, wêreldwye reise alledaags en ’n draai op die rooitapyt kinderspeletjies is.

Maar vergelyk gerus Angelina Jolie (42) en Brad Pitt (54) se kinders met die kinders van ander glansmense.

Jy hoef nie ’n gedragskenner te wees om te sien Beyoncé en Jay-Z se dogter, Blue Ivy, is ’n vroegryp prinsessie nie.

Foto: Instagram (blueivy.carter)

Dink net aan daardie “kalmeer nou, ma en pa”-oomblik by die Grammys, die ontwerpersklere, die peperduur verjaardagpartytjie en die oordadige speelgoed.

Blue (6) is nou wel oulik, maar word tot in die afgrond bederf. En dan is daar Kim Kardashian se dogtertjie, North, wat ’n pophuis van sowat R1,2 miljoen en minstens 200 ontwerpersitems in haar klerekas het. En sy is vier jaar oud.

Kim Kardashian beskryf North hier as haar "klein dametjie". Foto: Instagram (kimkardashian)

Victoria en David Beckham doen dalk hul bes om ons te laat glo hul kinders is net so “doodgewoon” soos ons s’n, maar hul seun Romeo (15) het op 12 jaar oud vir die ontwerpershuis Burberry modelwerk gedoen.

Foto: Instagram (romeo_james_beckham_14)

En Cruz (12) het op 11 ’n Kersliedjie uitgereik. Teenoor dié klomp is die kroos van die voormalige Brangelina-paartjie plat-op-die-aarde.

Ontspanne klere en tuisgestileerde haarstyle

Die paparazzi het oortyd gewerk toe Maddox (16), Pax (14), Zahara (13), Shiloh (11) en die negejarige tweeling, Knox en Vivienne, onlangs by hul ma in Parys aansluit.

Angie was in die stad om ’n nuwe parfuumadvertensie vir Guerlain te verfilm. Wanneer sy nie vir haar kinders die besienswaardighede gaan wys het nie, het hulle saam met hul lyfwag rondbeweeg.

En elke keer dat hulle op ’n uitstappie of by ’n museum gewaar is, was hulle in gemaklike jasse, kappietops, kamo-broeke en jeans geklee. Die hoogmode van peperduur boetieks is nie vir dié klomp nie.

“Angelina is besonder bewus daarvan dat haar kinders baie bevoorreg is en soveel het terwyl daar soveel lyding in die wêreld is,” sê ’n bron. En dit beteken sy wil nie met haar fortuin van meer as R2 biljoen spog wanneer sy vir die kinders klere koop nie. Sy is ook prakties.

“Angelina glo nie in baie geld bestee aan kinderklere wat hulle in elk geval net ’n kort tydjie gaan dra nie,” vertel ’n bron aan die vrouewebtuiste Mamamia.

“Sy probeer soveel moontlik kry uit elke item wat sy koop. Die klere is meestal in neutrale kleure en in verskeie groottes. Dis hoekom jy vir Shiloh in Zahara se T-hemde sal sien of vir Vivienne wat haar tweelingbroer se broek dra.” Hul haarstyle is ook doodgewoon, of ten minste die jongstes s’n.

Shi (soos Angelina haar noem) word deur talle as die perfekte kombinasie van haar ma en haar pa, Brad Pitt, beskryf. Foto: Instagram (joliepittsofficial)

Maddox en Pax is in hul tienerjare en lyk deesdae baie byderwets, maar die jonger kinders is nog effens onafgerond. Shiloh se kort haarstyl is oulik, maar staan soms in alle rigtings, en Vivienne het ’n bob wat lyk of haar ma dit dalk in die kombuis geknip het.

Foto: Van agter is Knox, Vivienne, Zahara en Shiloh in die Tuileries-tuin.

Ware weldoeners

Voor hulle Parys toe is, het Zahara en Shiloh saam met hul ma ’n vlugtelingkamp in Jordanië besoek.

Angelina sê haar dogters het “gevra om Siriërs te ontmoet wat ontwortel is in hul land se voortslepende burgeroorlog”, het die Verenigde Nasies (VN) se hoëkommissaris vir vlugtelinge gesê.

Angelina het ook vir Zahara en Shiloh in Januarie 2018 saangeneem na die Zataari-vlugtelingkamp in Jordanië. Foto: Instagram ( joliepittsofficial)

Angelina het agterna gesê die meisies het “met die kinders van hul ouderdom gesels en gespeel, kinders wat uit hul huise gedwing is en wie se familielede vermoor is of verdwyn het.

“Maar op die ou end is hulle net kinders met dieselfde drome en regte as kinders in enige ander nasie.” Angelina probeer om haar kroos soveel moontlik by haar werk vir die VN te betrek.

“Hulle moet weet wat in die wêreld aangaan. En noudat hulle weet, wil hulle soveel help as wat hulle kan.” Sy het in die jongste uitgawe van die tydskrif Elle benadruk hoe belangrik dit vir haar is om haar kinders te leer om terug te gee.

Oor Zahara, Shiloh en Vivienne sê sy: “Ek sê vir my dogters: ‘Wat jou laat uitstaan, is wat jy bereid is om vir ander mense te doen. Enigeen kan immers ’n rok en grimering dra. Dis jou verstand wat jou sal definieer.’ ”

Rof en woelig

Krapmerke, kneusplekke en selfs gebreekte bene is alles deel van grootword, en dié klomp het al ’n goeie skeut daarvan gehad.

Shiloh is onlangs met ’n hangverband aan haar linkerarm gewaar. Sy het haar sleutelbeen in Desember gebreek toe sy saam met haar ma en sibbes op die Tahoe-meer op die grens van Kalifornië en Nevada sneeuplank gery het.

“Angie en die kinders was met vakansie toe Shi val,” het ’n bron aan Entertainment Tonight vertel.

“Angelina is baie dankbaar vir al die hulp wat sy van die nooddienswerkers ontvang het en Shiloh herstel goed.” Twee jaar tevore het Pax sy been tydens ’n gesinsvakansie in Phoeket, Thailand, gebreek.

Hy was weke lank op krukke. Dit was ’n aksiebelaaide vakansie waartydens die gesin op waterponies baljaar en van seiljagte in die see gespring het.

“Die kinders vat kanse, soos alle kinders maar doen,” sê ’n familiebron.

“Angie en Brad het hul kinders nog nooit in watte toegedraai nie; dus kry hulle tog af en toe seer.”

Hulle is oulik met mekaar

Angelina sê haar kinders het geleer om “mekaar te help”, wat “my lewe baie makliker maak.

“Die ouer klomp help die jongeres om vir reise te pak,” het sy verlede jaar by die Toronto- Internasionale Rolprentfees gesê. “Hulle is heel bedrewe.”

En toe Angie in Desember deur die VN se korrespondentevereniging met die Global Citizen of the Year-prys vereer is, het haar kinders saamgekom om in haar glorie te deel.

Angelina is 'n uitgesproke en toegewyde aktivis wat toestande vir vlugtelinge probeer verbeter. Dié foto is op 24 April 2015 geneem terwyl sy die Verenigde Nasies oor die situasie in die Midde-Oose en Sirië ingelig het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Almal behalwe Maddox en Vivienne. Hoekom? Klein Viv het ’n seer magie gehad en “ouboet Maddox het by haar gebly” om haar op te pas, het ’n bron aan die tydskrif People gesê.

Dan is daar Zahara en Shiloh. “Hulle is beste maats,” sê nog ’n bron. “Hulle was nog altyd. Zahara is ongelooflik snaaks en Shiloh hou daarvan.”

Skool is tuis

Die ses kinders word tuis onderrig in die herehuis van R288 miljoen in Los Feliz, Kalifornië, wat hul ma ná die skeiding van hul pa gekoop het.

’n Span onderwysers is aangestel om die werk te doen. “Hulle leer almal die basiese vaardighede soos lees en somme maak, maar kry ook musieklesse en leer ’n verskeidenheid musiekinstrumente speel,” berig die Daily Mail.

Foto: Instagram (kelebeck_love)

Angie het ’n ruk gelede aan die BBC gesê haar kinders leer almal verskillende tale.

“Shi leer Khmer, die Kambodjaanse taal, Pax fokus op Viëtnamees, Mad verkies Duits en Russies, Z praat Frans, Vivienne wou Arabies leer en Knox leer gebaretaal.”

“Die kinders is baie aktief,” vertel ’n bron aan People.

“Hulle hou van sokker en skaatsplankry en neem selfverdedigingsklasse.”

By ’n vertoning van Angie se fliek First They Killed My Father in Desember het sy erken sy was “gepla met hoe min ek op skool geleer is. Ek bekommer my oor my kinders se opvoeding.

“Ek laat hulle deels tuis onderrig omdat hulle van oor die wêreld is en ek nie wou hê hulle moes dieselfde opvoeding kry as wat ek gehad het wat Viëtnam en Kambodja betref nie.”

Dit gaan goed met die kinders, sê ’n bron in die familie, en Angelina is “heeltemal toegewy aan hulle. “Sy is besig met haar eie dinge en is ’n superma vir haar kinders.”

Bronne: Sunday Telegraph, Daily Mail, Entertainment Tonight, eonline, People, Allure
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Pan Media/Best Image, Great Stock/Splash News